Ek wonder darem hoekom Tomas nie by die ander dissipels was toe die Here die eerste Sondag aan hulle verskyn het nie. Sou hy by voorbaat al besluit het alles is verby omdat Jesus dood is? Dat alles wat hulle saam met Jesus beleef het, wonderlik was, maar dat die lewe aangaan en hulle nou moet ophou met dié bende-speel-besigheid?
Ons sal nooit weet nie. Al wat ons weet, is dat hy nie by was toe Jesus sy dissipels kom opsoek het nie. En hy glo nie sy mede-dissipels toe hulle hom sê dat hulle die Here gesien het nie. Hoor wat sê hy vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Klink dit nie baie bekend nie? Hierdie eis dat ons eers God se werke moet bewys voordat mense bereid sal wees om te glo? Want Tomas wil niks weet van glo nie. Die feite is tog onomstootlik. Hy weier om te aanvaar dat iets die waarheid kan wees as dit nie ooreenstem met sy logiese denke nie; as hy dit nie wetenskaplik kan verifieer nie.
Ons hoor vandag dikwels sulke stemme opgaan, moderne Tomasse wat net aanvaar wat hulle kan sien of kan bewys. Soos wyle min Pik Botha wat gesê het daar is niks meer as hierdie lewe nie. As jy dood is, is jy dood, net soos ’n hond. En daar is ander wat ook soos hy dink, veral oor Jesus se opstanding uit die dood. Hulle sê reguit dat dit die één belydenis van die Bybel is waarmee hulle veral groot probleme het, want nêrens in die mediese wetenskap was daar al ooit ’n geval waar so-iets gebeur het nie. Dood is dood.
Dis wat Tomas ook sê. Jesus is dood. Hy het dit met sy eie oë gesien. Hy het gestaan en kyk hoe die soldate ’n spies in Jesus se sy druk, en toe loop daar water en bloed uit. Dis tog duidelik: Jesus is dood. Ons het Hom Vrydag begrawe in Josef van Arimatea se graf. So moenie vir my kom sê dit is nie so nie. Ek weet wat ek weet en wat ek gesien het.
En wat doen Jesus dan? Interessant dat Jesus nie vir hom gaan opsoek waar hy op sy eie was nie, nie waar nie? Jesus wag totdat hy weer by die ander is voordat Hy met hom praat. Laat mens nogal wonder oor die mense wat sê hulle kan die Here baie beter in die natuur of waar ook al dien as hier waar Jesus se dissipels bymekaar is. Want dis hier waar Hy ons wil ontmoet! Hier, in die gemeenskap van die gelowiges. En daarom twyfel ek of moderne Tomasse ooit tot rus sal kom, want hulle is nie by waar Jesus met sy kerk besig is nie. Hulle staan buite en wys die vinger.
In elk geval, toe Jesus weer na die dissipels kom en Tomas hierdie keer by is, draai Hy Hom dadelik na Tomas toe. Ek vermoed ’n paar van die ander het seker gedink: “Nou gaan Jesus hom lekker sê. Hy wou mos!” Maar dit gebeur nie. Jesus het deernis met Tomas se vrae. Hy nooi Tomas om self te kom seker maak dat dit regtig Hy is, as dit dan nodig is voordat hy oortuig sal wees.
Die merkwaardige is dat Tomas dit nie doen nie. Skielik, in Jesus se teenwoordigheid, het hy nie meer bewyse nodig nie. Hy val net daar voor Jesus neer en prewel biddend: “My Here en my God!”
Tomas twyfel – totdat hy die lewende Here Jesus persoonlik ontmoet. Voor dit gebeur het, het hy nie besef waarom dit gaan nie, maar as hy die Here Jesus as ’n lewende Christus ontmoet, verdwyn alle twyfel uit sy hart, verdwyn alle vrae en skeptisisme. In die teenwoordigheid van die lewende God is daar nie plek vir twyfel nie, maar net vir ’n lewende en ware geloof.
Miskien is daar iemand vanoggend hier in die kerk wat ook sukkel om te glo. Wat dink dis alles te goed om waar te wees. Dan moet jy vanoggend die evangeliewoord hoor: Christus begryp dit, en Hy verstaan jou ongeloof en twyfel, en Hy wil ook vir jou, soos vir Tomas, help en tot ’n nuwe geloof bring, selfs al is dit vir jou moeilik om te glo en te aanvaar dat Hy leef. So moenie skaam wees daaroor nie. Die Here Jesus verstaan jou!
Die probleem met Tomas en sy geesgenote is dat hulle ’n benadering het van “sien is glo”. Maar dis nie Bybelse geloof nie. Bybelse geloof, sê Jesus hier vir Tomas, berus juis nie op sien nie. “Gelukkig is dié wat nie gesien het nie, en tog glo,” sê Hy in vers 29. In Heb 11:1 staan dit só: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Want Bybelse geloof is nie om oortuig te wees deur onomstootlike feite nie, maar om oorrompel te word deur die Persoon van Jesus Christus. Om Hóm te glo, omdat jy Hom vertrou, omdat jy aanvaar dat Hy God is, en daarom méér is as wat ons kan sien en kan bewys. Hy is God, nie gebonde aan ons menslike moontlikhede en bewysbaarhede nie.
Daarom druk Tomas nie sy vinger in Jesus se littekens nie, maar val hy in aanbidding voor Hom neer.
Liewe gemeente, ons kan nie mense daartoe bring om te glo nie. Dit is net die Here wat dit kan laat gebeur. Ander mense sal jou ook nie oortuig om te glo nie. Tomas is nie deur sy vriende se verhale oortuig nie. Hy glo eers toe hy die Here self ontmoet.
Prof Willie Jonker het gesê as jy nog nooit getwyfel het oor God en oor of alles regtig waar is nie, het jy nog nooit goed oor God en jouself gedink nie. Twyfel kom van tyd tot tyd oor ons almal. Dit is die aard van geloof.
My dogter het oor haar eie geloofsworstelinge dit so mooi verwoord. Sy sê sy het nog altyd geglo dat die Here anderkant haar twyfel vir haar wag. Soos Hy vir Tomas gewag het; ’n hele week gewag het. Ek glo dit was vir Tomas ’n lang wag.
Ek dink die probleem wat baie mense met geloof ervaar, is dat hulle op die verkeerde plekke na sekerheid gaan soek. Hulle soek dit in bewyse, soos Tomas. In die wetenskap. En dit bring op die ou end nie rus nie. Net God kan dit gee. Hoe het Augustinus gesê? ’n Mens se hart bly onrustig totdat dit rus vind in God. Jesus nooi in Matt 11:28: “Kom na My toe, en Ek sal julle rus gee.” In Jer 29:13-14 belowe God (2020-vertaling): “Julle sal My soek en vind as julle My met julle hele hart raadpleeg. Ek sal My deur julle laat vind.”
So, as jy sukkel om te glo, moenie moedeloos word nie, of besluit dis sommer alles nonsens nie. Wag op die Here. Bly soek na Hom. Hy wag vir jou anderkant jou twyfel en onsekerheid. Hy sál jou rus gee.
Naskrif: Iemand het my vanoggend laat weet dat my opmerking oor oud-min Pik Botha verouderd is. Hy het (minstens) die laaste 8 jaar van sy lewe ’n pad met die Here gestap. Hoe wonderlik is die Here nie!
Ek vra verskoning dat ek die nagedagtenis van ’n groot man oneer aangedoen het.
Views: 200