Die toonaard waarmee die erediens begin, is normaalweg een van diepe verwondering oor die voorreg dat die gemeente in God se teenwoordigheid mag wees. Vandaar die lof- en aanbiddingsliedere. Maar in God se teenwoordigheid gebeur daar meer met aanbidders: in die lig van God se heiligheid raak ons bewus van ons eie nietigheid en sondigheid, ons onwaardigheid om voor Hom te durf verskyn.

Hierin wil die liturgie ons help deur die element van verootmoediging, skuldbelydenis en vryspraak. Dit kan op meer as een manier gebeur. Die liturg kan byvoorbeeld ’n gedeelte uit die Bybel voorlees waarin ons sondigheid belig word, soos Psalm 51. Aangesien dit een van die funksies van die wet van die Here is dat dit die kenbron van sonde is, is die lees van die wet hier ’n logiese keuse vir die liturg. Die tien gebooie (Eksodus 20 of Deuteronomium 5) of die Here Jesus se samevatting van die wet (Matteus 22:34-40 e.a.) word dikwels gebruik, of ander Skrifgedeeltes waar aspekte van die wet hanteer word, soos Miga 6:6-9, Romeine 12:9-12 ens. (Die wet kan natuurlik ook op ’n ander plek in die liturgie ingespan word, soos byvoorbeeld ná die preek, waar dit dan as ’n riglyn vir ’n lewe van dankbaarheid gebruik word.)

Wanneer die aanbidders herinner word aan God se wil vir hulle lewens, ontdek hulle opnuut waar hulle tekort skiet. Daarom volg skuldbelydenis as ’t ware vanself op die aanhoor van God se wil. Die liturg skep hiervoor ruimte deur tyd te gee vir besinning en stilgebed, of deur ’n responsoriese gebed, of deur ’n gepaste lied van skuldbelydenis te laat sing.

Hierop verkondig die liturg die vryspraak van sonde. Dit is immers die hart van die evangelie: dat God Hom ontferm oor die sondaar en dat Hy hulle wat na Hom kom, nooit verwerp nie. Dikwels word ’n loflied oor die vergifnis hier ingevoeg sodat die gemeente God kan dank vir sy vergifnis.

In ons moderne samelewing vlug mense vir die idee van sonde en skuld. Daar is soveel klem op eiewaarde en selfbeeld en politieke korrektheid dat dit nie meer ’n gewilde ding is om met jou eie sondigheid gekonfronteer te word nie. Dit lei daartoe dat menige aanbidder verleë is oor hierdie liturgiese element. Wat is daar nou eintlik om te bely? Waarvoor moet ons jammer sê? Hoekom is dit hoegenaamd nodig? Baie liturge laat gevolglik hierdie element heeltemal weg uit hulle erediens, en dra só (onbewustelik?) by tot die moderne tendens van ’n oppervlakkige goedvoel-geloof. Soos iemand die moderne verstaan van die wet opgesom het: Daar is nou ’n elfde gebod wat die ander tien vervang: You must be nice to people.

Myns insiens behoort die liturg in ons tyd juis baie moeite met hierdie liturgiese element te doen, sodat die aanbidders dit nie ervaar as ’n oppervlakkige aframmel van ’n paar woorde sodat daar by die preek uitgekom kan word nie, maar as ’n diep geestelike moment. ’n Paar woorde van verduideliking oor waaroor boetedoening nodig is, of ’n uitbreiding op ’n bepaalde aspek van die wet, kan baie help om hierdie noodsaaklike deel van die liturgie sinvol te maak.

Die verootmoediging en vryspraak kan ook na die einde van die erediens geskuif word, veral in gevalle waar die preek oor sonde handel. Dit is immers die gemeente se reaksie op God se spreke.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.