Die geloofsbelydenis (Credo) as uitdrukking van wat die gemeente bely, is al vir baie jare deel van die tradisionele liturgie van die erediens. Reeds in die 5de eeu n.C. het die Oosters Ortodokse Kerk dit in die liturgie opgeneem, en in die Weste teen 800 n.C. Die moderne neiging dat die geloofsbelydenis dikwels nie in die erediens ’n plek kry nie, is m.i. ’n hartseer ontwikkeling.

In my jongdae het die liturg die geloofsbelydenis gelees en die gemeente het staande instemmend geluister. Later het die gebruik posgevat dat die hele gemeente dit gesamentlik hardop saamsê. Dit is immers nie (net) ’n persoonlike belydenis van die aanbidder nie, maar die belydenis van die gemeente as geloofsgemeenskap. Dis besonder geloofsversterkend om te hoor hoe jou geliefdes en kennisse saam met jou die belydenis sê, en saam met jou bely dat hulle glo.

Die geloofsbelydenis is nie ’n gebed nie; daarom word dit met die oë oop gedoen.

Tradisioneel is daar in die gereformeerde kerke 3 belydenisse wat in die erediens gebruik word: die Twaalf Artikels of Apostoliese Geloofsbelydenis, die Belydenis van Nicéa, en die Belydenis van Athanasius. Dit is ekumeniese belydenisse wat deur alle kerke oor die wêreld heen aanvaar en gebruik word. Daardeur verbind die gemeente haar met die wêreldwye geloofsgemeenskap. Ander vorme van belydenis kan ook gebruik word, soos ’n Skriflesing (bv Fil 2:6-11 of Kol 1:15-20) of ’n lied, of dit kan responsories gedoen word.

Die plek waar die belydenis in die liturgie inpas, is nie vas nie. Dit kan aan die begin van die erediens wees, as deel van die toetrede tot die diens en aanbidding. Dit kan ná die skuldbelydenis wees, of as antwoord op die prediking. Dit is ook baie gepas om dit by die doop te doen, en vorm ’n vaste deel van die nagmaalsliturgie.

Dis belangrik dat die plek en wyse van die belydenis in die liturgie afgewissel word, anders word die belydenis net ’n item wat (onnadenkend) afgerammel word.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.