Die Skriflesing as deel van die erediens is so oud soos die kerk self; trouens, dis ouer as die Christelike erediens. In die (Joodse) sinagogediens het die voorlees uit die wet en die profete, met die interpretasie daarvan, sentraal gestaan. Ons het ’n goeie voorbeeld hiervan uit die verhaal van Jesus se optrede in Nasaret (Luk 4:14 e.v.).
Aanvanklik, in die vroeë kerk, was die kern van die erediens die oorvertel van verhale oor Jesus deur ooggetuies. Later is dit opgeteken in die Evangelies, en het die briewe van Paulus en ander apostels en ander boeke bygekom, en kon dit as Skriflesing gebruik word.
Vroeg al het verskillende leesroosters ontstaan wat bepaal het watter gedeeltes wanneer gelees word. Dié roosters is in die negende eeu gestandaardiseer. Sedert die Reformasie is daar in Protestantse kerke minder van ’n voorgeskrewe leesrooster gebruik gemaak. ’n Vrye tekskeuse, of opeenvolgende Skrifgedeeltes (lectio continua), is eerder gebruik. Oor die laaste paar dekades het daar egter ’n herwaardering van die kerklike jaar gekom, en daarmee saam ’n groter waardering vir die gebruik van ’n leesrooster. Die mees algemene leesrooster is die Revised Common Lectionary, wat vier Skriflesings (uit die Ou Testament, die Psalms, die NT briewe en die Evangelies) aangee.
Ons bely met Sola Scriptura die belangrike plek van die Skrif in ons geloof. Dit behoort ook in die erediens uitdrukking te kry. Daarom moet daar moeite gedoen word met die Skriflesing, en dit behoort nie gereduseer te word tot ’n teksvers as inleiding vir die preek nie. ’n Opmerking soos dat die Skriflesing vandag gelukkig kort is, skep werklik nie die indruk van die prediker se erns met die Woord nie! Die Skriflesing kan deur die liturg gedoen word, of deur ’n lidmaat wat die gawe van voorlees het.
In party kerke word die Bybel voor die Skriflesing plegtig ingebring en aan die liturg oorhandig. Tydens dié seremonie staan die gemeente, en kan ook ’n gepaste lied gesing word. ’n Ander gebruik is dat die gemeente ná die Skriflesing een van die Halleluja’s sing.
Die moderne gebruik om die Skriflesing met die dataprojekter op die skerm te vertoon, is m.i. nie aan te beveel nie. Veel eerder moet gemeentelede aangemoedig word om hulle Bybel kerk toe saam te bring en die Skriflesing in hulle eie Bybel te volg. Hulle kan sodoende ook tydens die preek weer na die teksgedeelte kyk.
Hoe het Psalm 119:11 dit uitgedruk? “In my hart koester ek u woord, sodat ek nie teen U sondig nie.”