’n Velletjie op die kussing van my regterduim pla my die laaste ruk. Ek het my met stoom ’n blaas gebrand, en nou dop die velletjie af. Dit maak ’n skurfheid op my duim waaraan ek nie gewoond is nie, en as ek my weer kom kry, vryf ek met my wysvinger daaroor.
Die bokant van my duim het ook ’n verhaal om te vertel. Een of ander genetiese foutjie maak dat my duimnaels nie mooi reguit uitgroei soos ander mense s’n nie. My oupa se duime was ook so, en my een dogter s’n ook, maar gelukkig in ’n veel mindere mate as myne. Die nael is vol riwwe en groewe en het ’n moot reg in die middel af. Soms raak die moot so diep dat dit pynlik is. Dit lyk nogal lelik. Ek wonder altyd wat die doopouers dink van dié aaklige duimnael as ek hulle dierbare ou babatjie doop, en dan wens ek ek kon my duime wegsteek.
Op die kop van my duim is daar weer ’n litteken van die keer toe ek dit met ’n sirkelsaag raakgesaag het. Dit was nogal erg, en het die voorkoms van my duim onherroeplik verander.
Kortom, my duim het ’n taamlike storie om te vertel; ’n storie wat geen ander duim in die ganse wye wêreld presies net so kan vertel nie. Iets van my herkoms, én iets van my lewe tot nou toe. As ek sou moes kies tussen my duim en enige ander een wat perfek en ongeskonde is, sou ek weer hierdie duim kies, want dis mý duim. Dit vertel mý verhaal. Dis deel van wie ek is.
Ons lewens vertoon ook die merktekens van ons pad tot hiertoe. Daar is letsels en littekens; daar is familietrekke en eienaardighede, daar is ou merke wat ons herinner aan die seerkrye van lank gelede, en nuwe wonde wat dalk nog pynlik is, of gevoelig. Iemand wat daarsonder is, het waarskynlik nie juis geleef nie.
So, die vraag is nie hoe ’n mens moet leef om sonder merke anderkant uit te kom nie. Die vraag is of jy daarin slaag om die houe wat die lewe jou gegee het, te absorbeer en dit deel te maak van wie jy is. Daarom kon Paulus hom selfs op sy swakhede beroem (2 Kor 12:9-10). Want dit het van hom die bruikbare dienaar van die Here Jesus gemaak.