‘n Korterige drama
Geluide van kosmaak. ’n Deur gaan oop en iemand kom fluit-fluit nader.
Saffira: En as jy nou so vrolik fluit, ou man?
Ananias: Nee kyk, ek het darem ’n lekker vet slag geslaan met daardie lappie grond wat ons verlede jaar aangeskaf het.
Saffira: Het jy dit toe verkoop gekry?
Ananias: En hoe! Ek het gewéét dis ’n goeie kopie toe ek dit verlede jaar aangeskaf het. Het ek dit nie toe al vir jou gesê nie?
Saffira: (met ’n goedige lag in haar stem) Jy het, ja. Meer as een keer, as ek reg onthou.
Ananias: (trots) Ek het die helfte meer gekry as wat ek daarvoor betaal het.
die geklingel van geld in ’n geldsak klink op, en die geluid van ’n kospot wat neergesit word
Saffira: Kom hier dat ek jou kan gelukwens. (’n klapsoen) Geluk, my man. Jy is darem maar knap met geld, weet jy dit?
Ananias: Ja, ek weet, en nou sal die hele gemeente ook weet. Ek sien al die manne se gesigte as ek die geld vir Petrus gee – dis amper dubbeld soveel as wat ou Barnabas vir sy grond gekry het, en daaroor het die klomp amper ’n toeval gekry, so opgewonde was hulle.
Saffira: Gaan jy álles vir Petrus gee?
Ananias: Dis wat ek gedink het, ja.
Saffira: Maar …
Ananias: Wat is dit?
Saffira: Toemaar, dis nie belangrik nie.
Ananias: Sê maar?
Saffira: Nee, ek het net gedink ek kan dalk vir my ‘n nuwe weefstoel gaan koop met die wins wat jy gemaak het. Die een wat ek het, is juis so gedaan. En ek het gister so ‘n mooi armband by ou Gersom gesien wat ek baie graag wil hê. Ek het gedink ons kan ‘n bietjie van die wins vat, noudat jy so ‘n goeie prys gekry het. Maar as jy alles vir Petrus wil gee, is dit seker maar reg so.
Ananias: Maar hoekom nie? Selfs al koop ons die weefstoel én die armband, sal hier nog heelwat meer oor wees as wat Barnabas gebring het.
Saffira: Ja, en jy kan mos maar sê ons het ‘n deel van die geld vir onsself teruggehou. Dis mos ons geld, of hoe?
Ananias: (aarselend) Dit is so, ja, maar dit sal darem net soveel beter klink as ek die geld voor die apostels se voete sit en sê: ‘Ek het my grond verkoop, en hier is die geld, vir die armes,’ jy weet, soos Barnabas gedoen het. En dan draai ek ewe nonchalant om en gaan sit weer op my plek.
Saffira: Maar hoekom kan jy dit nie nog altyd sê nie, my man? Dit Ãs mos geld van die grond wat jy verkoop het. Dis nie ‘n leuen nie. Hulle hoef nie te weet dis nie die volle bedrag nie.
Ananias: (gretig) Dink jy so?
Saffira: Ek dink so, ja. En ek dink jy moet tot Sondag wag voordat jy dit vat, want dan sal almal daar wees.
Ananias: Dis ‘n goeie idee. Ons vat dit Sondag.
Saffira: Nee, nie ons nie. Jý. Ek sal wag tot later die dag voordat ek my opwagting maak, anders lyk dit so asof ek saamgaan om geprys te word. Vat jy die geld, en dan, as ek later daar aankom en die apostels vir my ook bedank, dan kry ons van voor af weer al die aandag.