Here God

Ons aanbid U vanoggend in die stilte van u huis. Saam met die psalm wil ons vanoggend vir U kom loof omdat ons ook rus vind by u altare, Here, Almagtige, ons Koning en ons God! Een dag in u huis is vir ons beter as duisend daarbuite. Ons wil liewer by die drumpel van u huis staan, Here, as om te woon in huise sonder U.

O Here, wees ons genadig!

Daar is so baie dinge in die wêreld wat ons nie verstaan nie, Here, en wat ons anders sou wou gehad het. Maar ons het nou rus gevind in u teenwoordigheid, want ons wil ons nie besorg maak oor groot dinge wat bo ons vermoë is nie. Ons het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy ma tevredenheid gevind het, so het ons tevredenheid gevind, hier in u teenwoordigheid.

O Here, ontferm U tog oor ons!

Here God, soos ’n kindjie by sy ma kla oor dinge wat hom pla en ontstel, so wil ons vanoggend voor U kom staan met ons nood. Ons bid vir almal in ons gebroke wêreld wat U troostende, seënende teenwoordigheid so nodig het: hulle wat oud en swak geword het; hulle wat eensaam is en niemand het nie; hulle vir wie die lewe en sy swaar te veel geraak het; hulle wat in hulle liggame die kloue van ons stukkende wêreld elke dag beleef, en moet stry teen siekte en die aftakeling van die liggaam wat dit meebring; hulle wat hartseer is omdat ’n geliefde nie meer daar is nie; hulle wat vasgevang is in ’n ongelukkige huwelik; hulle wat werkloos is.

O Here, skenk hulle u barmhartigheid!

Ons bid ook vanoggend vir die verkondiging van die evangelie oor die ganse wêreld heen – hier plaaslik, maar ook in veraf sendingvelde. Ons bid vir hulle wat die goeie boodskap wat vrede bring. Wil U tog gee dat hulle voetstappe lieflik sal opklink in die ore van die mense onder wie hulle werk.

Wil U dan nou, Almagtige God, wanneer ook óns na u Woord luister, Self aan die woord kom, en ons geestesoë só verhelder dat ons kan weet watter hoop u roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat U vir ons bestem het, en hoe geweldig groot u krag is wat U uitoefen in ons wat glo. As ons daaraan dink, Here, dat dit is dieselfde kragtige werking van u mag is wat U uitgeoefen het toe U Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan U regterhand laat sit het, raak ons opgewonde oor hoe U deur ons in die wêreld kan heers.

Rus ons dan vanoggend toe, o Here, deur u Woord en u Gees.
O Here, wees ons genadig!

Amen.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.