In die tradisionele erediens is daar veral twee groot gebede – die gebed by die lees van die Bybel, en die gebed ná die preek. Meestal, in die tradisie waarin ek staan, doen die predikant dit (die sg. kanselgebede) self, maar dit kan ook heel sinvol deur iemand anders gedoen word wat ’n besondere gawe het om te kan bid. Soms kan stilgebed ook gebruik word.

Omdat sing ’n vorm van bid is, kan ’n lied goedskiks die gebed vervang of aanvul. Martin Luther het tereg gesê dat hy wat sing, twee maal bid. Die voordeel van ’n gesonge gebed is dat die gemeente aktief daarby betrokke is.

Die kanselgebed is nie ’n persoonlike gebed nie. Dit is ’n roep tot God namens die gemeente, vir die gemeente. Daarom is dit beslis nie vermorste tyd om dié gebede voor te berei nie. Die eerste gebed het veral twee komponente: die aanroep van God, en die gebed om die Here se spreke in en deur die Bybel en prediking. In die aanroep van God word sy lof en majesteit geëer, sy almag, sy koningskap, sy onderhouding van die heelal, sy aktiewe betrokkenheid in die lidmaat en gemeente se doen en late. En natuurlik die werk van sy inwonende Gees in elkeen wat deel van die erediens is. Dis ’n afhanklikheidstelling namens die predikant wat die Woord moet verkondig, én namens die gemeente wat die Woord moet ontvang.

Die gebed ná die prediking is allereers ’n antwoord namens die gemeente op God se Woord; ’n erkenning dat Hy gepraat het, en die gemeente gehoor het. Dis ’n verklaring van bereidheid om te reageer op God se boodskap soos dit in die preek uitgespel is. Daarby is dit ook die regte plek vir voorbidding. Dit is voorbidding vir die werksaamhede van die gemeente en die kerk in die breë, vir die owerhede en hulle in gesagsposisies, en ook voorbidding vir gemeentelede en ander in nood.

Ek onthou dat een van die predikante in my hoërskooldae geneig was om baie lank te bid. Vir my wat die hele tyd met toe oë moes staan tydens dié ellelange gebed het dit allermins gestig, want ek moes konsentreer om nie om te val nie, en ek onthou hoe ek die hele tyd gewens het die dominee wil nou “amen” sê. Allermins stigtelik vir my. Maar, ek gee toe, ek was ’n jong tiener. Dalk sou ek nou meer waardering daarvoor gehad het.

Min dinge in die erediens kan my soveel stig as ’n goed deurdagte, innige gebed wat uit die hart van ’n deurleefde gelowige kom. Dis ’n heilige oomblik waarvan die liturg met ontsag gebruik moet maak.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.