Twaalfuur. Die son is weg, sommer so skielik, soos ’n lamp wat uitgedoof is. Dis donker. Verstikkend donker. Dis of alles stil geraak het. Daar trek nie ’n luggie nie.
Jesus hang aan die kruis. Dit voel of sy arms uit hulle potjies wil skeur. Die geringste beweging laat die bene in sy voorarms kraak soos dit teen die ysterpenne skaaf. Sy skouerblaaie druk teen mekaar van die hang, sodat dit moeilik is om asem te haal. Die wonde wat die gésel gelaat het, klop pynlik oor sy bors en rug.
Maar dit alles is niks. Dit is deel van sterwe.
Veel erger is die angs in Jesus se hart. Hy is in die hel: die hel van sonde. Die sonde van die ganse wêreld, van die skepping af tot by die voleinding, kom op Hom neer, druk Hom plat, walg Hom, wurg Hom, verstik Hom, suig Hom af, af, af.
Dis die wil van die Vader.
“Eli?” My God?
“Eli?”
“Eli!!!”
Maar God antwoord nie; Hy is weg. Dít is die heel swaarste: dat Hy daar moet hang, en sy Vader is weg. Hy het gevlug voor die stank van die sonde. Hy het sy Seun, sy enigste Seun, wat Hy liefhet, geoffer op die altaar van Golgota, en padgegee.
***
Teen drie-uur die middag wyk die duisternis. Die son skyn weer, skielik, asof dit weer aangesteek is.
Jesus kyk op na die blou hemel, en roep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”
Maria stap na een van die soldate. “Meneer, kan julle nie vir Hom ’n bietjie water gee nie? Hoor net hoe rasper sy stem. Sy keel is kurkdroog.”
“Ja, ou vrou, as dit jou gelukkig sal maak,” sug die soldaat, en vat ’n spons vol suur wyn en druk dit teen Jesus se lippe. “Dè, drink!”
Jesus kyk dankbaar na sy ma vir hierdie laaste liefdesdaad, en sê dan met ’n sug: “Dit is volbring.” Toe kyk Hy op en roep hard: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!”
Sy kop sak op sy bors, en saggies, so saggies, blaas Hy die laaste asem uit.
Die Lam van God is dood.
Uit my boek God se storie/Die Bybelroman
Views: 14