“En toe, ‘Seun van God’! Jy verbeel Jou mos Jy kan die mense kom red. Wat sê jy nou?” koggel Lucifer. Toe Jesus nie antwoord nie, spot hy voort: “Hoe voel dit om die koning van die Jode te wees, hè?”

Dit is net na twaalf-uur in die middag, en dit het donker geword in Jerusalem: ’n swart, verstikkende duisternis. Die paar mense wat by die gekruisigdes op Golgota waak, is stil, half verlig dat die vreemde duisternis die lyding van die sterwendes tydelik vir hulle verberg.

Dit is in dié duisternis dat Lucifer sy kans waarneem. “Sien Jy nou self dat dit ’n yslike flater was om die mens te maak, ‘Seun van God’? Hulle is nie die kroon van Jou skepping nie, en hulle wil ook nie vir jou as koning hê nie. Kyk wat maak hulle met hulle God! En dan het jy nog vrywillig een van hulle geword! Tsk tsk tsk. Ek dink dis malligheid om vir hierdie spul ellendelinge iets goeds te probeer doen. Kyk net wat het dit jou in die sak gebring!”

Jesus antwoord hom nie, hoewel elke woord ’n dolksteek in sy hart is.

“Nou goed dan, dit lyk my nie jy wil met my praat nie, Jesus van Nasaret, maar ek het baie vir jóú te sê, en jy sal maar moet luister, want jy kan nie bra vir my weghardloop nie, en jy kan ook nie eintlik jou ore toedruk nie!” Lucifer vou byna dubbeld soos hy vir sy eie grappie lag. Toe hy weer sy asem terugkry, sê hy: “Jy het mos nou een van die mense geword, gek soos dit ook al mag wees. En jy wil mos so graag hulle koning wees. Nou wonder ek net: ’n koning aanvaar mos verantwoordelikheid vir sy mense. Dan moet jy mos verantwoordelikheid aanvaar vir die gemors waarin die mense hierdie wêreld gedompel het. As jy een van die mense wil wees, hulle koning wil wees, dan moet jy bereid wees om te sê: ‘Ja, ek aanvaar verantwoordelikheid vir hulle dade. Ek aanvaar verantwoordelikheid vir die feit dat Adam en Eva die rug op hulle Skepper gedraai het in die Tuin van Eden. Ek aanvaar verantwoordelikheid vir die feit dat mense nie in liefde met mekaar saamleef nie. Ek aanvaar verantwoordelikheid vir elke mislike hoereerder, vir elke agterbakse dief, vir elke koelbloedige moordenaar. Ek aanvaar verantwoordelikheid vir al die leuens en bedrog en haat en nyd van die mense, ek aanvaar verantwoordelikheid vir die mense wat die profete vermoor het en net soos Adam en Eva die rug op God gedraai het, want ek is hulle koning. Ek is een van hulle, en hulle is my onderdane.’”

Soos Lucifer verder praat en die mensdom beskuldig, word die vrag wat op Jesus neerkom, al swaarder. Die sondes van die ganse mensdom rus op Hom, en die verskriklike skuldlas druk Hom inmekaar, tot dit Hom later wil verstik. Maar Hy sê niks; hyg net vlak na asem.

“Jy sê niks nie? Hoekom vat jy dit? Jy is mos anders as hulle, Jesus!”

So sag dat nie eens die soldate dit kan hoor nie, antwoord Jesus, sy asem hortend: “Ek is een van hulle. Ek is hulle Koning. Ek aanvaar hulle skuld.”

Uit my boek “Die Hemelbodes”

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.