Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan. (Hand. 27:22)
Paulus het alle rede gehad om vies in ’n hoekie te sit. Hy het immers die kaptein gewaarsku dat dit ’n vrot plan was om die reis aan te pak (Hand 27:10), maar wie steur hom nou eintlik aan ’n landrot as dit by seesake kom? Wat weet Paulus nou eintlik van seevaart? Maar presies soos Paulus gevrees het, gebeur dit. ’n Verskriklike storm bars los, en die skippie dobber vir dae op die stormsee rond, totdat die matrose alle hoop om lewendig anderkant uit te kom, laat vaar.
As alles en almal om jou hooploos is, is dit die tyd dat jy moet opstaan. Jý is immers nie hooploos nie. Hoe kan iemand wat in die lewende God glo, ooit sonder hoop wees? Dis hulle sonder God wat ook sonder hoop is (Efes. 2:12). Maar ons wat glo in dié God wat wonders doen, ons het ’n uitsig in selfs die hopeloosste situasie.
Lewe jy dan vandag as draer van hoop, dat jy vir die mense om jou hoop kan gee.
Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Klaagliedere 3:24
Views: 29