Ek het gehoor van ’n seuntjie wat ná die Sondagskool die volgende te vertelle gehad het: Moses het op ’n dag by die agterste linies van Israel gekom en toe gesien dat die Egiptenare besig is om hulle in te haal. Dadelik het hy sy Hoofkwartier laat weet dat die geniekorps gou-gou ’n brug oor die Rietsee moet kom bou. So is toe gedoen. En toe die Israeliete anderkant aankom, sien Moses dat die Egiptenare al halfpad oor die brug is. Vinnig laat hy Hoofkwartier toe weer weet om bomwerpers te stuur om die brug op te blaas. Gelukkig het hulle net betyds opgedaag, en toe Farao se tenks in die middel was, het die brug padgegee en het hulle in die see geval. So het ook sy hele infanterie verdrink.
Sy ma was baie ontsteld oor die vertelling, en wou toe weet of die juffrou regtig die verhaal só vertel het. Nee, sê die seuntjie, nou nie heeltemal só nie, maar as hy dit moes vertel soos sý dit vertel het, sou sy hom nooit geglo het nie!
Kom ek vra vanoggend: Glo jý nog? Glo jy nog in die krag van God, in sy liefde en goedheid, en sy alvermoë? En as jy glo, verwag jy nog enige iets van God? Bid jy nog om sy voorsiening en sy sorg as jy in die nood is? As jy siek is of gebrek ly? As jy eensaam is of bekommerd? Glo jy dat Hy dan uitkoms kan bring?
Ons lees in ons teksgedeelte van ’n vrou wat geglo het in die mag van God, wat alles van Jesus verwag het – en dit ook ontvang het! Markus vertel ons nie wat haar naam is nie. Maar hy sê dat sy twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Behalwe dat sy natuurlik ellendig gevoel het, het hierdie bepaalde siekte haar volgens die Joodse wet onrein gemaak, en almal wat aan haar sou raak, sou ook onrein wees, en daarom nie geskik om na die tempel te gaan om God te aanbid nie. ’n Mens kan net dink watter oordeel dit was.
Sy het alles wat sy het, aan dokters uitgegee. Keer op keer het sy ’n ander soort medisyne gebruik. Maar sonder sukses. Markus skryf dat sy eerder erger geword het.
En toe hoor sy van die Here Jesus. Sy het geglo dat Hý haar kan genees, en daarom wou sy tot elke prys by Hom uitkom. Markus vertel dat sy gedink het: “As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.” En eindelik sien sy haar kans. Daar was ’n groot gedrang om Jesus – sy sou ongemerk nader kruip en aan Hom raak. Versigtig gaan sy deur die skare mense. Meteens is sy vlak by Jesus. Vinnig steek sy haar hand uit en raak aan die soom van sy kleed. En … die wonder gebeur! Sy is gesond! Nou moet sy net so gou moontlik wegkom.
Maar – te laat! Jesus het gemerk dat daar krag uit Hom uitgaan. Hoe sou Hy dit ook nié opgemerk het nie? En Hy vra toe ook: “Wie het My aangeraak?” Die dissipels was baie verbaas dat die Here nou só ’n vraag kon vra. “Here,” sê Petrus, “die mense dring tog romdom U saam en druk teen U.” Wag, miskien kom sy tóg weg. Maar Jesus hou vol, en sy móét uiteindelik met haar hele verhaal na vore kom. Bewend van angs val sy voor Hom neer. Voor die hele klomp mense moet sy vertel hoekom sy Hom aangeraak het. Wat sal die Here Jesus sê? Sal Hy haar straf omdat sy Hom onrein gemaak het? Omdat sy, ’n vrou, dit durf waag het om haar aan Hom op te dring? Omdat sy Hom opgehou het terwyl Hy haastig op pad is om ’n baie belangrike man – ’n raadslid van die sinagoge! – se sterwende kind te gaan gesond maak?
Maar wat sê Jesus vir haar? “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.” Nie veroordeling nie, maar genade! “Gaan in vrede!” Hoe kon sy ook anders gedink het! God se koninkryk is tog vol genade, goedheid, liefde en vreugde. God gee om vir mense in nood en ellende. Mense se leed en swaarkry raak Hom, en daarom help Hy hulle. Daarom bely die NGB § 1 van Hom: Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed, en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.
Maar hoor weer wat sê die Here vir die vrou: “Dogter, jou geloof het jou gered.” Op die ou end het die vrou ook baie méér gekry as wat sy wou hê. Nie net haar liggaam is genees nie, sy is gered! Want Jesus het gekom om die werke van die Satan te verbreek – om die stukkendheid van hierdie skepping heel te maak, soos Hy hierdie vrou genees het, maar veral ook om haar van die mag van die sonde te verlos. Ons sien hier, soos in al die wonders, dat Jesus Christus groter is as die Duiwel, dat God magtiger is as Satan, en daarom Satan se mag kan breek op hierdie wêreld. Die beste sien ons dit natuurlik in die Kruis en Opstanding van Jesus Christus, waar Hy eens en vir altyd die mag van die Bose verbreek het om nie net hierdie vrou nie, maar ons almal, ook vir jou en vir my, te red. Daar het Hy werklik onrein geword – nie net vanweë hierdie vrou se aanraking nie, maar vanweë ons almal se sonde – sodat ons rein kan word, gesond kan word, gered kan word.
Liewe gemeente, die Here red! Hy genees! Dit wil hierdie wonder ons leer. Maar dis nie al nie. Die Here sê vir die vrou: “Dogter, jou geloof het jou gered.” Jou geloof. Natuurlik is dit nie haar geloof wat haar gesond gemaak het nie. Dit was Christus. Maar, en dit is wat Jesus hier bedoel, dit het tog ook nie los van haar geloof gebeur nie. Want hierdie vrou het in God geglo, geglo dat Christus die mag het om haar gesond te maak; sy het Christus se heerskappy erken, en was daarom bereid om Hom ten volle te vertrou met haar gesondheid, met haar lewe. Daarom het sy geen moeite ontsien om tot by Hom te kom nie, want sy het haar vertroue in Hom gestel.
Miskien is dit die rede hoekom ons so dikwels nie God se goedheid en genade, God se vrede beleef nie; hoekom ons nie die krag van sy reddende teenwoordigheid in ons lewens en met ons probleme beleef nie: omdat ons geloof nie daar is nie. Nie omdat ons nie glo nie, maar omdat ons te min glo, te min van God verwag, soos die seuntjie met die Rietsee-verhaal. Daarom bid ons, want ’n mens bid as jy in die nood is. Daarom kom ons kerk toe, want dit is Sondag. Daarom lees ons Bybel, want só is ons geleer.
Maar geloof is baie meer as dit. Geloof is om soos hierdie vrou met die lewende God se almag, sy alvermoë, rekening te hou. Geloof is om ’n lewende Here te aanbid en te volg – Een wat Oorwinnaar is, wat opgestaan het uit die dood, wat ook vandag nog lewe en by ons is. En as jy dan na Hom te gaan met jou nood – jou sondenood, jou siektenood, hou huweliksnood, jou eensaamheid – wat ook al jou nood is, as jy na Hom te gaan soos hierdie vrou gedoen het, glo dan dat Hy lewe, dat Hy magtig is om jou te help.
Want God kan! Daarom het Jesus Christus gekom, het Hy oorwin, selfs die dood! Glo dit! En gaan in vrede! Amen.
Views: 63
Goeidag, graag wil ek dit beter verstaan. Ons moet altyd na die Wil van God vra, so as mens dan bid en jy glo, en dit gebeur nie was dit dan God se “nee”?
Was my geloof dan dalk nie genoeg nie? Of moet ek aanvaar dit was nie God se wil nie? Ons aanvaar mos as dit nie Sy Wil was nie maar hoe weet ek dit was nie van te gou geloof verloor nie.
Hallo Marina
God is in misterie gehul, en ons kan nie sy wil deurgrond nie. Wat ons weet, is dat God daarop ingestel is om by ons te wees. Soms is die dinge wat ons vra, nie in sy wil nie, maar ons weet dit ongelukkig nie. Dan moet ons glo dat Hy beter weet en Hom vertrou.
Ek glo ‘n mens moet aanhou bid oor ‘n saak wat vir jou belangrik is, totdat jy ‘n duidelike antwoord kry, of dit nou “ja” of “nee” is. Paulus vertel dat hy drie maal gebid het dat God die doring in sy vlees moet wegneem. Eers tóé het God met ‘n duidelike “nee” geantwoord, en het hy opgehou om daaroor te bid.
Ek is versigtig om gebedsverhoring aan my eie (sterk) geloof te koppel, asof my geloof daarvoor verantwoordelik is. Ek gaan wel na God met my behoeftes in die geloof dat Hy, wat oor my lot beskik, die beste weet en nie kat-en-muis met my speel nie. Maar ek weet en bely ook dat God se weë nie vir my as mens deursigtig is nie.
Jammer ek kan nie beter antwoord nie. As ons oor God praat, pas dit ons om nie té stellig te wees oor wat ons weet nie.