Kyk ’n bietjie wat staan in vers 5-6a: Jesus kon nie ’n enkele kragtige daad in Nasaret verrig nie, en was verbaas oor hulle ongeloof. Ek wonder in hoe ’n mate ons eie kleingeloof, of gebrek aan geloof, God se werk in ons lewe en wêreld aan bande lê? Maar dit net so terloops.

Dit was seker onvermydelik dat Jesus die een of ander tyd sy tuisdorp sal besoek, nie net as ’n oud-inwoner nie, maar as die Messias. Mense het dit waarskynlik verwag en daarvoor gehoop. En nou, uiteindelik, kom Hy in Nasaret aan, die dorpie waar Hy grootgeword het, en waar Hy na alle waarskynlikheid ook vir ’n tyd lank as timmerman gewerk het voordat Hy met sy bediening begin het. Ek kan my so half indink hoe opgewonde Maria moes gewees het dat haar Seun teruggekom het, en dat Hy op die sabbatdag in die sinagoge gaan preek. En die hele dorp is daar, want almal het gehoor hoeveel opslae Hy in Kapernaum en op ander plekke maak. Daarom sit hulle in die sinagoge om te kyk waaroor dié ophef oor Maria se oudste seun dan nou eintlik gaan.

Die mense van Nasaret se aanvanklike reaksie was soos al die ander mense s’n. Markus skryf baie van hulle wat Hom gehoor het, was verwonderd. Sjoe, maar dié Jesus preek windmaker, sê hulle vir mekaar. Waar sou hy aan sy stories kom? Net gister, eergister het hy nog dakkappe gemaak, sommer hier anderkant. Dis ongelooflik.
Ag nee wat, sê iemand anders, hy hou hom verniet so spoggerig. Ons weet presies wie hy is: Josef en Maria se klong. Eenvoudige mense, nie waar nie? En het julle dan vergeet dat Josef en Maria destyds so holderstebolder getrou het? En dat hulle hier weg is voor Jesus gebore is, sodat ons nie self ons sommetjies kon maak nie?
Ja, sê nog een. En hy trek hoeka g’n na Josef nie. Ons het nog altyd gewonder wie sy pa regtig is. En nou kom staan en preek hy vir ons? Hy ken nie sy plek nie, dís wat.

Markus skryf: Die mense wou niks van Hom weet nie. Vir hulle was Hy maar net die eenvoudige skrynwerker. Hy hou hom verniet so belangrik. Later, in Jerusalem, het dit weer gebeur. Mense het neusoptrekkerig na Hom verwys as die Galileër, en openlik gevra: Kan daar iets goeds uit Nasaret kom? Vir hulle was Hy ’n bekvelder, en klaar.

Wat hier met Jesus gebeur het, is nie so vreemd nie. Ons het dit almal al self ook beleef of onbewustelik deel gehad daaraan. ’n Mens se verlede het dikwels ’n houvas op jou. Dit plaas jou in ’n boksie waaruit jy nie kan kom nie. Ek is seker daar is van julle wat ook sulke stories kan vertel. Jy is dalk aan die verkeerde kant van die hoofstraat gebore, en vir party mense (en dalk jouself) bly dit wie jy is: ou Piet en Poppie Pattatvreter se kind. En daarmee is jy afgeskryf. Jou verlede plaas jou in ’n kategorie wat maak dat mense op ’n bepaalde manier na jou kyk of oor jou dink. Dit kan die plek of familie wees waarin jy gebore is, of dit kan iets wees wat in jou verlede gebeur het. Jy het nooit die hoë betrekking, of die plek in die gemeenskap bereik wat jy gedink het jy moes nie. Jy is deur ’n egskeiding. Jou onderneming het gevou. Jou kind het skandes gemaak. En mense kyk na jou en onthou dit, en dit vorm die agtergrond waarteen hulle na jou kyk of oor jou dink. Die ergste van alles is: jyself onthou dit ook, en jy sien jouself as die een wat in dié of daardie opsig misluk het of tekort skiet.

En ons doen dit aan ander ook, soos die mense van Nasaret met Jesus gemaak het. Ons plaas mense in boksies en etiketteer hulle. En daarmee skryf ons hulle sommer af ook. “Ag nee wat, jong, ek ken sy soort. Dit sal nooit regkom nie.” So dink ons oor ander.

Wat doen Jesus? Hy was verbaas, en natuurlik ook baie teleurgesteld oor die mense se reaksie, maar Hy het Hom nie daaroor verknies nie. Ons lees in vs 6b: “Hy het by die dorpies in die omgewing rondgegaan en die mense onderrig.” Jesus het Hom nie deur mense se opinie oor Hom laat voorskryf of afskryf nie.

Wat mense gesê en gedink het, het nie sy identiteit bepaal nie, want sy identiteit het in God gelê, en in sy roeping as Gestuurde van die Vader.

Daarom kon Hy voortgaan, enduit, selfs toe die hele volk begin skreeu: “Kruisig Hom!” En toe Hy daar aan die kruis hang en die mense steeds met Hom spot, bid Hy vir hulle. En nog later, as Hy Paulus op die Damaskuspad voorkeer, stel Hy Homself bekend as “Jesus van Nasaret” (Hand 22:8).

Mense en wat hulle dink en sê, het nie Jesus se identiteit of sy verstaan van Homself en sy roeping bepaal nie. En hierin kan ons Hom navolg. Jou herkoms, jou familie, jou verlede hoef nie te bepaal wie jy is nie, want jou ware identiteit lê nie daar nie. Dit lê in God. Jy is met Jesus se bloed gekoop. Paulus skryf in 2 Kor 5:17: “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” Jy hoef nie elke dag ’n klomp bagasie uit die verlede met jou saam te sleep nie. Jy is verlos! Jy is ’n Koningskind! Jy kan jou kop optel en met jou lewe as geroepe volgeling van Jesus aangaan!

Heb 12:1-3 sê ons moet die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, Hy wat ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig gestel is, die kruis verduur het, die skande daarvan gering geag het, en sy plek aan die regterkant van die troon van God ingeneem het. Dink inderdaad aan Hom wat so ‘n vyandigheid van die kant van sondaars teen Hom verduur het, sodat julle nie geestelik moeg raak en uitsak nie.

Stilgebed:
Ek wil hê ons moet nou elkeen nadink oor wie ons is. Hoe sien jy jouself? Het mense jou dalk in ’n boksie gesit wat maak dat jy minderwaardig voel, of huiwerig is om na vore te kom en jou roeping uit te leef? Of het jy jouself dalk in ’n boksie gesit oor iets wat in jou verlede gebeur het?

Vertel dit vir die Here. Aanvaar opnuut weer sy liefde vir jou. As dit nodig is, vergewe jouself, en sê dit ook vir die Here. En besluit vandag nog dat jy uit dié boksie gaan klim, en dat jy, soos ons Here Jesus, nie sal toelaat dat ander mense jou van jou koers gaan afkry nie.

Dalk het jy nie dié probleem nie, maar trap jy soms in die slaggat van ander mense etiketteer. Bely dit dan, en gee dit vir die Here, dat Hy jou daarvan kan genees.

image_pdfimage_print

Views: 26

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.