Genesis 2:18-25
 
Hoekom het julle mekaar gekies? Was dit liefde met die eerste oogopslag, soos Adam en Eva? Adam het wakker geword, die wonderlike vrou voor hom gesien, en alles was verby. Hy was hopeloos verlief, en sing net daar ’n minnelied. Met my broer het dit ook so gegaan. Hy en sy vrou is skaars ses weke ná hulle mekaar leer ken het, getroud. Ek het hom daarna uitgevra, toe sê hy as jy weet dis die regte een, waarom langer wag? En vandag, vier dekades later, is hulle steeds gelukkig getroud.
 
Dit gaan nie altyd só met ’n verhouding nie. Ek en my vrou het mekaar ’n hele ruk geken voordat ons begin uitgaan het. Ons het saam in ’n koor gesing, en ek het altyd by die oefeninge stilletjies Elmien se mooi bene bewonder, maar dit was eers vyf maande later dat ons ’n verhouding begin het. Ons liefde het stadig gegroei en geblom.
 
Maar of dit nou liefde van dag een af is, of ’n geleidelike ontwikkeling, is nie so belangrik nie. Belangrik is daardie vonk tussen julle; daardie salige gevoel as jy hom by die deur hoor inkom, daardie slag wat jou hart oorslaan as jy haar onverwags op ’n plek raakloop. Alle verhoudings het aan die begin daardie vonk wat die liefde laat ontvlam. Die vraag is nou net: is daardie vonk nog daar – vyf, tien, dertig jaar later?
 
Baie egpare sal vir jou sê dit kan nie. As ’n mens jare lank met dieselfde mens getroud is, raak jy gewoond aan jou huweliksmaat en hou jy maar net uit, en dis al prestasie genoeg. Maar opwinding? Dít is iets wat jare gelede al weggeraak het uit die verhouding, sê hulle.
 
Dit hoef nie so te wees nie. Julle huwelik kán vars bly, of, as julle ook maar net vasbyt ter wille daarvan dat julle nie mag skei nie, weet dan dat julle huwelik weer vars en opwindend kan word. In God se krag; Hy wat alles nuut maak (Openbaring 21:5).
 
Uit my boek “Saam voor God”.
image_pdfimage_print

Views: 32

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.