Rut 2:1-12
Dink ’n bietjie terug. Hoe het dit gekom dat julle mekaar ontmoet het? Was daar enige beplanning in dié ontmoeting? Waarskynlik nie. Die meeste verhoudings begin heel toevallig, soos dié van Rut en Boas. Sy het nie op ’n dag gaan sit en besluit sy wil met Boas trou, en daarom gaan sy op sy plaas koring optel nie. Hulle ontmoeting was geensins beplan nie. Of was dit? Was die groot “Matchmaker” nie agter die hele saak nie? Het Hý dit nie dalk so beskik dat Rut juis by Boas se grond uitgekom het nie?
Dis nogal belangrik dat ’n mens oor hierdie saak baie helder moet wees. Toeval speel nie ’n rol in ’n gelowige se lewe nie. Toeval het julle nie bymekaar uitgebring nie, al lyk dit miskien so. Dié “toeval” se Naam is God, wat sy kinders se lewens baie netjieser beplan as wat ons ooit kan vermoed. Want Hy gee om vir julle en julle verhouding.
Kom ons kyk vir ’n oomblik na die geval Rut. God het haar al raakgesien toe sy nog in Moab was. Toe al het Hy die geloof in haar hart gewerk, dat sy nie, soos haar skoonsuster Orpa, kies om na haar eie mense toe terug te gaan nie. Want sien, sy moes die oumagrootjie van koning Dawid word, en uiteindelik ook die groot-ouma van Koning Jesus.
Sê dit vandag nog hardop vir mekaar: “God het jou vir my gekies en ons twee bymekaar gebring.” Dié wete bring geborgenheid. As God dan die vonk tussen julle twee aangesteek het, as Hy dan betrokke is by julle liefde en julle huwelik, dan sal Hy julle mos ook help om bymekaar te bly, en in mekaar werklik lewensmaats te vind.
As Hy julle vir mekaar gekies het, móét julle verhouding mos uitwerk. Of het Hy dalk ’n fout gemaak?
Uit my boek “Saam voor God”.
Views: 17