Ek het ’n tannie gehad wat van haar eie seun gesê het: “Siestog, hy het nie kinders nie; hy het net seuns. En seuns maak jy vir ’n ander vrou groot.” Want sien, as ’n seun uit die huis is, is jy nie meer vir hom ’n prioriteit nie. Met dogters is dit anders.

Genoeg rede om spesiale aandag aan hulle te gee, dink ek!

’n Dogter, net soos ’n seun, het ’n ferm hand van haar pa nodig. Liefde sonder dissipline is siek. Maar sy het ook, en baie meer so as haar broer, behoefte aan koestering, drukkies, sigbare bewyse dat jy haar liefhet. Sy wil dit hoor, én sien, en sommer dikwels ook.

Miskien is jou meisiekind sportmal, net soos jy, en kan jy haar langs die sportveld ondersteun. Maar dalk is sy nie ’n sportster nie, en sal jy (soos ek) van tyd tot tyd by die eisteddfod moet gaan sit om na haar sang of klavierspel te gaan luister. Ek sien darem werklik hopeloos te min pa’s daar.

Jou dogter moet weet, omdat sy dit hoor en sien en beleef, dat sy vir jou belangrik is, dat jy op haar trots is, dat jy haar liefhet, en dat jy haar vir geen seun in die wêreld sal verruil nie. Dan sal jy verbaas staan oor hoe sy blom.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.