“I have said it thrice: What I tell you three times is true,” sê Bellman in Lewis Carroll se gedig “The Hunting of the Snark”. Herhaal ’n storie genoeg keer, en dit word geloofwaardig. Selfs die spreker glo later sy leuen.

Ek onthou goed, toe ek ’n jong predikant was, hoe gemeentelede met dobbel geworstel het. Elke jaar by die basaar was daar vrae as ’n koek of ’n mooi pop of iets anders uitgeloot is. Dis dobbel, het party mense onomwonde gesê. Ander was minder gestreng. Baie het ook neergesien op dié wat “die perdjies speel”. Ook dít is niks anders nie as dobbel, was die ondubbelsinnige oordeel.

Toe kom die Lotto, en skielik het dobbel respektabel geword. By elke supermark is dit nou moontlik om jou kans te waag met ’n paar gelukkig nommers. Elke week is daar kitsmiljoenêrs. Die hoop om ’n groot klomp geld te wen, laat mense hulle swaarverdiende geld weggooi. Dit gaan immers vir ’n goeie doel, sê hulle. En vir die skugteres wat nie in die lang rye wil staan of daar gesien wil word nie, is daar die bank-toep, waar jy in die privaatheid van jou eie sitkamer lustig kan meedoen.

Die dobbelkoors word boonop elke dag op TV en oor die radio aangeblaas. Dis Lotto Land en Hollywood Bets en Betway en noem maar op, tot jy daarvan wil skree. Om te dobbel is opwindend, is die boodskap. Maar ware dobbelaars weet wanneer om op te hou. Hulle speel verantwoordelik, en al daardie twak.

Intussen rol die geld in. Dit moet wees, want die dobbelplekke is deesdae van die grootste borge vir sport en TV-speletjies en realiteit-programme. Daar is groot geld in dobbel. Dis duidelik.

 

Wat sê die Bybel hieroor?

Die vraag is natuurlik of die feit dat almal lustig saam dobbel, dit nou maak dat dit in orde is om te dobbel. Werk vir jou geld was nog altyd die Bybelse voorskrif (Hand 20:35, Ef 4:28 ea). Die Bybel waarsku teen geldgierigheid (1 Tim 6:10), wat die dryfveer agter dobbel is. Die finansiële ellende wat dobbelverslawing vir gesinne meebring, skree ook dat dobbel liefs vermy moet word, want jy doen jou naaste kwaad aan. Maar my grootste probleem is dat dobbel maak dat mense nie meer op God vertrou om in hulle daaglikse behoeftes te voorsien nie.

’n Voormalige kollega van my het gesê hy het gelukkig nog nooit die Lotto nodig gehad sodat die Here vir hom kan sorg nie. En hy het tong-in-die-kies hieroor opgemerk: “Ek kyk altyd die Lotto-wennommers, en dan is ek bly ek het nie gespeel nie, want ek sou nooit daardie nommers geraai het nie.”

Was mense verkeerd om gekant te wees teen die uitloot van pryse by die basaar? Ek dink so. Dit was tog net ’n speletjie wat niemand ryk gemaak het nie, en niemand verarm het nie. Maar ek kry al hoe meer ’n renons in die oormaat dobbel-advertensies wat deesdae ons TV’s en radio oorspoel. Dit kan nie reg wees nie.

Dis wat ek dink.

image_pdfimage_print

Views: 3

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.