Uit my boek Maria
“Vrede vir jou!”
Die stem laat my eintlik so wip van die skrik. Hier is iemand agter my! ’n Vreemde man kan moeilikheid beteken, sy vriendelike groet ten spyt. My hart hamer so wild in my bors dat ek nie ’n woord uitkry nie, en my bene is skielik te lam om weg te hardloop.
Die man glimlag vriendelik en hou sy hande op. “Die Here is by jou met sy guns.”
Die man lyk soos ’n priester wat my met opgehefde hande seën of iets. Oom Sagaria het al vir my gewys hoe hy dit altyd by die tempel doen as hy die mense seën. Maar dit kan nie wees nie. Hier is nie priesters in Galilea nie, en buitendien, wat wil hy van my hê? Hy behoort te weet dat dit onbehoorlik is om alleen by my te wees. Ek is ’n verloofde vrou! As Josef ons so kry, is die duiwel los. Hy is ’n baie saggeaarde man, maar hy sal dit nie verdra dat iemand anders met sy verloofde gesels nie.
“Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. Hy het my na jou toe gestuur.”
“Is u … ’n engel of iets?” stotter ek, nou éérs bang. Hoekom sal God Hom met mý van alle mense bemoei?
“Ja, ek is die engel Gabriël,” glimlag hy. “Moet tog nie so agter die boom staan en wegkruip nie! Ek sal jou nie kwaad aandoen nie. Toe, kom sit weer hier, asseblief?”
My knieë voel lam toe ek agter die boom uitkom en weer op die boomwortel gaan sit.
“God het my na jou toe gestuur om vir jou te kom vertel dat jy swanger gaan word en ’n seuntjie gaan hê, en jy moet Hom die naam Jesus gee.”
“Maar …”
Gabriël hou sy hand op om my besware af te sny. “Jou seun sal ’n baie, baie belangrike man wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”
Ek is half lighoofdig van sy aankondiging. Dis byna te veel om in te neem. My en Josef se seun gaan al Pa se drome oor koning-wees verwesenlik. Dit kan tog seker nie wees nie? Maar dis dan ’n engel wat dit sê! “Ek en Josef is albei afstammelinge van ons voorvader Dawid, maar ek het darem nie gedink ons seun sal koning word nie.” Wat sal Jonatan sê as hy dit hoor, of Pa? En wat sal koning Herodes hiervan maak? Hy sal nie sommer die troon aan iemand anders oorhandig nie …
Dan skiet ’n gedagte my te binne. “Hoekom kom sê u dit nóú vir my, Meneer? Ek is dan nog nie eers getroud nie? Ek en Josef trou eers in die lente.”
Gabriël skud sy kop, en sy glimlag is skielik weg, hoewel hy nog altyd vriendelik lyk. “Die seuntjie sal nie Josef s’n wees nie, Maria.”
Wat praat die engel dan nou? “Nie Josef s’n nie? Maar daar is nie iemand anders nie! Ek verstaan nou niks van wat u vir my gesê het nie. Hoe kan ek ’n seun hê, maar my man sal nie die pa wees nie? Nee, Meneer, ek is nie so ’n soort meisie nie.”
“Dis nie soos jy dink nie, Maria. Dit gaan nie ’n gewone swangerskap wees nie. Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Dís hoekom ek vir jou gesê het jou seuntjie sal die Seun van God genoem word, ’n heilige man.”
Hy wag dat sy woorde moet insink, maar ek sit doodstil. Wat kan ek eintlik sê? Toe sê hy: “Wat sal jy sê as ek vir jou vertel dat jou tannie Elisabet ook ’n baba verwag?”
“Maar sy is al oud! Sy kan nie nou meer ’n baba kry nie.” Kyk, dís nou heeltemal belaglik. Haar jare van kinders-hê is lankal verby. “Ek weet sy en oom Sagaria wou altyd so graag hulle lewe, ’n baba hê, maar die Here het anders besluit.”
“Wel, ek het nuus vir jou. Sy is al in haar sesde maand.”
“Dis onmoontlik. Nie tannie Elisabet nie.”
Hy glimlag nou weer. “Vir God is niks onmoontlik nie, Maria.”
My kop draai van al die verbysterende goed wat die engel gesê het. Ek verstaan die helfte daarvan nie, maar hy het uitdruklik gesê dis God wat so besluit het, en wie is ek om met God te stry? En buitendien, dit ís ’n ongelooflike genade dat God juis vir my uitgekies het, en dit sê seker iets.
“Toe, wat sê jy, Maria?” por die engel.
Wat kan ek sê? Kan ’n mens vir God nee sê? Voor ek mooi oor alles kan dink, hoor ek myself antwoord: “Ek is tot God se beskikking. Mag dit so wees soos wat u gesê het!”
Toe ek opkyk, is die engel is weg. Skoonveld. Daar is geen teken van sy teenwoordigheid of van sy besoek nie. Was hy ooit regtig hier? Of het ek my dit alles verbeel? Ek weet dat engele soms met mense gepraat het, maar dit was in die ou tyd, soos met Gabriël, of met Simson se ma, of met Daniël en so. Maar met my? Wie is ek dat ’n engel met my sou wou kom praat? Ek is maar net ’n eenvoudige meisie van Nasaret. Dit kan darem seker nie regtig gewees het nie. Maar tog, sou ek my dit alles verbeel het, en boonop sulke ongelooflike goed? Maar sê nou dit wás net my verbeelding, wat dan? Sê nou ek vertel vir Ma-hulle en vir Josef van die gesprek, en dan was dit alles verbeelding? Dan sal ek die grootste gek in Galilea wees, dís vir seker. Ek kan nou al hoor hoe Amira skater van die lag. Sy is juis deesdae so half snaaks met my. Jaloers, dis wat sy is.
Josef! Wat sal hy sê as die engel se aankondiging die waarheid is? As ek ’n baba verwag? Hy sal my mos nooit aste nimmer glo as ek sê die Heilige Gees het my swanger laat word nie! Om die waarheid te sê, ek sou dit self ook nie geglo het as ek so ’n storie gehoor het nie.
Ek wens die engel was nog hier, dat ek vir hom kon vra wat om te sê. Dis ’n mooi grap. Hoe kan hy met sulke nuus by my aankom en dan ewe stilletjies verdwyn asof niks gebeur het nie? Hy sal my moet help om die nuus aan Ma-hulle en Josef te breek, anders gaan Pa my doodmaak!
“Gabriël?” Ek roep nie hard nie, want engele kan seker goed hoor. Maar toe hy nie weer verskyn nie, roep ek harder: “Gabriël! Gabriël! Waar is u? Moenie my nou los nie, asseblief?” Maar van Gabriël is daar geen teken nie. Hy het my sowaar alleen hier onder die wildevy gelos.
Wat gaan ek nou doen? Miskien is dit alles net my verbeelding. Ek hoop dis net my verbeelding, want hoe langer ek daaroor dink, hoe duideliker is dit vir my dat ek in die moeilikheid is as dit waar is. Liewe Here, gee dat dit net my verbeelding is!
Maar as dit waar is … As ek die ma van die Seun van God gaan word … Koning Jesus, op die troon van ons voorvader Dawid! Wat ’n ongelooflike voorreg, dat God vir my van alle vroue uitgekies het! Hoeveel vroue sal nie hulle voortande gee vir dié voorreg nie!
“Here, ek weet nie wat aangaan nie, maar ek ís tot U beskikking as U my wil gebruik. Maar ek is bang, Here, en ek weet nie wat om te doen nie. Help my asseblief.” Miskien, as ek mooi luister, sal ek hoor hoe die Here my antwoord. Ek is dan sy begenadigde! Dis nou, as die engel régtig by my was.
Ek weet nie hoe lank ek op my knieë gestaan en wag het nie, maar niks gebeur nie. Dit help tog nie om vir ewig so te wag nie. As ek net gewéét het. Dan skiet dit my te binne. Tannie Elisabet! As sy regtig ’n baba verwag, is alles mos waar. Tannie Elisabet is die antwoord. Ek moet so gou moontlik by haar uitkom sodat ek kan weet wat aangaan
Views: 33






