Here Jesus, U is wat U is!
U is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, U is en was en kom; U is die Almagtige.
Ons staan vanaand opnuut weer verwonderd oor Uself, U wat u hemelse heerlikheid en majesteit afgelê het om mens te word, een van ons te wees, sodat U die lig vir die wêreld kan wees, sodat U ons Lig kan wees in ’n donker, stukkende wêreld. Dankie, Here Jesus, dat U gekom het om vir ons die weg en die waarheid en die lewe te word, die ingang na die troon van genade en na u Vader se hart.
Ons aanbid U vanaand as die helder Môrester wat ook in ons harte opgekom het en ons verbly het.
Ons aanbid U as die Een wat die brood is wat lewe gee. U is die Een wat ons voedsel en drank geword het deur u eie lewe te offer vir ons.
Dankie, Here Jesus, dat U ook ons goeie herder is wat ons bewaar en beskerm en saggies lei na waters waar rus is. Dankie dat U die ware wingerdstok is in Wie ons geanker kan wees, deur Wie ons gevoed word, sodat ons vrug kan dra.
Ons aanbid U as die opstanding en die lewe. Here, ons glo in U, en daarom glo en weet ons ook dat U ons saam met U laat opstaan het in ’n nuwe lewe; dat U ons nuwe mense gemaak het, God se mense, en dat die dood daarom nie die laaste woord oor ons kán spreek nie.

Maar Here, ons aanbid U nie net as óns Here nie. Ons aanbid U vanaand ook as Heer van die here nie, maar ook as die Koning van die konings, die Een wat die hele wêreld so liefgehad het dat U gekom het, gebore as ’n baba in Betlehem, sodat elkeen wat in U glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Gee, Here, dat ons in hierdie dae opnuut weer sal leer om met Ú oë na die wêreld en die mense om ons te kyk. Help ons om u lig by mense wat in die duister leef, uit te bring; help ons om vir hulle die pad na U toe te wys, sodat U ook vir húlle die weg na die lewe kan word en die helder Môrester ook in hulle harte kan opkom.
Ons bid vir hulle wat nie elke dag brood het nie, Here, dat U deur ons ook vir hulle kan voed.
Ons bid vir hulle wat afgetakel word deur siekte en dood – wees U elke nuwe dag die opstanding en die lewe vir hulle, en help hulle om te glo dat U, die goeie herder, ook vir hulle ’n Herder wil wees.
O Jesus, Kind van Betlehem en Koning van die kerk, geskenk van God aan ons in hierdie Kerstyd, ons aanbid U!
Word U nou verheerlik in ons saamwees, ons saamsing, ons saam luister na u Woord!
Amen.

image_pdfimage_print

Views: 58

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.