Uit my boek Die Hemelbodes
Soos wat Maria se swangerskap vorder, groei die opwinding in die hemel. En toe Uriël een aand by die kooroefening aankondig dat hulle ’n spesiale lied moet instudeer vir die aankondiging van Jesus se geboorte, trek daar ’n geruis deur die saal soos die engele opgewonde met mekaar praat.
Dis ’n eenvoudige lied met net drie reëls:
Eer aan God in die hoogste hemel,
en vrede op aarde
vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!
En tog, juis in die eenvoud van die woorde lê die skoonheid van hierdie lofsang, verduidelik Uriël. Omdat dit ’n eenvoudige lied is, is dit soveel meer noodsaaklik dat elke noot perfek moet wees. “Onthou, dit is die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die skepping. Ons sang moet hierdie grootse oomblik waardig wees.”
Só begin hulle dan oefen, elke dag ’n ekstra halfuur, sodat hulle gereed kan wees as die groot oomblik aanbreek.
* * *
“Snaaks dat Lucifer so stil is,” merk Gabriël op toe die kooroefening verby is. “Sou hy nog niks agtergekom het nie? Soos ek hom ken, moes hy al lankal snuf in die neus gekry het oor die groot gebeurtenis. Hy weet mos altyd alles wat aangaan. Maar ons hoor niks van hom nie.”
“Dis maar beter so, sê ek jou,” sê Migael. “As hy eers hier deur die hemel kom wals met daardie vermakerige grynslag op sy bakkies, dan is ek sommer uit my storie uit.”
“Soos ek hom ken, sou hy al lankal hier aangekom het as hy iets vermoed het,” laat Rafael hoor. “Hy is so nuuskierig soos ’n agie. Hy sal nooit ’n kans laat verbygaan om meer uit te vis as hy selfs net ’n vermoede het dat iets belangriks gaan gebeur nie. Nee, ek sê julle, snaaks soos dit is, hy weet niks.”
“Ek dink jy is reg, hoor,” stem Migael saam.
“Mag dit so bly,” sug Gabriël. “Anders kan hy nog dinge lelik omkrap.”
* * *
En toe, op ’n lieflike lentemiddag, is Maria se Seuntjie gebore: ’n fraai ou pienk bondeltjie met groot bos swart hare. Sy het Hom in doeke toegedraai en saggies op die strooi in ’n krip neergelê, want hulle het in ’n stal gebly. Dis die enigste verblyf wat Josef vir hulle in die oorvol Betlehem kon kry, want die hele wêreld, so lyk dit, het vir keiser Augustus se sensus na Betlehem gekom.
Toe Maria moeg, maar vervuld, op die strooi langs die krip gaan lê, kom staan Josef langs haar en vat haar hand in syne. Toe bid hy:
Here God van ons vaders,
ons staan in verwondering voor u weë.
Hier lê die Verlosser van die wêreld in ’n krip voor ons,
en ons is maar eenvoudige mense.
Ons dank U dat u óns waardig geag het
om die grootste van alle take te verrig.
Ons prys U omdat U ons met u guns oorlaai het.
Maar sal ons u vertroue waardig wees?
Hoe sal ons Hom reg kan grootmaak?
Hoe sal ons weet wat vir Hom goed is en wat nie?
Wat moet ons Hom leer van die wêreld, en van U?
Wat weet ons van die taak wat op sy skouers rus?
Hoe moet ons Hom beskerm teen die Bose?
Ons is maar net eenvoudige mense, Here,
en ons is dom.
Daarom bid ons om u wysheid.
Verlig ons verstand,
dat ons kan weet wat om te doen.
Lei ons deur u Heilige Gees,
dat ons hierdie Kindjie kan grootmaak soos dit hoort.
Amen.
Maria druk Josef se hand saggies. “Dankie, my liefste, dat jy saam met my hierdie groot verantwoordelikheid aanvaar het.”
Josef antwoord nie, en gee net haar hand ’n drukkie terug. Dan snuit hy met groot gebaar sy neus, sodat Maria nie moet sien hoe nat sy wange is nie.
* * *
Daardie nag breek die geleentheid uiteindelik aan dat die engelkoor hulle lied moet sing. Uriël stap senuweeagtig heen en weer voor die koor, en dan maak hy weer ’n draai by die orkes. Vir die soveelste keer vra hy of almal hulle bladmusiek by het, totdat een van die siterspelers later sê: “Uriël, wat wil ons met bladmusiek maak? Ons oefen nou al so lank aan hierdie lied, die engel wat dit nou nog nie uit die kop kan speel nie, sal dit nooit kan speel nie!”
Toe vertrek hulle na Betlehem, waar hulle hulle lied vir die skaapwagters moet gaan sing. Daar stel Uriël hulle weer sorgvuldig op in hulle verskillende stemgroepe, met die orkes voor in die middel. Uiteindelik is hulle gereed, en wag hulle dat Gabriël die teken gee voordat hulle aan die skaapwagters verskyn en die lied sing.
Gabriël is onder by die skaapwagters waar hulle langs ’n vuurtjie sit. Toe hy by hulle kom staan, val ’n hemelse glans oor die klompie manne om die vuur. Dan sê hy: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! En dit is vir julle die teken: julle sal ’n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê.”
“Nou!” sê Uriël, en toe verskyn hulle almal gelyk. Dit lyk of die nag in dag verander, so helder lig word dit. Toe sing hulle soos nog nooit nie:
Eer aan God in die hoogste hemel,
en vrede op aarde
vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!
Die soet klanke van hulle lied vul die weivelde en klink dan verder, sweef op die naglug tot in die dorp en die berge daar naby.
Vir ’n heerlike, salige oomblik voel dit vir die skaapwagters of hulle in die hemel is. En dan, eensklaps, is die engele weg, net so stil en skielik as wat hulle gekom het. Die skaapwagters kyk na mekaar, te verbysterd om iets te sê. En dan, toe die werklikheid van wat hulle sopas beleef het, begin insink, sê Matteus, een van die ouer manne onder hulle: “Manne, ek weet nie van julle nie, maar ek gaan nou reguit Betlehem toe om te gaan kyk wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het. Dit moet ek met my eie oë sien: die geboorte van die Messias.”
“Maar waar in die dorp sal ons nou eintlik gaan soek?” vra Benjamin, sy broer. “Met die belaglike sensus van die Romeine wemel die plek van mense!”
“Wel, ons weet minstens die Kindjie lê in ’n krip, so dit is seker iewers in ’n stal,” sê Matteus.
“Dit help ons nog nie veel nie, ou broer,” kap Benjamin teë. “Daar is omtrent net soveel stalle in hierdie dorp van ons as wat daar huise is!”
“Ek dink ek weet waar dit is!” sê Natanja, ’n jongerige man wie se vrou self een van die dae geboorte moet skenk. Sy gesig blink van die opwinding. “My swaer het my vertel dat hy nou die dag ’n man en vrou daar by sy plek ingeneem het. Hy het gesê hy het dit maar gedoen omdat hy die vroutjie jammer gekry het, want sy is baie ver heen swanger. Hy het glo vir hulle ’n plekkie in sy stal ingerig, dat die stomme mense darem net ’n onderdak kan hê.”
“Nou gaan wys ons waar hy bly, jong,” sê Matteus. “Ek wil darem bitter graag met my eie oë hierdie Kindjie sien van Wie die engele gesing het. Dis ’n groot dag vir Israel vandag.”
Views: 34






