Uit my boek "Maria"
Toe Josef een aand uit die herberg by die stal kom, is hy baie opgewonde. “Het jy al die helder ster opgemerk?”
Dit begin al skemer word. Josef het vir ons gaan kos haal, want ek voel baie ongemaklik in my swaar lyf. “Waar sal ek tog ’n ster sien? Ek kan nie eers my tone sien nie. Ek voel soos ’n seekoei met hierdie lyf. Wanneer sal dit tog end kry?” Ek weet ek is die laaste paar dae erg klaerig, maar ek kry myself nie gekeer nie. Seker maar die spanning oor die geboorte wat aan die oplaai is. Ek verbeel my juis die geboortepyne het begin, maar ek wil liewer niks sê voordat ek seker is nie. Netnou is dit ’n vals alarm, en dan is almal op hol vir niks.
“Wanneer die tyd reg is, my lief,” antwoord Josef, rustig soos altyd. “Maar kom kyk, jy móét die ster sien. Dis regtig iets besonders.”
Hy sit die kos neer en trek my agter hom aan na buite. Ek het al geleer dat dit nie help om my teë te sit as hy iets in sy kop gekry het nie. Die beste is om dit maar dadelik te doen en verby te kry, sodat ek weer met my eie dinge kan aangaan.
Die sterre begin een vir een kop uitsteek. Die aandster is op sy gewone plek, maar anders as ander aande is dit nie naastenby die helderste ster nie. Reg bokant ons flonker ’n ster wat ek nog nie voorheen opgemerk het nie. Dis of die ster die hele tyd sy oog knip of vir ons glimlag of iets. Hoe verspot kan ’n mens nie wees nie! Hoe op aarde kan ’n ster nou glimlag?
“Wat?” vra Josef.
“Hoe bedoel jy nou?”
“Nee, ek sien jy skud so jou kop en lag half.”
“Ek is sommer laf, dis al. Dit het vir ’n oomblik gelyk of die ster vir ons glimlag, maar dit kan mos nie wees nie.”
“Maar dis presies hoe dit vir my ook lyk!” antwoord Josef opgewonde. “Dis asof die ster vir ons wil sê hy kyk na ons en hy is bly saam met ons oor die geboorte.”
“Maar die geboorte moet nog kom, Josef. En buitendien, wat sal ’n ster nou weet?”
Josef sit sy arm om my skouers. “Ja, dis seker ’n lawwe gedagte. Maar ’n mens kan seker soms lawwe goed ook dink, of hoe? En ek sê vir jou, dis nie ’n gewone ster daardie nie. Ek weet hoe lyk die sterre, en ek het hom nog nooit voorheen gesien nie. Kom ons maak dit ons eie spesiale ster.”
“Josef en Maria se ster.”
“Nee, nee, kom ons noem dit eerder die geboorte-ster.”
“Wat van die Messias-ster van Betlehem? Die Messias-ster wat spesiaal uitgekom het om die geboorte van die wonderlikste baba ooit te vier.”
Hy soen my op die wang. “Van die wonderlikste ma ooit.”
“Jy is sommer nou stuitig.” Dierbare Josef. Hy doen so baie vir my en ondersteun my met die swangerskap, en dis nie eers sy kind nie. Ek wens ek kan vir hom ’n vrou wees, en ek weet hy wens dit ook. Maar eers moet ek God se kind in die wêreld bring. Tot dan is ek die Here s’n.
Kan ek myself dan nou beskou as God se vrou? Dis seker godslasterlik om so daaroor te dink. Maar wat is ek dan? Die engel het tog gesê ek het genade in God se oë gevind. Dit beteken dan seker dat Hy met ander oë na my as na ander vroue kyk? Met spesiale liefde? Of wat beteken dit?
“Waar is jou kop nou?” onderbreek Josef my gedagtes.
“Ag, ek dink sommer nou aan my en jou en God en alles. Ek weet nie mooi hoe ek oor myself moet dink nie. Ek wil vir jou ’n vrou wees, maar ek mag dit nie wees nie, want ek dra God se kind. Wat sê dit van my? Wie is ek?”
Josef vat my hande en soen dit. “Jy is ’n engel uit die hemel. Dís wat jy is. Ons twee se tyd sal nog kom, maar nou het ons albei eers ander werk. Ons moet ’n huis skep waarin God se seun gelukkig en veilig kan wees, kan opgroei en van die lewe en van liefde en van geloof kan leer.” Hy trek sy skouers op. “Dit is in elk geval wat ek dink. Hoe ons onsself moet noem – man en vrou, verloof – wat maak dit eintlik saak? Wat regtig saak maak, is dat God ons gekies het vir ’n baie spesiale werk. So miskien moet ons onsself God se spesiale mense noem.”
“Maar ek is bang ek sal dit nie goed kan doen nie, en dan? Sê nou ons mors sy opvoeding op? Sê nou ek laat hom val en hy kry seer, breek sy been baie sleg sodat hy sy lewe lank kreupel is? Of sê nou hy word siek en gaan dood voordat hy ’n jaar oud is? Sulke dinge gebeur, Josef!”
“Dit gaan nie help jy breek jou kop daaroor nie. Hy is nog nie eers gebore nie! Een dag op ’n slag. En buitendien sal God ons help. Dis tog sy kind, nie waar nie?”
“Jy is seker reg. Ek bekommer my te veel oor goed wat ek nie verstaan nie. Kom ons eet liewer, die kos word koud.”
Ons vat hande, en Josef vra die seën. “Here God,” bid hy, “ons dank U dat ons kos het om te eet. Dankie dat ons ’n dak oor ons kop het. Dankie dat U vir ons sorg. Dankie vir die ster wat U gestuur het om ons bly te maak en te herinner dat U na ons kyk. Maar ons wil ook vanaand weer ons eie vrese en kommer en domheid voor U bely, Here. Ons weet nie hoe die pad vorentoe moet loop nie. Ons weet nie hoe ons u seun moet grootmaak nie. Help ons, Here, en leer ons wat om te doen. En dan bid ek ook vir Maria, vir die geboorte wat sy nou enige dag moet deur. Help haar dat dit met haar en met u seun goed sal gaan. Ons verwagting is van U, Here. Amen.”
Ons eet in stilte, oorweldig deur die grootsheid van dit wat met ons gebeur.
Dan begin my kop weer in ’n rigting loop. “Jy weet, Josef, as jy nou alles in die hele wêreld kon doen, net wat jy wou, en alles wat jy wil, vir jou kind kon gee, waar sou jý gekies het om jou seun te laat grootword?”
Hy wag lank voordat hy antwoord, en dan skud hy sy kop. “Ek weet nie eintlik nie. Maar ek dink nie ek sou ’n stal gekies het nie.”
“Of ’n arm meisie uit die gewone mense om die ma van jou kind te wees nie.”
“Nee, daar verskil ek van jou. Ek sou jou gekies het. Om die waarheid te sê, ek hét jou gekies!”
“Kom nou. Josef, ek is ernstig. Kyk om jou. Kyk waar bly ons op die oomblik. Ek dink die seun van God verdien beter as dít. Ek sê jou, ek verstaan nie wat God besig is om te probeer nie. Ek verstaan nie hoe Hy dink oor dié goed nie. Ek weet net ék sou dit nie so gedoen het as ek Hy was nie.”
“Dis waar. Maar nou is ons nie God nie, en dit help nie ons breek ons koppe daaroor nie, want God het ons gekies, of ons nou dink dit was verstandig of nie.”
“Hy kon darem gereël het dat ons ordentlike verblyf het hier in Betlehem.”
“Ai, Maria.”
Ja. Ai. My kop haak heeltemal uit as ek aan dié dinge begin dink, en nou pla ek Josef ook nog met my vreemde gedagtes. “Jy moet jou nie aan my steur nie, Josef. Ek is gespanne oor die geboorte, nou sê ek goed wat kon gebly het.” Nog ’n kontraksie vreet deur my, die soveelste een. “Ek dink jy moet maar solank vir tannie Shlomit gaan waarsku. Die geboortepyne begin nou nogal kwaai raak, en al meer dikwels.”
“Hoekom sê jy my nou eers!” raas hy en spring op. “Ek is nou terug.”
Geseënde Kersfees! Mag Christus se lig ook jóú lewe verlig.
Views: 27






