Van ons Nuwe Testament redaksie
BETLEHEM. – Skaapwagters van die omgewing het teoloë hier verstom met bewerings dat die Messias gebore is. Engele het dit glo laasnag aan hulle vertel. Daarna het hulle self gaan kyk, en die Kindjie in ’n stal gekry.
Volgens die skaapwagters was hulle in die veld besig om hulle skape op te pas, toe hulle die ongelooflike tyding gekry het. Eers was daar net een engel wat die aankondiging gemaak het, maar kort daarna het ’n hele magtige koor van engele by hom aangesluit met ’n loflied tot Gods eer. “Dit was die mooiste musiek wat ek nog ooit gehoor het,” het een van die herders gesê terwyl die ander instemmend knik.
Teoloë met wie Die Bybelkoerant gesels het, is baie skepties oor dié vertelling. “Ek vind dit baie vreemd dat skaapwagters van alle mense die boodskap dat die Messias gekom het, gehoor het,” het rabbi Ariël gesê. “’n Mens sou verwag dat ons teoloë darem seker eerste daarvan sou weet. Buitendien, ons weet almal dat die skaapwagters goed weglê aan die voggies om die nagkoue weg te keer. G’ n wonder hulle sien naderhand engele nie!” ‘n Ander skrifgeleerde, rabbi Johanan, het bygevoeg: “Ons weet almal skaapwagters is onbetroubare getuies. Dis dié dat hulle woord nie in ‘n hof aanvaar word nie. So jammer, maar hierdie storie is darem net te dik vir ‘n daalder.”
Of die herders se verhaal werklikheid of verbeelding is, sal net die tyd leer. Dat die nag hulle lewe verander het, is egter onteenseglik. Bybelkoerant wonder of enige iemand só verwonderd kan wees oor hallusinasies uit ’n bottel.
- Lees hiervan in Luk. 2:8-20.
GEBOORTES
BEN JAKOB. Vir Josef, seun van Jakob, en sy vrou, Maria, is die allerfraaiste klein babaseuntjie Jesus in Betlehem gebore. Ons staan in verwondering voor u groot almag, o Heer!
- Lees hiervan in Matt. 1:18-25.
Om oor na te dink
Ek ontdek al hoe meer hoeveel anders God as ons is, en hoe anders Hy oor dinge dink as ek.
Die menswording van die Seun van God ís die grootste gebeurtenis in die bestaan van die mensdom. Daaroor is die Bybel baie duidelik. As God die grootste gebeurtenis in mensegeskiedenis laat gebeur, is dit nogal opmerklik dat die hoofkarakters in hierdie ongelooflike drama gewone mense was. Nie die politieke leiers nie, nie groot geleerdes nie, en selfs nie eers die godsdienstige leiers van destyds nie. Nee. Ons lees van Maria, ’n eenvoudige meisie uit Nasaret. Ons lees van haar verloofde, Josef. Hy was ’n doodgewone skrynwerker. En ons lees van skaapwagters. Ruwe, geharde manne. Gewone mense. Eenvoudige mense.
Dit sê vir my iets van die mense onder wie God tuis voel. En dit sê iets van die manier waarop God wil dat ons moet lewe. Prag en praal en luuksheid beïndruk Hom nie juis nie. God voel eerder tuis dáár waar mense in eenvoud en opregtheid lewe.
Mag jy en jou mense ‘n baie geseënde Kersfees beleef. En mag jy, in die gees van Kersfees, in eenvoud en opregtheid die Kind van Betlehem volg, die nuwe jaar in!
Hierdie is ‘n artikel wat ek in 2018 reeds uitgestuur het. Miskien is jy lus om dit weer te lees.
Views: 79