Uit my boek “Die verhaal van Dawid”. Jy kan dit by my bestel @ R350 (koerierkoste ingesluit) of die eboek @ R180.

Drie maande later gaan ons weer die ark haal, maar hierdie keer doen ons dit anders. Hierdie keer is Sadok in beheer, en nie Joab nie. Op sy aanbeveling het ek die hele Israel genooi vir die geleentheid, en is my soldate glad nie prominent nie. Mense het uit al die stamgebiede van Israel na Jerusalem gekom, en ook die priesters en Leviete wat gaan boer het omdat die heiligdom sedert Saul se dae min of meer opgehou het om te funksioneer.

Hierdie keer is dit ’n gewyde optog met geen militêre fanfare nie. Voor en agter die ark loop sewe priesters en blaas deurentyd op trompette. Die ark self word deur die priesters Abjatar en Sadok en nog ses familiehoofde van die Leviete op hulle skouers gedra. Hulle dra dit aan twee lang houtpale wat met goud oorgetrek is en deur vier goue dra-ringe aan die vier hoeke van die ark gesteek is, presies soos die boeke van Moses dit bepaal. Agter die ark volg ’n groot optog Levitiese sangers en orkeslede met harpe, liere, simbale en tamboeryne, en dan natuurlik ’n jubelende skare Israeliete.
Ek is heel voor, selfs nog voor die priesters met die trompette. Vir die geleentheid het ek hierdie keer, net soos die priesters en Leviete wat aan die optog deelneem, ’n mantel van fyn linne aan, en daaronder ’n eenvoudige linneskouerkleed. Met my lier in die hand sing en dans ek met volle oorgawe uitbundig al voor die ark uit. Jahwe is vir ons goed! Hy het Obed-Edom geseën in die tyd wat die ark by hom gestaan het, en Sadok verseker my dit is omdat Jahwe tevrede is. Halleluja!

Uiteindelik kom die prosessie by die tabernakel tot stilstand wat ek spesiaal vir dié doel laat maak het, presies net soos Moses voorgeskryf het. Dié is opgeslaan op ’n oop ruimte in die bokant van die stad, naby die paleis. Terwyl die trompette blaas, plaas die priesters die ark op sy plek agter-in die tabernakel, in die allerheiligste deel.

Ek het gereël dat daar brandoffers en maaltydoffers vir Jahwe in oorvloed gebring word, en daarna sing die Levietekoor onder leiding van Asaf die ‘Loof Jahwe’, ’n splinternuwe lied wat hy spesiaal vir die geleentheid gekomponeer het:

Loof Jahwe. Roep Hom aan!
Maak aan die nasies bekend wat Hy gedoen het.
Sing liedere, sing tot sy eer,
vertel van al sy magtige dade.
Roem sy heilige Naam,
laat dié wat die teenwoordigheid van Jahwe soek, bly wees.

Die klanke van die lied sweef oor die stad, jubelend, dankbaar, groots, en eindig uiteindelik in ’n magtige crescendo:

Loof Jahwe, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!
Julle moet sê: “Red ons, o God, ons Verlosser,
maak ons bymekaar, red ons van die nasies,
dat ons u heilige Naam kan loof
en ons in u lof kan verheug.”
Aan Jahwe die God van Israel kom die lof toe
van ewigheid tot ewigheid!

Ons luister in gewyde stilte na die Leviete-koor, en toe die laaste note oor die stad wegsterf, roep ek uit: “Amen! Prys Jahwe!” waarna die hele skare my roep opneem en saam uit volle bors jubel.
Uiteindelik stap ek vorentoe en gaan staan voor die koor. Ek lig ek my hand op om almal se aandag te kry. ’n Stilte daal oor die skare neer, en toe bid ek: “Jahwe, God van Abraham en Isak en Jakob, God van u volk Israel, ons dank U dat ons hierdie dag mag belewe: die dag waarop U ons met u heerlike teenwoordigheid seën. Dankie dat ons bevoorreg is om vandag u verbondsark terug in die midde van u volk te mag ontvang. Wil U dan, telkens as die priester na die ark toe ingaan met die offers van u volk, u hart tot ons neig en ons gebede verhoor. Wil U, Jahwe van die leërskare, in ons midde wees en u ewige arms om ons vou, sodat ons beskut kan wees in hierdie wêreld. Amen.”

Al wat toe oorbly, is om die mense te seën. Dié voorreg het ek vir myself uitgehou, en met opgehefde hande spreek ek die seën oor die skare feesgangers uit:

Jahwe sal julle seën en julle beskerm;
Jahwe sal tot julle redding verskyn
en julle genadig wees;
Jahwe sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!

Ek glo as daar rede tot fees is, moet dit behoorlik gevier word. Daarom laat deel ek aan elkeen wat vir die fees opgedaag het, iets spesiaals uit: ’n ringbrood, ’n bietjie dadels en ’n handvol rosyntjies. Toe almal gekry het, stap ek terug paleis toe. Oral langs die pad wuif die mense uitgelate vir my, die blydskap duidelik op hulle gesigte. Uitroepe van “Dankie, U Majesteit,” en “Prys Jahwe!” dra my tot in my paleis. Dit was ’n goeie dag.

In die voorportaal wag Mikal my in, arms gevou. “Kyk hoe lyk jy,” sê sy nog voordat ek kan begin om my wonderlike belewenis van die oggend met haar te deel.

Haar houding slaan my dronk. “Hoe bedoel jy nou? Wat is verkeerd?” Ek kyk of daar iets verkeerds aan my klere of sandale is, maar sien niks.

“Jy vrá nog!” ontplof sy. “Is dít miskien hoe die koning van Israel in die openbaar verskyn?” Sy beduie verontwaardig na my klere. “Ek skaam my dood. O, die skande!”

“Maar …”

Mikal gee my nie kans om iets te sê nie. “Wat dink jy moet die mense van ons dink? Wat moet ons onderdane dink, en die slavinne, dat jy so in jou … onderklere in die straat loop? Ag nee sies. Het jy dan g’n styl of respek nie?”

“Dis nie onderklere nie, Mikal, en jy weet dit net so goed soos ek. Dis ’n linneskouerkleed. Dis die drag van ’n priester, soos dit hoort op hierdie dag.”

“My pa het hom nie opgehou met die priesters nie. Hy het beter dinge gehad om te doen as om skaamteloos in die strate rond te dans soos … soos ’n mal ding!”

Haar woorde wond my diep, soos sy dit sekerlik bedoel het. Ek probeer eers op my tande byt, maar die seer wat ek aan die hand van haar pa moes verduur, stoot meteens van vooraf bitter in my op. “Dis waar, ja. Jou pa het hom nie aan priesters en dit wat heilig is, gesteur nie. Gaan vra maar vir die priesters van Nob as jy my nie glo nie.”

Vir ’n oomblik is die wind uit Mikal se seile. Dan verander sy die onderwerp. Sy weet natuurlik dat sy nie ’n rondte oor die priesters sal wen nie. “Dis oor jy maar net ’n skaapwagtertjie is wat sy lyf koning probeer hou. En dan is jy boonop nog ’n Moabiet ook! ’n Moabiet wat ons mense regeer. Dis om van te huil.”

“Ek het nie myself aangestel om koning te wees nie, so ek het nie in ’n spoggerige paleis soos jy grootgeword nie. Maar ek herinner jou daaraan dat jou pa óók nie in ’n paleis grootgeword het nie. Hy het sy pa se donkies opgepas voor hy koning geword het, as ek dit nie mis het nie.”

Mikal is te kwaad om haar te laat keer met logika, en sy tier voort: “Dis met gedrag soos vandag wat jou gebrek aan opvoeding en agtergrond uitkom, vir almal om te sien. My pa sou nooit só in die openbaar verskyn nie, wat nog te sê dáns soos ’n gek ding! My pa het geweet wat hoort en wat hoort nie. Hy was altyd waardig geklee, kan ek jou sê.”

“Altyd waardig geklee, sê jy? Dis ’n mooi grap. Ek het met my eie oë gesien hoe hy in Rama kaal op die grond lê en profeteer. Wat is sodanig waardig dááraan?”

“Dit was daardie ou slang van ’n Samuel wat hom getoor het om jou te beskerm toe jy destyds soos ’n sleg hond uit Gibea weggevlug het. Ek sou te skaam gewees het om dit te noem as ek jy was.” Sy skud haar kop. “Nee wat, Dawid. Ek sien nou my pa was die hele tyd reg oor jou. Jy is maar net ’n skaapwagter met ’n te groot kop. Jy sal nooit sy skoene kan volstaan nie.”

“As jou pa dan so danig wonderlik was soos wat jy sê, hoekom is ek vandag die koning en nie hy nie? Ek sal jou sê hoekom: dis omdat Jahwe my bokant jou pa verkies het. Jou pa het nie die mas opgekom nie, Mikal. Hy was ’n mislukking. Miskien het hy ’n wonderlike aanvoeling gehad vir wat die mense sal beïndruk en wat nie, maar dit skeel my min. Ek het nie die mense probeer beïndruk nie, hoewel ek ’n idee het hulle verstaan beter as jy wat vandag in die stad gebeur het. Maar ek het nie vir die skyn gedans nie. Ek het voor Jahwe die God van Israel gedans, omdat ek bly en dankbaar voor Hom is.”

Toe draai ek net daar om en loop weer by die paleis uit. Dis verby tussen my en Mikal. As haar pa my dan nie gebreek het nie, het hy tog daarin geslaag om my en Mikal se huwelik te verwoes. Ek moes vir my lewe vlug, toe gee hy haar vir Palti as vrou. Mý vrou. Vir Palti. En die jare wat ons uitmekaar gedwing is, was te veel.

As ek baie eerlik moet wees, het ek ook nie genoeg tyd gemaak om sake met Mikal uit te stryk sedert sy weer terug is in my harem nie. Te veel tyd en energie het ingegaan in die konsolidasie van die koninkryk, en ja, met soveel vroue in my harem is daar nie juis tyd om aan een vrou te veel aandag te gee nie. Ek het gehoop dat dinge asof vanself weer sal regkom; dat die spesiale vleuel wat ek vir haar in die paleis ingeruim het, haar gesindheid teenoor my sal laat versag. Ek was verkeerd.

image_pdfimage_print

Views: 22

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.