Ons is nou al ses weke in hierdie groot land. Ons het hier aangekom pas nadat Donald Trump vir die tweede keer president geword het. Ons is in Santa Barbara in Kalifornië. Nie Trump-wêreld nie, sal die inwoners jou gou verseker. Dis ’n lieflike stad/dorp. Die bouregulasies verbied geboue hoër as 3 verdiepings, en moedig ’n Spaanse boustyl aan. Daar is ’n sakekern, maar ook talle ander winkelsentrums wat gedesentraliseerd deur die hele stad lê. Dis hoekom dit meer grootdorp as stad voel. Die straatname is feitlik almal Spaans. Die Spanjaarde was immers lank voor die Amerikaners hier aan die weskus, en ’n groot deel van die bevolking is Hispanic. Santa Barbara het ontstaan as ’n sendingstasie van Spaanse sendelinge.
As jy jou ore toedruk, sou jy jou maklik kon verbeel jy is in die Wes-Kaap. Die klimaat is Mediterreens, en die plantegroei herinner sterk aan daardie wêreld. Talle plante wat inheems aan Suid-Afrika is, groei welig hier, soos koraalbome en geelhoutbome en strelitzias. Hulle noem Santa Barbara die Amerikaanse Riviera. Daar is lieflike strande, en aan die anderkant van die stad ’n bergreeks (maar die berge is nie so indrukwekkend soos die Kaap s’n nie).
Een ding wat jou dadelik vertel jy is in Amerika, is hulle manier van praat. Amerikaans is hard op die oor. Ek sien ’n insetsel op facebook waar ’n vrou vertel dat sy Australies kan praat sonder om enige gesigspiere te gebruik. (Australies is blykbaar die produk van die eerste setlaars wat uit die Britse strafkampe ontsnap het en permanent onder die invloed van rum was. Hulle kinders het dié vreemde dronk manier van praat aangeleer, en nou praat hulle almal so.) Maar terug by die insetsel. Die vrou sê om Amerikaans te praat, is ’n hele ander storie. Jy moet jy jou hele gesig gebruik. Dit sluit jou kakebeen, jou wange en jou keel (en jou longe!) in. Amerikaners is luidrugtige mense. Hulle praat hard en sonder enige inhibisies. Dis baie duidelik in die kerk, waar die liturgie baie responsoriese gedeeltes bevat. Ek is gewoond, in die NG Kerk, dat die lidmate geredelik deelneem met ’n gewone praatstem. Nie hier nie. Hier skree hulle dit amper uit. Kliphard en sonder skroom.
Dalk is dit omdat hier ’n kultuur is van “ons het aangekom”. En dis die waarheid. Dis ’n welvarende land waar mense baie anders oor geld dink as waaraan ek gewoond is. My dogter vertel dat ’n klomp vriende van elders by ’n welgestelde lidmaat se begrafnis besluit het om die kerk se bouprojek te help. Net daar maak hulle $5 miljoen bymekaar! Dis die helfte van die boukoste, in een oomblik. Verbysterend. Ek wil dit liewers nie in Rand omreken nie.
Ons kuier heerlik by ons kinders en Amerikaanse kleinkinders. Die kleindogter (nou 6 jaar oud) sing lustig die Amerikaanse volkslied en sing-praat met hulle tipiese infleksie, soos die egte Amerikaner wat sy is. En ons kleinseun van 2½ praat al meer Afrikaans sedert ons hier is. Maar ons tydjie hier raak nou min, en die afskeid en verlange druk swaar op ons gemoed.
Ons kinders se pad hierheen was nie hulle keuse nie. Maar hulle is nou hier. Soos ons dogter sê, dit is wat dit is. Hulle maak die beste van hulle geleenthede hier. Dis ons troos. Maar maklik is dit nie.
Views: 48