Die bruilof in Kana

Lees Markus 4:13-20 & Johannes 2:1-11

Hulle vertrek die volgende oggend vroeg na een van die buurdorpe verder wes aan die kus, Gennesaret, omtrent ’n uur se stap van Kapernaum. Terwyl hulle stap, vra Simon: “Rabbi, daardie gelykenisse in die skuit gister: hoekom gebruik U gelykenisse as U met die mense praat?”

“Ek gebruik gelykenisse, sodat dié wat buite die koninkryk van die hemel is, nie sal verstaan wat Ek sê nie. Maar júlle, julle is deel van die koninkryk, en daarom mag julle dit verstaan.”

Simon skud sy kop. Hy was nog nooit een wat ’n moordkuil van sy hart gemaak het nie, en nou sê hy: “Maar ek verstaan dit ook nie, Rabbi.”

Jesus gaan staan. “Wat verstaan jy nie?”

“Daardie gelykenis van die boer met sy saaiery.”

“En julle twee? Verstaan julle dit?” vra Hy vir Johannes en Jakobus.

“Nee, Rabbi.”

Jesus begin weer loop, en wys na die grond langs die pad soos Hy verduidelik: “Kyk, die saad is die verkondiging van die koninkryk wat mense hoor, en die mens se hart is die grond waarin die saad val. Party mense se hart is soos die pad: kliphard. Die woord kan nie ingang vind nie; voor dit kans kry om te ontkiem, kom die Bose en vat dit weg. Ander se hart is weer soos ’n klipbank. Hulle hoor die woord en aanvaar dit met blydskap, maar dit kry nie kans om wortel te skiet en sterk te word nie. As so iemand ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig. Dan is daar weer die man met ’n hart soos ’n stuk grond vol onkruid. Hy hoor die woord, maar die bekommernisse en die verleidelikheid van rykdom verstik dit, en dit bly sonder vrug. Gelukkig is daar ook mense met ’n hart soos vrugbare grond: hulle hoor die woord en verstaan dit. By hulle skiet die woord wortel en lewer ’n groot oes.”

Jesus draai na Simon. “Verstaan jy nou?”

Simon straal. “Ja, dankie, Rabbi. Nou is dit vir my so duidelik soos daglig. Hoekom het ek nie self so daaraan gedink nie?”

“Jy sal nog, glo My. Maar dit sal tyd neem. Wees net geduldig.”

***

Joagim se bruilof in Kana is ’n jolige, vrolike geleentheid, soos ’n bruilof behoort te wees. Almal wat deel van sy familie- en vriendekring is, is daar; ook Maria, en Sebedeus en Salome, en Jesus en sy ses dissipels. Maar toe gebeur die ondenkbare, elke bruidegom se ergste nagmerrie: die wyn raak op.

Nie baie gaste weet dit nie. Net die mense wat die naaste aan die kelners sit, kom agter daar is fout. Die manne praat saggies met mekaar en kyk vraend na die hoofkelner, maar hy gooi net sy hande moedeloos in die lug.

Maria sien dit, en stap oor na waar Jesus sit. “Hulle het nie meer wyn nie,” sê sy saggies, om nie die gaste te ontstel nie.

“Hoekom sê u dit vir my? My tyd het nog nie gekom nie.”

Maria voel afgehaal oor Jesus se antwoord. Dis so formeel, asof sy nie sy ma is nie! Maar toe sy omdraai en na haar plek langs Salome terugstap, besef sy dat Jesus haar nie afgejak het nie. Hy het haar net laat verstaan dat die rolle omgekeer het. Hy is nie in die eerste plek meer haar seun nie; Hy is nou haar Meester, die Seun van God, die Messias. Miskien help Hy tog vir die arme Joagim, anders is die stomme seun in groot verleentheid.

Sy stap na die hoofkelner toe. Sy beduie na Jesus en sê saggies vir hom: “Wat daardie Man ook al vir julle sê, moet julle doen.”

Toe sy weer sit, merk sy tot haar verligting op dat Jesus met die hoofkelner praat. Dié knik vreeslik ernstig en roep toe sy manne bymekaar. Kort daarna begin hulle die houers met die reinigingswater waarmee die gaste se hande gewas is, vol gooi met kruike water wat hulle uit die fontein gaan skep het. Toe al ses kanne vol is – dis altesaam omtrent vyf honderd liter water – gaan die hoofkelner na Jesus en sê iets vir Hom. Hy kyk onseker na die kanne en dan weer na Jesus. Jesus knik, en die man stap na een van die waterkanne, skep ’n beker vol daaruit en gaan gee dit vir die seremoniemeester.

Die seremoniemeester lyk uit die veld geslaan en gaan praat met die bruidegom. Die bruidegom haal sy skouers op, en glimlag dan breed. Toe klap die seremoniemeester sy hande om die gaste se aandag te trek. “Mense,” sê hy, “ek wil net julle aandag daarop vestig dat ons so pas ’n vars besending wyn gekry het, en dis die lekkerste wyn wat ek nog geproe het. So moenie skaam wees nie. Daar is genoeg om nog tot volgende maand bruilof te hou!”

Maria se hele gesig straal en sy kyk dankbaar na Jesus. Hy glimlag fyntjies en knipoog vir haar.

Andreas, wat die hele tyd vir Jesus dopgehou het, leun na Hom toe oor en vra: “Maar hoekom het U vir hulle wyn gegee, Rabbi? Is dit nie die bruidegom se plig om daarvoor te sorg nie?”

“Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê, Andreas. Oorvloedige lewe.”

VIR NADENKE

∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?

∙ As jy vir iemand moet verduidelik wat die oorvloedige lewe is wat Jesus vir ons wil gee, wat sal jy sê? En hoe pas jou begeerte na ’n oorvloedige lewe in by dit wat God vir jou gee, en by God se plan vir jou lewe?

∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?

image_pdfimage_print

Views: 6

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.