Lees Lukas 1:5-25

Sagaria se hand bewe effens terwyl hy die speserye en wierook afmeet om in die wierookpannetjie te gooi. Sy silwergrys hare, wat altyd weerbarstig op sy kop staan, is met sy priesterlike kopdoek toegemaak. Gelukkig vergoed sy baard vir die hare wat weggesteek is. Sy baard is sy trots. Toe sy slape begin grys word, het sy baard nog lank swart gebly, swart en blink. Maar dié dae is lankal verby. ’n Man van sestig kan ook nie verwag dat sy baard nog swart sal wees nie. Deesdae is dit silwerwit. Dit krul in ’n breë waterval van sy wange en ken af tot op sy bors. Elisabet soebat gereeld dat hy sy baard korter moet kap, maar hoe kap ’n mens nou jou trots korter? Af en toe sal hy bes gee en die punte effentjies knip, maar nie te veel nie. ’n Priester van die Here se baard móét lank en krullerig wees, sê hy altyd. Moses het ook so ’n baard gehad, en Samuel. Hoe weet hy dit? Hy weet net. Priesters weet sulke dinge, sê hy altyd vir sy vrou.

Hy neurie saggies terwyl hy die speserye en wierook vir die wierookoffer meng. Hy berei hom al dae lank vir hierdie geleentheid voor. Dis die hoogtepunt in sy loopbaan as priester. Elke keer as die lot op die Abia-groep val om die tempeldiens te verrig, stoot die opgewondenheid in hom op, maar meestal is dit net om teleurgesteld te sien hoe een van sy kollegas geloot word. Een keer tevore het die lot ook op hom geval om die wierookoffer te bring, maar toe was hy nog jonk en sy baard swart, en by ’n jongmens gaan die grootsheid van die oomblik mos maar maklik verby. Toe het hy nooit besef watter ongelooflike voorreg dit is om namens die volk voor God te staan nie. Toe het sy hande nie soos nou gebewe nie!

Die gewyde stilte van die tempel vul hom met ’n besondere vrede. Ja, die Here is goed vir hom. Hy en Elisabet het ’n vol en gelukkige lewe, al het hulle nie kinders nie, en oor ’n paar jaar, as hy te oud is om met sy taak as priester voort te gaan, sal hulle hulle oudag rustig in hulle huisie in die berge kan deurbring.

Hy wonder waarvoor hy vanoggend kan bid. Hulle sê mos altyd as die lot op jou val om die wierookoffer te bring, beteken dit dat jy die besondere guns van God geniet, en dan kan jy ’n spesiale gebed opstuur. Sagaria kyk op van die wierookbak na die fyn weefwerk op die swaar voorhangsel en glimlag. As hy en Elisabet tien jaar jonger was, sou hy geweet het wat om te vra – en hoe hét hulle nie destyds gebid vir ’n baba nie! Maar die Here weet die beste, en Hy het dit goed gedink om nie dié gebed van hulle te beantwoord nie. Noudat hy ’n bietjie ouer is, sien hy oral om hom die seënende hand van die Here, sodat hy werklik niks besonders het om te vra nie. Nee, vandag gaan hy nie iets vir homself in sy gebed vra nie. Hy gaan vir sy volk bid, vir die mense wat daar buite wag dat hy hulle moet kom seën. Hy sal bid dat God hulle gebede sal verhoor en uitkoms sal bring in die lewe van die mense wat nood het.

Hy onthou nog die verhale wat sy pa vir hom vertel het; verhale van ’n tyd toe Israel ’n onafhanklike koninkryk was. Sy pa kon hom ure lank besig hou met sy stories oor die heldedade van Judas Makkabeus en sy broers, hoe hulle die Grieke op hulle baadjie gegee het. Vir ’n honderd jaar was Palestina weer in Joodse hande, soos dit hoort. Maar toe, in die jaar wat hy gebore is, het die gehate Romeine gekom en die land gevat. As jongman – hy was maar drie en twintig – het die hoop in hom weer opgevlam toe prins Antigonus teen die Romeinse juk in opstand gekom het. Maar dit was die laaste hoop. Die Romeine het hom met die hulp van Herodes verslaan en daarna het Herodes hulle koning geword. En hy is nogal ’n nasaat van Esau! Vandat hy koning geword het, is niks meer dieselfde nie. Hy het Jerusalem in ’n Romeinse stad verander, kompleet met ’n gimnasium waar die mans sonder ’n draad klere aan teen mekaar meeding. En daardie paleis van hom is ’n skande. Soveel swier is ’n gruwelike vermorsing van geld. Húlle swaarverdiende geld!

Daar is darem één ding wat in Herodes se guns tel, en dis hierdie fantastiese tempelkompleks wat hy in die plek van die ou tempel gebou het. Die pilaargange reg rondom die tempel is die ideale plek waar rabbi’s hulle dissipels kan onderrig, of waar die teologiese gesprekke tussen die Fariseërs en Sadduseërs plaasvind. Dit vorm ook wonderlike voorhowe rondom die tempel waar ’n mens in gebed kan wees, afgesonder van die gewoel van die stad.

Sagaria glimlag as hy aan die Fariseërs en Sadduseërs se geskille dink. Hyself verkies om hom nie tot een bepaalde party te verbind nie, hoewel hy as priester seker nader aan die Sadduseërs staan. Die meeste priesters is Sadduseërs, en vir hulle is die wet van Moses die enigste gesaghebbende woorde van God. Hulle kyk ook ’n bietjie na die ander Joodse geskrifte waarin die leringe van die rabbi’s oor die laaste paar eeue opgeteken is, maar nie soos die Fariseërs nie. Vir die Fariseërs is dié ander geskrifte net so heilig soos die Wet. En dit kan tog nie! Op die ou end het die Fariseërs so baie wette dat ’n mens jou nie kan draai nie of jy oortree een daarvan.

Sagaria sug. Mense sal altyd van mekaar verskil as dit gaan oor die vraag hoe jy die Here moet dien. As die Messias net wil kom! Die profete het tog oor en oor van dié Seun van Dawid gepraat. Hy sal in krag optree en die volk agter God aan lei.

“Here, seën tog die offer wat ek namens die volk voor U bring,” prewel hy saggies en loop dan stadig met die wierookbak na die altaar om dit daar aan die brand te steek. Hy sit die bak versigtig op die altaar neer. Toe hy sy hand na die lampe uitsteek om die wierook aan die brand te steek, sien hy vir die eerste keer die engel wat regs van die altaar staan. Sagaria skrik so groot dat hy verbouereerd agteruit struikel. Het hy iets verkeerd gedoen, of wat maak die engel hier?

Die engel se stem klink vriendelik toe hy praat: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor.”

“My gebed?” vra Sagaria verbaas. “Watter gebed van my? Die een dat die Messias moet kom? Of dat God die gebede van die volk sal beantwoord?”

Die engel glimlag, en sê sonder om sy vraag reguit te antwoord: “Jou vrou, Elisabet, sal aan jou ’n seun gee, en jy moet hom Johannes noem. Hy sal groot vreugde vir jou bring, en baie sal bly wees oor sy geboorte, want hy sal groot wees in die oë van die Here. Wyn en bier sal hy glad nie drink nie, en reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie uit die volk Israel laat terugkeer tot die Here hulle God. En hy sal voor die Here uitgaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here ’n volk voor te berei.”

Dit kan tog seker nie waar wees nie! flits dit deur Sagaria se gedagtes. Toe hy sy kalmte herwin het, vra hy vir die engel: “Hoe kan ek weet dit is regtig so? Ek is tog ’n ou man, en my vrou is ook nie meer jonk nie.”

Die engel antwoord hom: “Ek is Gabriël, wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie boodskap aan jou oor te dra. Jy het ’n teken gevra en jy sal ’n teken kry: jy sal stom wees en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde, wat op die bestemde tyd vervul sal word, nie geglo het nie.”

Sagaria maak sy mond oop om verder met die engel te praat en hom uit te vra oor sy aankondiging, maar hy kry nie ’n woord uit nie. Hy kyk verbaas na waar die engel oomblikke gelede nog gestaan het, maar hy is reeds weg. En hy wat Sagaria is, is totaal stom, net soos Gabriël gesê het. Toe tref dit hom as ’t ware tussen die oë: net soos die engel gesê het. Maar dan is dit mos waar! Dit was nie net ’n vreemde droom nie. Hy en Elisabet gaan sowaar ’n seuntjie hê, ’n baie besondere seuntjie, Johannes! Watter gepaste naam is dit nie: Johannes, die Here is genadig. Die Here is genadig!

Sy vingers bewe toe hy die wierook aansteek. “Dankie, Here, dankie, dankie, dankie,” bid hy in sy gedagtes terwyl die trane oor sy wange loop.

Toe hy uiteindelik uit die tempel kom om die volk te seën, word die mense stil. Hulle sien die ou priester voor hulle staan. Dis duidelik dat hy gehuil het, maar sy hele gesig straal van vreugde. Hy beduie aan hulle dat hy nie ’n stem het nie, en toe hy sy hande in ’n woordelose seën ophef, gaan daar ’n sug uit die gemeente op. ’n Mens hoef nie die woorde te hoor om te weet dat die seën van die priester heil vir die volk wens nie.

VIR NADENKE

∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?

∙ Waaroor bid jy as jy met God praat? Wat is die een gebed in jou hart vir jouself? Vir die mense na aan jou? Vir die gemeente? En vir die land?

∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?

image_pdfimage_print

Views: 8

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.