In ons moderne samelewing is daar twee denkrigtings wat lynreg teen mekaar staan as ons nadink oor vreugde en ’n lewe van vervulling en selfs oorvloed. Aan die een kant het baie mense die idee dat regtig diep gelowige Christene die wêreld met al sy vreugdes en plesier behoort te vermy. Die grappie dat alles wat lekker is, sonde is, is ongelukkig ’n idee waarmee baie mense loop, en dit steel natuurlik hulle vreugde. Maar daar is ook ’n ander denkrigting wat ons van die spoor druk, en dit is die (wêreldse) konsep dat plesier om myself en my eie verwesenliking draai; dat ek kan en behoort te fokus op my eie vreugde en genot, want ek is dit aan myself verskuldig, en die wêreld skuld my dit.

Nie een van dié twee gedagterigtings is Bybels nie. Die Bybel is geen anti-plesierboek nie; dit is juis ’n boek wat ons wil help om geluk te vind en die lewe te geniet, maar dan nie geluk wat net om myself en my eie plesier draai nie, maar gewortel is in ’n innige verhouding met God en ’n verbondenheid aan die lewe en die mense om jou. Die Prediker (5:17-19) skryf dit in soveel woorde: “Ek het ook iets gesien wat goed is: dit is aangenaam om te eet en te drink en die lewe te geniet onder al die geswoeg op hierdie wêreld. Dit kom ’n mens toe vir die hele leeftyd wat God hom skenk. God gee aan ’n mens rykdom en besittings en laat hom dit geniet. God laat die mens sy deel ontvang en sy werk met vreugde doen. Dit is ’n gawe van God. So ’n mens dink skaars na oor wat in sy lewe gebeur, so vol is hy van die blydskap wat God gee.”

Hierdie reeks wil jou hiermee help: dit wil jou help ontdek hoe God blydskap gee; hoe jy die lewe as gawe uit God se hand kan geniet en met vreugde kan lewe. Want dit is presies dít wat God vir ons in gedagte het: ’n lewe van oorvloed en vreugde.

’n Waarskuwing hier aan die begin is van pas: vreugde is soos die spreekwoordelike goudpot aan die einde van die reënboog. As jy dit najaag, sal dit jou bly ontwyk, want lewensvreugde is nie iets wat jy iewers moet gaan soek nie. Dit is ook die Prediker se (2:11) slotsom. Nadat hy alles probeer het om vreugde te kry, sê hy dis ’n gejaag na wind, want alles kom tot niks. As jy vreugde soek en najaag, gaan jy dit mis. Lewensvreugde is ’n gawe, en jy ontvang dit namate jy op God fokus en Hom soek. Daarom nooi Jesus ons in Joh. 7:37-38: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.”

Daarom is hierdie reeks nie ’n handleiding oor vreugde nie, en fokus dit ook nie in die eerste plek daarop nie. Dit is ’n hulpmiddel in ons reis nader aan God; om Hom in Jesus beter te leer ken en beter te verstaan en beter te volg, want as dít gebeur, volg ’n lewe van vreugde en diepe geluk as ’t ware vanself. Want na die mate dat ons God beter ken en liefhet, verander ons eie lewens en ons denke. Die vrae waarmee ’n mens dus besig moet wees, is vrae soos hoe ons moet word en hoe ons moet leef om meer soos God te word. Kennis van God, en ’n lewe van diens aan Hom en ander, is die instrumente waardeur ons gehelp word om die oorvloed van God se genade en liefde te ontvang en te beleef.

In die Christelike geloof gaan dit nie net daarom dat ons die lewe moet vier nie; dit gaan veral daaroor dat ons daarna streef om deur God’s genade in Jesus Christus en deur die werk van die Gees verander te word. Om gelukkig te wees en goed te wees is twee kante van dieselfde munt.

Die moderne mens is oordrewe op sigself ingestel is: jy kan jou eie geluk verskaf; jy is net met jouself besig – met selfgenoegsaamheid, selfverwesenliking, selfvertroue, selfgerigtheid, selfskepping, selfrespek, selfvorming, selfuitdrukking, selfbeeld, selfbeheer, selfopoffering, selfvervulling, selfbevrediging, selfbeeld, selfaktualisering, selfkonstruksie, selfsug … kortom: selfbeheptheid. Eers as jy jouself ken en jouself liefhet en jouself uitdruk soos jy graag wil, kan jy regtig floreer en gelukkig wees, word geglo. So word vreugde in die mens self gesoek, in plaas daarvan om dit in God te vind en in die lewe voor Hom. Jesus het al hierteen gewaarsku (Mark. 8:34-35): “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.”

Op ons reis deur die Evangelies, op die spoor van Jesus, sal ons Hom beter leer ken en beleef hoe Hy nie op Homself gefokus het nie, maar op ander, en veral op sy Vader. My gebed is dat hierdie reis ons sal meeneem, dat ons ook nader aan God sal groei, Hom inniger sal liefhê en waardeer, met groter ywer vir Hom sal leef, en, in die proses, daagliks meer van die geluk sal ervaar wat alle verstand te bowe gaan.

image_pdfimage_print

Views: 13

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.