Maria
Lees Lukas 1:26-38
Nasaret is ’n klein dorpie. Dis teen die oostelike helling van ’n hoë heuwel gebou, en die huisies staan dig teen mekaar. Dit kry die oggendson, en die heuwel beskut die dorpie teen die ergste winde, sodat dit ’n aangename plek is om in te woon. Dis in ’n vrugbare streek geleë. Daar is egter een probleem: daar is nie baie drinkwater nie. ’n Enkele fontein bedien die hele dorp, en dié feit verhinder dat die dorpie uitbrei. Almal ken mekaar, en daar is min privaatheid, en min kans om alleen te wees.
Daarom vlug Maria graag na die heuwel agter die dorp as sy ’n kansie kry. Daar kan sy alleen wees, en haar drome droom sonder dat ander op haar aandag aanspraak maak. Sy is nou al ses maande aan Josef verloof. Hulle sal eers oor nog ses maande trou, in die lente, wanneer Josef sy huis vergroot en ’n nuwe dak opgesit het. Sy wens heimlik die wagtyd is al verby.
Toe sy op die top van die heuwel is, gaan sy op ’n groot klip onder ’n boom sit. Die uitsig is asemrowend. Voor haar is Nasaret, en aan haar regterkant, onder ’n skerp afgrond, lê die Esdralonvlakte met sy groen en bruin lappies grond. Sy vou haar arms om haar knieë en laat die wind deur haar hare speel.
Skielik hoor sy ’n stem: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”
Maria skrik haar boeglam. ’n Vreemde man verskyn skielik voor haar en noem haar boonop “begenadigde”! Sy deins verskrik terug en slaan haar hande oor haar mond. Dit lyk soos ’n engel!
Die engel glimlag. “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys sy guns aan jou. Jy gaan ’n baba hê, ’n seuntjie, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob regeer tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”
Maria skud haar kop. Dit voel soos ’n droom. Hier staan ’n engel voor haar en sê sy gaan ’n baie besondere seun hê, en sy is nie eers getroud nie! Haar bene voel bewerig, en sy val op haar knieë. “Die … die Seun van wie u praat, Meneer, is dit die Een wat ons verwag, die Messias?” Toe die engel bevestigend knik, vra sy: “Maar hoe kan dit wees?” Sy bloos toe sy sê: “Ek is nie getroud nie, en ek is nog … ’n maagd.”
Die engel Gabriël sit sy hand liggies op haar skouer, en ’n vreemde warmte kom oor haar. Dan sê hy: “Die Seuntjie sal nie ’n aardse pa hê nie, Maria. Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God.”
Maria is stomgeslaan. Hierdie tyding is ongelooflik, selfs skokkend.
Die engel praat weer: “Hoekom gaan kuier jy nie by jou tante Elisabet, die vrou van die priester Sagaria, nie? Sy is ook swanger, al is sy oud. Haar baba kom oor drie maande, en dit terwyl almal gesê het sy is onvrugbaar. Jy sien: niks is vir God onmoontlik nie.”
Toe sy na hom opkyk, swem haar oë in die trane. “Ek is tot die Here se beskikking. Laat alles wat u gesê het, met my gebeur.”
Toe sy later teen die steilte afstap huis toe, neurie sy saggies. Die Here het haar gekies vir ’n wonderlike taak, maal dit deur haar kop.
***
Maria glimlag toe sy na oom Sagaria en tannie Elisabet se huis stap. Josef was glad nie tevrede met haar plan om in Judea te gaan kuier nie. Dis tussen die berge en daar kan baie gevare skuil. Sê nou sy kom iets oor langs die pad, het hy probeer keer. En hy sal na haar verlang. En hulle moet praat oor wie almal na die bruilof genooi gaan word. Dierbare Josef. Hy sal ’n goeie man vir haar wees.
Die deur van tannie Elisabet-hulle se huis is nie toe nie, en sy stap in sonder om te klop. Oom Sagaria sal haar in elk geval nie hoor nie, want hy is ’n bietjie doof, en sy wil nie hê dat haar tannie onnodig opstaan nie. “Vrede vir julle,” groet sy vriendelik toe sy hulle in die skemerte van die huis sien.
Elisabet kyk verras op, en staan op om haar niggie te omhels. “Maar is dit dan nie my dierbare suster Debora se kind nie? Kyk hoe groot het jy geword, en mooi ook!” Maar voordat sy by Maria kan kom, steek sy vas en snak na haar asem. “Hoe skop die kêreltjie my nou,” verduidelik sy toe sy Maria se ontstelde uitdrukking sien.
Toe verander haar gesigsuitdrukking. Dis of daar ’n nuwe lig in haar oë kom. Sy kniel voor Maria, en roep uit: “Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot!”
“Tannie Elisabet?” vra Maria verbaas en probeer haar tannie optrek, maar sy bly op haar knieë staan.
“Hoe wonderlik is dit nie, dat die moeder van my Here na my toe kom!” roep Elisabet uit, haar gesig stralend.
“Maar … maar hoe?” stotter Maria.
Elisabet glimlag: “Net toe ek jou stem hoor, het die kindjie in my van blydskap beweeg, en toe het ek geweet watter wonderlike skat jy in jou dra, my kind. Geseënd is jy, my hartjie, omdat jy glo wat die Here vir jou gesê het, in vervulling sal gaan.”
Maria trek haar tannie op, verleë oor haar woorde. Toe sien sy vir die eerste keer dat haar oom langs hulle kom staan het. Daar is trane in sy oë, maar sy glimlag is so breed dat dit skoon wegraak in sy woeste baard. Hy vou haar toe in sy sagte priester-arms.
“Hy kan nie hoor of praat nie, my kind,” verduidelik Elisabet, en voeg haastig by toe sy Maria se ontstelde gesig sien: “Maar moenie bekommerd wees nie. Dis ’n teken van die Here. As my baba eers gebore is, sal hy sy stem terugkry.”
Maria kyk verwonderd na die twee oumense voor haar. Dis of daar ’n gloed in haar aan die brand gesteek is, en toe borrel die woorde asof vanself oor haar lippe:
Ek besing die grootheid van die Here,
ek juig oor God, my Verlosser,
omdat Hy na my in my geringheid omgesien het.
Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem,
omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het.
Heilig is sy Naam!
Hy bewys ontferming van geslag tot geslag
aan dié wat Hom eer.
Kragtige dade het Hy met sy arm verrig:
hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy uitmekaargejaag;
maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog;
behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes
en rykes met leë hande weggestuur.
Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom
deur te dink aan sy beloftes van ontferming
soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders,
aan Abraham en sy nageslag
tot in ewigheid.
∙ VIR NADENKE
∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?
∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?
∙ Probeer jou indink wat dit vir Maria moes kos om ja te sê op God se woord.
∙ Wat kos jou ja vir God jou?
∙ Bid Maria se loflied na.
Views: 3






