Jesus word in Betlehem gebore
Lees Lukas 2:1-20
Josef sug verlig toe hulle uiteindelik hulle bestemming nader. Hy voel nie gerus oor Maria nie. Sy is stil en lyk vir hom baie ongemaklik met haar swaar lyf op die donkie se rug, hoewel sy elke keer dapper met hom glimlag as hy na haar kant toe kyk. Die baba moet nou enige dag kom, en hy het al in sy verbeelding gesien hoe die kind iewers in die oop veld gebore word, en hoe hy Maria moet bystaan. Hy weet niks van sulke goed nie. Gee hom ’n saag of ’n beitel, ja, maar moenie hom vra om ’n baba te vang nie!
Toe hulle die laaste rantjie oorgaan en Betlehem voor hulle lê, is dit al laatmiddag. Langs die pad is ’n paar skaapwagters besig om aandete oor ’n vuurtjie te berei, die kleinvee veilig in ’n klipkraal agter hulle. Hulle waai vir die herders, en dié waai entoesiasties terug.
“Ek is bly ons hoef nie vanaand weer buite te slaap nie,” sê Maria. “Ek sien darem nou baie uit na ’n lekker warm bed en ’n kom warm water om te was. Die nagte bly maar koud, al is dit al lente.”
“Ja, en ek soek nou ’n warm bord kos,” voeg Josef by.
***
“Ja, ek is bly ek hoef nie na ’n ander plek toe te gaan om my te laat inskryf nie,” sug Simon en hou sy hande oor die kwynende vuurtjie. Dis al laat. Agter hulle blêr ’n lammetjie, en ’n ram kap met sy poot teen die grond. Ver weg in die rante hoor hulle ’n jakkals huil.
“Ek weet nie, oom Simon. Partykeer is dit nogal lekker om te reis. Dink net aan al die nuwe plekke wat jy sien en vreemde mense wat jy ontmoet,” sê Asarja dromerig. Hy lê met sy hande agter sy kop en staar die sterrenag in.
“Maar darem nie nóú nie, Asarja,” sê Natanja. “Ek dink nie daar is plek vir al die reisigers in die herberge nie. Oom Samma sê juis gister vir my die herberg op die dorp is stampvol. Waar moet al die mense slaapplek kry? Vat nou maar die twee wat vanmiddag laat hier verby is. Ek wed julle hulle slaap vannag buite. En die arme vroutjie lyk my is op haar laaste.”
Natanja staan op om nog ’n stomp op die vuur te gooi en gaan sit weer met ’n steun. “Ja, ek moet sê, dis malligheid om in so ’n toestand op die pad te wees. As my Merab eendag ’n baba verwag, pas ek haar soos goud op, dit kan ek julle verseker.”
Skielik is dit helder lig om hulle, soos die dag, en uit die lig tree ’n engel na vore.
“Wat is dit?” vra Asarja benoud, maar die ander kry nie ’n woord uit nie, so bang is hulle.
“Moenie bang wees nie,” sê die engel. “Ek bring vir julle goeie nuus, en dis vir die hele volk bedoel. Almal wat dit hoor, sal daaroor bly wees. Vandag is die Verlosser vir julle in die stad van Dawid gebore, die Messias, die Here! En dit is hoe julle Hom sal herken: die kindjie is in doeke toegedraai en Hy lê in ’n krip.”
Die volgende oomblik is die hele hemelruim vol engele, so ver as wat die oog kan sien. Hulle jubel dit uit:
Eer aan God in die hoogste hemel,
en vrede op aarde
vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!
Die soet klanke van hulle lied vul die weivelde en rol dan verder, sweef in die naglug tot in die dorp en die berge daar naby.
Vir ’n heerlike, salige oomblik voel dit vir die skaapwagters of hulle in die hemel is. En dan, eensklaps, is die engele weg, net so stil as wat hulle gekom het. Die skaapwagters kyk na mekaar, te verbysterd om iets te sê. Toe die werklikheid van wat hulle so pas beleef het, begin insink, sê Simon: “Manne, ek weet nie van julle nie, maar ek gaan nou reguit Betlehem toe om te gaan kyk wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het. Dit moet ek met my eie oë sien: die geboorte van die Messias.”
“Maar waar in die dorp moet ons gaan soek?” vra Benjamin, sy broer. “Julle het netnou self gesê die plek wemel van die mense!”
“Wel, ons weet minstens die Kindjie lê in ’n krip, dan is dit seker iewers in ’n stal,” sê Asarja.
“Dit help ons nog nie veel nie, ou seun,” kap Benjamin teë. “Daar is omtrent net soveel stalle in hierdie dorp as wat daar huise is!”
“Die dorp is darem nou ook nie só groot nie,” sê Natanja. “Ons gaan vra net vir tannie Abigajil of iemand haar vanaand laat haal het om ’n vrou met ’n geboorte te help. Almal weet tog van tannie Abigajil. Ek is seker sy sal weet.”
“Mooi gedink, Natanja,” sê Simon. “Kom ons loop! Ek wil darem bitter graag met my eie oë hierdie Kindjie sien van wie die engele gesing het. Dis ’n groot dag vir Israel vandag.”
Toe hulle eindelik by die stal kom waar die Kind gebore is, is hulle skielik skugter. Asarja pomp Simon in die rug. “Toe, stap Oom voor.”
En daar, in die stal, sien hulle Hom: ’n klein bondeltjie mens, styf toegedraai in doeke, op ’n bedjie van strooi in die krip. Sy ma sit moeg maar stralend langs die bedjie, haar oë vasgenael op haar seun. En eenkant, onbeholpe, die man: trots, sterk, rustig.
“Umm, ek bedoel, ons het net na julle baba kom kyk,” stamel Simon, en sak op sy knieë voor die Kindjie neer. “Die Messias!” prewel hy. ’n Traan loop oor sy wang en raak in sy baard weg. “Kom kyk, kêrels! Dis net soos die engel vir ons gesê het.”
“Loof die Here,” fluister Asarja, bang dat sy growwe stem die slapende baba kan steur.
“Dis ons Verlosser! Wie sou kon dink dat ons dié dag sou beleef?” sug Natanja.
’n Rukkie kniel hulle daar voor die Koning van die wêreld, en toe gaan hulle terug na hulle kuddes, vol verwondering oor wat God gedoen het.
VIR NADENKE
∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?
∙ Hoekom, dink jy, het God die nuus van Jesus se geboorte juis met die skaapwagters gedeel? Hoekom nie liewer met priesters of ander belangrike mense van destyds nie?
∙ Het God al ooit vir jou een of ander boodskap gegee? Hoe het jy dit te wete gekom? En wat het jy daarmee gemaak?
∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?
Views: 10






