Josef
Lees Matteus 1:18-25
Dis met ’n beklemming om die hart dat Maria uiteindelik, na drie maande, na Nasaret terugkeer. Sy sal nie haar geheim onbepaald kan wegsteek nie, en voordat almal kan sien sy is swanger en die skinderstories begin, sal sy met haar ma-hulle en met Josef móét praat. Vir haar ouers sien sy nog kans. Haar pa sal verskriklik skel as hy uitvind sy verwag, maar sy is seker haar ma sal haar glo, en sy sal hom help verstaan dat dit nie ’n gewone swangerskap is nie.
Maar Josef? Hoe sal hy die nuus ontvang dat sy verloofde swanger is? Sal hy haar glo? Sy probeer haar in sy situasie indink. Hoe sou sy gevoel het as sy ’n man was en sy ontdek haar verloofde is swanger, klaarblyklik by ’n ander man? Sal sy die verduideliking glo dat die swangerskap van God af kom, sonder seksuele ontrou? Sy sug. Sy sou dit seker nie geglo het nie.
Moenie bekommerd wees nie. Dis nie jou skuld nie. Jy het nie ’n fout gemaak nie! sê sy oor en oor vir haarself, maar dit stel haar nie gerus nie.
Sy is baie gespanne toe Josef die middag na sy werk afgehandel is, by haar kom kuier. Sy stel voor dat hulle die heuwel uitklim, sodat hulle alleen kan wees. Daar gaan hulle onder ’n boom sit.
“Jy het verander. Jy is so … stil,” merk Josef op.
“Ja. Daar is iets wat ek jou moet vertel, Josef,” sê Maria sag, en slaan haar oë neer.
“Wat is dit, my liefste?” Hy vat die haarlok wat weerbarstig onder haar kopdoek uitval, en druk dit agter haar oor in.
“Dis nie vir my maklik nie,” begin sy, en huiwer dan.
“Is my huis nie groot genoeg na jou sin nie?” vra hy besorg. “Of hou jy dalk nie van my werkswinkel nie? Wil jy liewer hê ek moet ’n herder wees, Maria? Sê net, enige iets. Niks wat jy vra, sal ek weier nie. Jy weet dit.”
Maria skud net haar kop.
Josef kyk haar skerp aan. “Is daar iemand anders?”
Sy kyk hom in die oë en sê dringend: “Nee! Daar is niemand anders nie, Josef. Net jy. Jy weet dit tog.”
“Hoe sal ek nou weet? Jy is nog jonk, jy is mooi, en jy was drie maande weg. Miskien is daar iemand in Judea wat by jou aangelê het?”
Maria bloos, en kyk af na haar maag. Dit voel vir haar almal móét kan sien sy is swanger, maar sy weet dis verspot. Dan kyk sy op, in Josef se oë. Sy lek oor haar droë lippe. Hoe moet sy begin? “Ek … ek was so drie maande gelede ook hier op die koppie, net hier waar ons nou sit. Dit was net voordat ek by tannie Elisabet-hulle gaan kuier het. Ek wou sommer ’n bietjie alleen wees. Toe staan daar skielik ’n engel hier by my.”
“’n Engel? ’n Regte-egte engel? Hoe het hy gelyk? Vertel, Maria, vertel!” Opgewonde spring hy op, maar gaan dan weer langs haar op die klip sit en vat haar hande in syne.
“Hy het ’n boodskap kom afgee, Josef,” sukkel sy moedig voort, haar asem vlak van die spanning. “Hy het gesê ek gaan ’n baba hê, en dié baba sal die Seun van die Allerhoogste wees.”
“Die … Messias?” sê Josef sag, verras. “Ons seuntjie gaan die Messias wees?” Hy spring weer op, gooi sy arms wyd oop en roep oor die velde: “Die Messias gaan kom om ons te verlos, en dit gaan ons seun wees. Ons seun gaan die Messias wees! Prys die Here!”
Sy trek hom aan sy kleed terug, sodat hy weer langs haar kom sit. Hoekom moet hy dit so moeilik maak? “Daar is nog iets, Josef.”
Hy moes die spanning in haar stem gehoor het, want hy is skielik weer ernstig. “Wat is dit?”
“Dis nie … óns seuntjie nie, Josef. God het self deur die Heilige Gees die lewe in my aan die groei gesit. Hý is die Vader van hierdie Seun.”
Sy sien hoe die lig uit sy oë verdwyn, soos ’n lampie wat doodgaan. Hy maak sy hande uit hare los. “Ek sien,” sê hy stram en staan stadig op. Hy kyk lank na haar met uitdrukkinglose oë, en sê dan: “Jy is swanger.”
“Ja, ek is, drie maande al.”
“En wie, as ek mag vra, is die pa?”
“Maar ek het dan nou net …”
Skielik is die lewe terug in sy oë, maar nou blitsend. “Nee, Maria, ek is jammer, maar daardie storie van jou kan jy maar vir die voëls vertel. ’n Engel nogal! Hoekom sê jy nie liewer eerlik en reguit jy het …” Hy kry nie die woord gesê nie, en probeer weer: “As jy minstens eerlik met my was, het ek miskien nog iets van jou gedink. Maar nou kom jy met allerhande snert oor engele en die Messias net om my te paai!”
Sonder ’n verdere woord draai hy om en loop terug dorp toe, en laat sy liefde, sy drome, sy hart daar op die heuwel agter. Eers toe hy sy deur agter hom toeklap, begin sy skouers ruk.
***
Daardie nag droom Josef. Hy sien Maria, reeds ver verwagtend, net buite die dorp, en ’n kring mense staan om haar, hy ook. Hulle het almal klippe in die hand en hulle skreeu: “Slet! Hoer! Met jou soort wil ons niks te doen hê nie!” Maria hou vol dat dit nie is soos hulle dink nie, maar dan begin die klippe op haar reën, en sy sak kreunend op die grond neer. Haar laaste woorde is: “Josef, sê vir hulle dis nie waar nie!” Dan bly sy leweloos tussen die klippe lê, terwyl dun straaltjies bloed oor haar gesig loop. Josef kyk na haar, en dan af na sy hand met die groot klip wat hy nooit gegooi het nie.
Josef is sopnat van die sweet toe hy wakker skrik. Sy mond is droog, en hy staan op om ’n bietjie water te gaan skep. “Here, wat moet ek doen?” bid hy verslae.
Toe hy in die kombuis kom, staan daar ’n vreemde man in die deur. “Josef seun van Dawid,” sê die man, “moenie bang wees om met Maria te trou nie, want die baba wat sy verwag, is deur die Heilige Gees verwek. Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy is bestem om sy volk van hulle sondes te verlos.”
Josef wil nog met die man praat, maar hy is klaar weg. Dit moes ’n engel gewees het, dink hy verwonderd. Dis seker dieselfde engel wat met Maria gepraat het! Dierbare, wonderlike, sagte Maria. Sy gaan die moeder van die Messias word, en hy het haar nie geglo nie. Hy het gedink dat sy … Hy stoot die gedagte aan sy verskriklike vermoedens doelbewus uit sy kop. Hoe moet die arme Maria nie nou voel nie!
Hy stap by die deur uit en kyk na die sterrehemel. In die ooste begin die lug al vaal word in aankondiging van die nuwe dag. Hy stap haastig na sy kamer en gooi sy bokleed om sy skouers. Hy durf nie ’n minuut langer vir Maria in haar ontreddering hou nie. Hy sal haar sommer dadelik gaan gerusstel.
Hy stap deur die slapende dorpie en maak sy arms wyd oop. Dan draai hy in die rondte, asof hy die hele dorp wil omhels. Ek het haar lief, en God het haar lief! Hoe wonderlik is die lewe nie!
VIR NADENKE
∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?
∙ Was jy al in ’n situasie waar jy nie geweet het watter kant toe nie? Hoe het God jou uit jou penarie gered? Of is jy dalk op die oomblik in so ’n uitsiglose situasie? Glo jy dat God nuwe hoop kan bring waar jy net probleme sien?
∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?
Views: 6






