Jesus word aan God gewy
Lees Lukas 2:21-40
Agt dae later is die Kindjie besny. Josef het dit self gedoen, met bewende hande. En toe die Kindjie begin skree van skok en pyn, sê Maria: “Sy naam sal Jesus wees. Die Here verlos.”
Hulle is nie meer in die stal nie. Josef het intussen vir hulle ’n kamer in die herberg gekry, en daar wag hulle totdat die reinigingstyd soos die wet van Moses bepaal, verby is: veertig dae lank. Toe saal Josef weer die donkie op, tel sy vrou en haar seun op die donkie, en val in die pad Jerusalem toe, omtrent twee uur se stap noord van Betlehem.
Dis al laat die oggend toe hulle in die stad aankom. Hulle stap deur die Vullispoort en volg die smal, kronkelende strate stadig, onseker, ongemaklik in die gewoel en rumoer van die stad. Die stof hang in die lug, en die somerhitte weerkaats van die kalksteenhuise weerskante van die strate. Hulle stap deur Kleinmarkstraat, en vergaap hulle aan die ware wat oral langs die pad uitgestal word: materiaal, pottebakkersware, gebak, meubels en implemente. Voor een van die huise sit ’n snyer, besig om ’n deftige mantel te maak. ’n Entjie verder is die markplein. Enige soort produk is daar te koop: vrugte en groente, gedroogde vis, klere, parfuum, juweliersware, en selfs aandenkings.
Hulle stop by een van die tavernes langs die plein, en Josef koop vir hulle ’n stuk gebraaide vis en groentesop.
Toe hulle die tempel nader, sien hulle die gegoede buurt aan hulle linkerkant, aan die westekant van die Hinnomdal. Breë geplaveide strate loop tussen die rykmansvillas met hulle groot tuine deur, en twee groot brûe verbind die rykmansbuurt met die res van die stad en die tempel.
Toe is hulle uiteindelik by hulle bestemming: die tempel wat koning Herodes gebou het. Daar is so baie goudplaat op die reusagtige marmerstene aangebring dat hulle hulle oë op skrefies moet trek om nie verblind te word nie. Hulle stap deur een van die talle sierlike poorte na binne, na die tempelplein wat feitlik reg rondom die tempel strek. Om die tempelplein is daar pilaargange, waar rabbi’s besig is om hulle dissipels te onderrig of met ander rabbi’s oor die uitleg van die wet te redeneer. Oral op die plein is daar stalletjies van geldwisselaars en kampies waar offerdiere gehou word, gereed om aan voornemende offeraars verkoop te word. By een van die stalletjies koop hulle twee tortelduiwe, en gaan dan by die ingang in na die voorhof van die vroue.
Daar los Josef vir Maria en die Kindjie en stap met die twee duiwe by die ronde trappies op en deur die Nikanorpoort na die voorhof van Israel, waar net Joodse mans toegelaat word. ’n Lae reling skei dié smal voorhof van die hof van die priesters, waar die priesters en Leviete die tempeldiens verrig. In die middel van dié hof staan die groot gehoringde altaar, met trappies daarom waarmee die priesters tot bo klim om te offer. Agter die hof van die priesters troon die eintlike tempel in al sy skitterende prag bo alles uit. Sy goue spitse skiet vyftig treë hoog die lug in.
Die priester neem die twee duiwe by Josef. Op die slagtafel sny hy hulle keel-af en vang die bloed op in ’n bronskommetjie. Nadat hy die bloed al om die groot altaar gesprinkel het, klim hy op na die top van die altaar en sit die twee duifkarkasse in die vlamme. Die geur van die offer vul die lug. ’n Oomblik staan die priester daar en kyk dat die offers verbrand voordat hy afklim en saam met Josef na die voorhof vir vroue stap. “Die Here seën jou, my dogter,” sê hy en hou sy hande seënend oor Maria. “Die Here het jou offer aanvaar. Jy is weer rein. Gaan in vrede.”
Josef hou die Kindjie na die priester toe uit. “Ons het gekom om hierdie Kind aan die Here te wy. Hy is die eersgeborene.”
“Jy verstaan dat dit beteken dat Hy dan vir altyd aan die Here behoort en in sy diens moet tree, en dat Hy nie soos jou ander kinders deel van jou erfenis mag ontvang nie,” sê die priester.
Josef kyk na Maria, en sy knik vir hom. “Ja, Eerwaarde. Ons verstaan dit.”
“Dit beteken ook dat julle Hom nie hoef los te koop van die Here nie. Hy is die Here s’n, nie julle s’n nie.”
Toe die ouers weer knik, neem die priester die Kindjie uit Maria se arms en lig sy gesig hemelwaarts. “Here, God van Abraham en Isak en Jakob, ons bring hierdie Kindjie na U toe, en wy Hom aan u diens. Neem Hom vir U en vul Hom met u Gees dat Hy sy hele lewe lank ’n werktuig van U mag wees.”
“Amen!” sê Josef en Maria gelyk.
Terwyl hulle oor die voorhof vir vroue na buite loop, hoor hulle ’n man wat roep: “Wag daar!”
Josef draai om en sien ’n man na hulle toe aangestap kom, sy rug krom van die ouderdom. “Wag vir my!” roep hy weer.
Talle nuuskieriges staan nader om te sien waaroor die man so roep. Toe hy by hulle kom, jaag sy asem. “Amper loop julle vir my weg,” hyg hy en vryf oor sy bors. Hy draai na Maria en hou sy arms uit. “My naam is Simeon. Die Heilige Gees het my belowe dat ek hierdie Kindjie hier sal kry. Kan ek maar?” vra hy, maar wag nie op ’n antwoord nie en vat die Kindjie uit haar arms. Maria is te verbaas om te weier.
Simeon lê Jesus in die waai van sy linkerarm en vryf met sy regterhand oor sy voorkop. Die trane loop vryelik oor sy wange. “Ek het gedink dié dag breek nooit aan nie,” sê hy en skud sy kop in verwondering. Toe lig hy sy regterhand hemelwaarts en sê: “Here, nou kan ek maar in vrede gaan soos U gesê het, want ek het met my eie oë die verlossing gesien wat U vir die hele wêreld berei het; ’n lig tot verligting van die nasies en tot eer van u volk Israel.” Hy draai na Josef en Maria en sê: “Die Here seën julle, my kinders, en laat sy vrede oor julle waghou.”
Toe hy die Kindjie vir Maria teruggee, word sy gesig somber. “Hierdie Kindjie sal deur baie in Israel verwerp word, maar vir ander sal Hy groot blydskap bring. Baie mense sal oor die betekenis van sy koms van mekaar verskil. So sal die gesindheid van die mense aan die lig kom. Maar wat jou betref, Mevrou, ’n swaard sal deur jou siel gaan.”
“Prys die Here!” roep ’n ou vroutjie uit wat ongemerk tussen die mense deur tot langs hulle gebeur het. Sy kniel voor hulle en bid: “Dankie, Here, God van Israel, vir hierdie Kindjie wat U gestuur het om u volk te verlos!” Toe draai sy na die mense om hulle en sê: “Julle moet die Here prys, mense, want hierdie Kindjie is die Messias wat God gestuur het!”
Toe is sy weg, en Simeon verduidelik: “Dit is Anna dogter van Fanuel. Sy’s ’n profetes.”
VIR NADENKE
∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?
∙ Hoe, dink jy, het dit gekom dat Simeon en Anna die openbaring gekry het dat Jesus die Messias is? Aan watter vereiste moes hulle voldoen om dié spesiale boodskap te ontvang?
∙ Dink jy die Here kan vandag nog aan mense sy wil bekend maak? Hoe sal jy te werk gaan om sy wil te verneem?
∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?
Views: 3






