Sterrekykers uit die Ooste

Lees Matteus 2:1-15

Dis nie vreemd dat reisigers uit verre lande Jerusalem aandoen nie. Sedert die Romeinse ryk wêreldwyd vrede gebring het, reis mense baie meer vryelik van een land na die ander: handelaars, diplomate, pelgrims. Daarom trek die sterrekykers uit die ooste nie juis aandag toe hulle op hulle kamele in die stad aankom nie. Maar toe hulle begin navraag doen oor ’n seuntjie wat as koning van die Jode gebore is, is dit ’n ander saak, en koning Herodes kom gou daarvan te hore.

Herodes voel glad nie goed oor wat hy hoor nie. Hy is oud en sieklik. Sedert sy troonsbestyging is hy op die uitkyk vir moontlike kandidate wat die kroon by hom kan afneem, en dié het hy een vir een geëlimineer; tot selfs van sy eie seuns wat te ambisieus na sy sin geraak het. ’n Nuwe koning? Nie waarvan hý weet nie; in elk geval nie in sy paleis nie. Dus: ’n bedreiging vir sy dinastie. Dié kêreltjie se liggie sal uitgedoof moet voordat dit te helder brand.

Koning van die Jode, sê die sterrekykers glo. Maar die Jode hét ’n koning – hý wat Herodes is, is hulle koning. Hy is nou wel nie ’n suiwer Jood nie, hy is ’n Edomiet. Maar hy is ook ’n nakomeling van Abraham, en kyk net die pragtige tempel wat hy vir sy mense gebou het.

Die gedagtes storm soos perde deur Herodes se kop. Die enigste ander bloedlyn wat moontlik ’n koning vir die Jode kan oplewer, is Dawid s’n. Maar die ballingskap het Dawid se dinastie effektief beëindig. Selfs toe die Jode onafhanklik na die Makkabese opstand geword het, was dit die priesterlike huis van Hasmon, nie van Dawid nie, wat die koningshuis was. En hy het met hulle almal afgereken; ook sy eie Hasmoniese vrou Mariamne en haar broer, en die kinders wat hy by haar gehad het, omdat hulle te veel invloed onder die Jode gekry het.

Toe laat hy die skrifgeleerdes en priesterhoofde roep. Hulle weet tog meer as hy van die volk se verwagtings. Daar is al geruime tyd ’n fluistering onder hulle oor die Gesalfde wat sal kom om die volk te bevry. Miskien weet hulle van ’n profesie oor dié Messias en waar hy gebore sal word.

“In Betlehem in Judea,” antwoord hulle dadelik, en haal ’n profesie van die profeet Miga aan:

En jy, Betlehem, gebied van Juda,
jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie.
Uit jou sal ’n leier voortkom
wat vir my volk Israel ’n herder sal wees.

Betlehem! Herodes se hart klop vinniger. ’n Adder het sommer hier onder sy neus uitgebroei. Gelukkig het die sterrekykers se navrae hom gewaarsku. Miskien kan hulle hom ook verder help …

“Ek verstaan julle soek ’n koning wat in my land gebore is?” vra hy toe die sterrekykers voor hom staan. Hy het hulle ontbied en op ’n klein onthaal getrakteer om hulle op hulle gemak te stel. “’n Koning is altyd nuus, en ek sal ook aan hierdie nuwe koning hulde wil bewys. Maar hoe weet julle van hom?”

“Ons het sy ster sien opkom en dit hierheen gevolg, U Majesteit.”

“A!” Herodes se hart klop woes toe hy die allerbelangrikste vraag vra: “Hoe lank is dit nou sedert julle sy ster opgemerk het?”

Die naïewe sterrekykers kom niks agter nie. “Dis nou iets meer as ’n jaar,” deel hulle hom mee.

Herodes neem ’n groot sluk wyn en glimlag joviaal. “Nou ja, Menere, ek dink ek het vir julle goeie nuus. My raadgewers sê vir my hulle vermoed die nuwe koning is in Betlehem gebore. Dis nie ver hiervandaan nie; ’n klein dorpie net suid van die stad.”

Die manne lyk verlig en buig diep.

“Maar geniet nog vandag die gasvryheid van my mooi stad, dan kan julle môre julle reis voortsit. En ek sal bly wees as julle hierlangs kan terugkom nadat julle die koning gekry het. Ek sal ook graag die kêreltjie wil ontmoet en vir hom ’n geskenkie vat, julle weet?”

Toe Herodes sy spioene die volgende oggend opdrag gee om die sterrekykers stilletjies te volg, is daar geen teken van hulle nie. Hulle het die vorige middag al vertrek.

 


Laat die aand – Maria is nog besig om die skottelgoed te was – is daar ’n ongewone opgewondenheid buite hulle kamer. Maar voor hulle nog kan gaan kyk, is daar ’n klop aan die deur. Josef kyk na haar, maar sy haal haar skouers op. Met ’n lampie in die hand maak hy die deur oop.

In die dowwe lig van die olielampie sien sy mense met vreemde klere aan; beslis nie Jode nie. En hulle praat Grieks, nie Aramees nie. Sy hoor hoe Josef met die ongewone klanke van die taal worstel. Haar eie Grieks is nie goed nie, maar sy kan darem verstaan dat hulle iets van ’n koning sê. Sy hoor ook die naam Herodes, en Jerusalem. Sou koning Herodes hulle gestuur het?

Voor sy verder kan dink, staan Josef opsy en laat die manne inkom. Hulle buig laag voor haar, maar sy is duidelik nie die doel van hulle besoek nie. Hulle oë soek deur die vertrek, en dan “Oe!” en “A!” hulle toe hulle die wiegie met die slapende Jesus in sien. Hulle stap nader en buig oor die Kindjie, en dan sak hulle op hulle knieë en buig teen die vloer.

“Hulle het gekom om aan die Koning van die Jode hulde te bewys,” fluister Josef. “Hulle het glo ’n ster uit hulle land tot hier gevolg.”

Toe die mans regop kom, stap hulle na buite en wink vir Josef en Maria, en wys hulle die ster: groot en helder en blink, hoog in die naghemel. Uit hulle saalsakke haal hulle geskenke vir die klein koninkie: goud, wierook en mirre, en gaan sit dit saggies voor die wiegie neer. En toe is hulle weg, so stil soos hulle gekom het.

Daardie nag droom Josef. Hy droom van ’n stroom mense wat voor Jesus se wiegie buig: die sterrekykers, ou Simeon en Anna, priesters en familiehoofde, en heel laaste ’n ou man met ’n kroon op: ’n koning. Die ou koning buig ook, maar hy sit nie ’n geskenk voor die wiegie neer nie. In sy hand is daar ’n dolk. Toe hy grynslag, sien Josef sy gesig vir die eerste keer. Dis koning Herodes. Hy lig sy hand met die dolk hoog bokant sy kop, en toe steek hy …

“Nee!” roep Josef uit en sit regop in sy bed. Maria mompel iets in haar slaap en draai haar op haar ander sy. Josef staan op en gaan kyk in die wiegie, maar Jesus lê rustig en slaap.

Verligting spoel oor Josef. Dit was net ’n nare droom. ’n Mens kan tog baie onsinnige dinge droom. Hoekom sal Herodes nou vir Jesus dood wil hê? Dan tref dit hom, en dit voel of ’n onsigbare hand sy keel toedruk sodat hy nie lug kan kry nie. Die sterrekykers was by Herodes, en hý het hulle Betlehem toe gestuur. Hulle het hom vertel van die koning wat hulle soek.

Koue sweet slaan op Josef se voorkop uit. Almal weet dat Herodes nie twee maal sal dink voordat hy enige moontlike opposisie doodmaak nie. Jy hoef nie ’n profeet te wees om te weet wat hy sal maak met die nuus dat daar ’n nuwe koning in sy land is nie.

Hy stap by die kamer uit en kyk onwillekeurig in die lug op. Die ster sit nog bokant Betlehem. Dit voel vir hom almal kan sien waar Jesus is. Dis asof hy al die strydwaens kan hoor aanstorm. Daar onder die wye sterrehemel sak hy op sy knieë en bid: “Here God, wat moet ek doen?”

Dan hoor hy dit: ’n stem wat vir hom sê: “Staan op, neem die Kindjie en sy ma en vlug Egipte toe en bly daar totdat Ek vir jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.”

Josef kyk verskrik om, maar daar is niemand naby nie. Dit moet God wees wat sy gebed geantwoord het! Met verligting, maar tog ook dringend, stap hy terug kamer toe en gaan maak Maria wakker. Voor die dag breek, wil hy al baie ver van Betlehem af wees.

VIR NADENKE

∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?

∙ Die sterrekykers het baie moeite gedoen om by Jesus uit te kom. Dink jy jy doen genoeg moeite om by Jesus uit te kom?

∙ Op watter maniere probeer Satan vandag nog die werk van God in die wiele ry? Is daar iets wat jy daaraan kan doen?

∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?

image_pdfimage_print

Views: 3

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.