Johannes die Doper
Lees Lukas 3:1-18
Nie net Jesus is deur daardie paasfees geroer nie, sy kleinneef Johannes ook. Dis asof iets hom aandryf om die mense voor te berei op die Dag van die Here, die groot dag waarop God gaan ingryp en met die goddeloses gaan afreken. Maar hy kan nie gaan nie, want sy ma is oud en sieklik, en as hy padgee, is sy aan die genade van ander oorgelaat. Dus bly hy by die huis, en sit ure met die rabbi en redeneer oor die koms van die Dag van die Here.
Na sy ma se dood later daardie jaar, trek Johannes weg uit die berge en gaan soek die Essene op. Hy bly nie lank daar nie, want hulle visie is te eng, te selfgesentreerd. Johannes wil die hele volk op God se koms voorberei, en daarom maak die Essene se onttrekking uit die samelewing nie vir hom sin nie. Hy trek verder en soek die stilte van die woestyn op om alleen met God te wees. Soos Elia van ouds leef hy van die kos in die veld, sprinkane en wilde heuning, en dra hy ’n kleed van kameelhaar en ’n breë leergordel.
Toe die tyd reg is, begin Johannes preek. Hy kies sy preekplek goed: by die Jordaan, naby die plek waar die rivier in die Soutsee vloei, by die groot drif waar mense uit Perea die rivier oorsteek op pad na Jerigo en Jerusalem. Daar preek hy vir die mense: “Bekeer julle en laat julle doop as teken van julle berou, want die koninkryk van God het naby gekom!”
Die mense trek in groot getalle na die Jordaan om hulle sondes te bely en gedoop te word; die Essene ook. Sal die Aäronitiese Messias nie uit die huis van Aäron kom nie? En is Johannes seun van Sagaria nie ’n priesterkind uit die geslag van Aäron nie? Dan moet dit mos die einde van die tye wees wat aangebreek het, soos Jesaja al voorspel het:
Iemand roep in die woestyn:
Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.
Elke kloof moet opgevul en elke berg en bult platgemaak word;
die krom paaie moet reguit en die ruwe paaie gelyk word.
En al die mense sal die verlossing sien wat van God kom.
Die mense van Judea stroom na Johannes, nie net sodat hy hulle kan doop nie, maar ook sodat hulle na sy woorde kan luister. Want Johannes praat reguit. Vir hom is iets óf swart óf wit; daar is niks grys tussenin nie. As hy so op die rotsbank staan en preek met die wind wat deur sy woeste swart hare waai, bewe selfs die dapperstes voor sy blik.
Gou is daar ’n fluistering onder die volk dat hy die Elia is van wie die profeet Maleagi gepraat het, die een wat God sal stuur voordat die groot dag kom. Het Elia nie ook ’n kleed van kameelhaar met ’n leergordel gedra nie? En was Elia nie ook die profeet wat nie geskroom het om die sonde van sy tyd uit te wys nie? Hy het vir niemand gestuit nie, selfs nie vir die koning nie.
Johannes stuit ook vir niemand nie, selfs nie vir die gesiene Fariseërs en Sadduseërs wat uit Jerusalem gekom het om hulle ook te laat doop nie. Toe hulle nader kom, wys hy na hulle en sê: “Julle slange, waar kom julle daaraan dat julle God se dreigende oordeel kan ontwyk? Dink julle ’n bietjie water oor julle koppe kan julle red? En dan gaan julle terug na julle spoggerige huise en lewe voort soos altyd! Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie dink: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie. Abraham kan julle nie red nie.”
Johannes bly ’n tyd lank stil en gluur die mense voor hom aan. Sweet pêrel op sy voorkop, loop in sy ruie wenkbroue in en af teen sy slape, maar hy kom dit nie agter nie. Hy is met ’n heilige vuur vervul, en hy roep: “Net hulle wat rein leef, sal staande bly as die groot en vreeslike dag van God kom. Ek sê vir julle: die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”
Toe klim hy van die rotsbank af en stap na af na die rivier. ’n Paar dissipels volg hom, maar die ander huiwer, tot in hulle wese geruk deur die kragtige woorde van die profeet. Dan storm een vorentoe en val voor hom op sy knieë. “Meneer,” vra hy verslae, “wat moet ons dan doen?”
Johannes gaan staan en draai om na die mense toe. Hard, sodat almal kan hoor, antwoord hy: “Wie twee stukke klere het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dit deel met die een wat honger is.”
’n Tollenaar staan nader. “En ek, Meneer? Wat van my?”
Johannes kyk die man aan, sien sy rykmansklere, sy goedversorgde hande, en skud sy kop. “Jy weet dit net so goed soos ek: moenie meer invorder as wat vir jou vasgestel is nie.”
“Maar … maar dan sal ek arm word!”
“Arm in die oë van die wêreld, maar ryk by God!”
Die mense het nou nader gekom en staan om hom, almal gretig om te hoor wat die man met die bulderende stem sê. Twee soldate staan ook onder hulle. “Het jy vir ons ook ’n woord?”
“Ja. Wees tevrede met julle soldy. Moenie julle mag misbruik en mense hiet en gebied net soos julle lus het, of geld van hulle afpers nie.”
’n Ou man kom voor hom staan. “Boet, sal jy my doop?”
“Hoekom, Oubaas?”
“Want ek is ’n sondaar. Ek wil nie langer so leef nie. Ek wil skoon wees, vergewe wees. Asseblief,” vra hy en gryp Johannes se hande vas.
Johannes glimlag en vat die man om die skouers. “Kom saam met my.” Saam stap hulle die rivier in, totdat hulle halflyf in die water staan. Daar vat hy die man aan sy skouers, druk hom onder die water in, en hou hom ’n paar tellings so.
Toe die man proesend en hygend opkom, sê Johannes: “Staan op, Oubaas! Jy is skoongewas. Die koninkryk van God is ook vir jou. Gaan leef die lewe van ’n nuwe mens!”
Die ou man kyk in die lug op. Die water stroom van sy hare en baard af. Hy lig sy arms en roep: “Halleluja! Prys die Here!” En hy lag. “Ek is skoon, nuut!”
Toe is daar geen keer meer aan die mense nie. Hulle storm plassend die water in na die profeet Johannes seun van Sagaria: mans en vroue, kinders, soldate, Esseners, Fariseërs, Sadduseërs, Leviete, skaapwagters, priesters, tollenaars, leerlooiers, rabbi’s. Almal wil hulle laat doop deur die profeet uit die woestyn, Johannes seun van Sagaria, om so die koninkryk van God in te gaan.
VIR NADENKE
∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?
∙ Wat dink jy van Johannes die Doper? Hoekom, sou jy sê, het sy woorde die mense so diep getref?
∙ Dink jy Johannes sal vandag nog so gewild onder die mense wees? Waaroor sou hy die meeste gepraat en gewaarsku het?
∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?
Views: 4






