Jesus se doop

Lees Matteus 3:13-17

Johannes is die nuwe sensasie in Palestina. Sy naam is op almal se lippe: die prediker van die Jordaan, die priesterkind Johannes seun van Sagaria. Die Esseners hou vol dat hy die langverwagte priester-Messias is. Ander is nie so seker daaroor nie, maar almal is dit eens: hy is ’n man wat deur God gestuur is. Daar word tog van hom vertel dat ’n engel voor sy geboorte in die tempel aan sy pa verskyn het. Hy is ’n spesiale man. En gou kry hy ’n nuwe naam: Johannes die Doper.

Die nuus oor Johannes se optrede bereik ook die timmerman se huis in Nasaret. Josef is al tien jaar gelede oorlede, toe Jesus twintig was. Van toe af het Hy die werkswinkel oorgeneem, saam met sy jonger broer Jakobus. Die ander broers – Josef, Simon en Judas – is jonk en Jesus en Jakobus leer hulle nog die basiese dinge van hulle ambag.

“Dankie,” sê Jesus vir sy ma toe Hy die beker bokmelk by haar neem. Sy het in die werkswinkel ingekom om dit vir Hom te bring. Hy glimlag. “Ma se neef maak deesdae opslae.”

“Ja, tannie Elisabet sou trots gewees het op hom. Dis jammer sy kan dit nie beleef nie. Maar ek wag al lank daarvoor. Weet Jy wat het die engel vir oom Sagaria gesê toe hy Johannes se koms aangekondig het?”

“Ek dink nie Ma het al ooit met my daaroor gepraat nie. Ek weet net ’n engel het vir oom Sagaria in die tempel ontmoet, en toe kon hy nie praat nie tot die dag toe Johannes besny is.”

“Ja, dit was ’n opwindende tyd. Oom Sagaria sê die engel het vir hom gesê Johannes sal baie uit die volk Israel laat terugkeer tot die Here hulle God. En hy sal voor die Here uitgaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here ’n volk voor te berei.”

“En dis presies wat nou gebeur. Hoeveel mense het nie in hierdie dae reeds tot inkeer gekom nie!”

Maria kyk na haar Seun. Haar hart klop wild toe sy saggies vra: “Ek wonder wanneer die res van die profesie in vervulling sal gaan.”

“Ma bedoel wanneer die Een kom vir wie hy die volk voorberei?”

“Ja.”

“Wat dink Ma?”

Maria kies haar woorde versigtig. Sy is bang sy sê te veel en druk Jesus in ’n rigting in, maar sy is ook bang sy sê te min. Uiteindelik antwoord sy: “Dit maak nie saak wat ek dink nie, my kind. Al wat ek weet, vir seker weet, is wat die engel voor jou geboorte vir my gesê het dat Jy groot sal wees en die Seun van die Allerhoogste genoem sal word, en dat Jy die troon van jou voorvader Dawid sal kry en as koning oor die nageslag van Jakob sal heers tot in ewigheid.”

Jesus begin tydsaam die gereedskap wegpak. Dan vee hy die werksbank af, deeglik en netjies, soos dit sy gewoonte is. Toe kyk Hy sy ma in die oë. “Dit is tyd, Ma. Ek gaan môre na Johannes toe, dat hy My ook doop.”

“Kom jy weer terug?”

“Ek weet nog nie, maar Ek glo nie.”

“Maar sal ek Jou weer sien, Jesus?” vra Maria, skielik benoud.

“Ma is my ma, is Ma nie?” antwoord Hy met ’n teenvraag.

***

Die dag begin vir Johannes soos enige ander dag. Hy het gepreek en toe die mense genooi om hom die water in te volg. Talle het gereageer en in ’n lang tou ingeval, opgewonde om deur die groot prediker gedoop te word. Johannes se aandag is ten volle by die persoon wat hy doop. Elkeen kry individuele aandag. Dikwels is daar spesifieke leiding wat sy luisteraars soek wanneer hulle voor hom staan.

Toe hy opkyk om die volgende persoon te doop, staan Hy daar voor hom: sy kleinneef Jesus, die seun van sy niggie Maria. Hy lyk soos baie ander Jode van die platteland. Hy dra ’n grofgeweefde linnekleed, met ’n swaar blou mantel om sy skouers.

Johannes het Hom agtien jaar laas gesien, by daardie paasfees wat sy hele lewe verander het. Maar hy glimlag nie by die weersiens nie; hy word stil. “Jy het nie my doop nodig nie, Jesus,” keer hy. “Jou ma het altyd gesê jy is die voorbeeldigste kind wat ’n ouer kan wens om te hê. Jy lewe jou hele lewe lank al getrou volgens die Wet. Waarom moet ek jou doop? As een van ons twee gedoop moet word, is dit ek. Jy moet eerder vir mý doop.”

Maar Jesus laat Hom nie ompraat nie. Bedaard antwoord Hy: “Maar jy moet dit nogtans nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.”

“Goed, as jy daarop aandring.” Hy sit sy hande op Jesus se skouers. Die aanraking laat ’n rilling deur sy arms gaan. Hy druk sy kleinneef onder die water in.

Die water maak ’n oomblik bokant Jesus se kop toe en dan kom Hy weer op. Hy maak sy oë oop en glimlag met Johannes. “Dankie, Johannes.”

Dit voel vir Johannes of die tyd stilstaan. Jesus se oë is poele lig wat diep in sy siel inkyk. Die volgende oomblik rammel dit asof daar donderweer is, maar die lug is blou en wolkloos. Hy hoor ’n gefladder in die lug, en dan sien hy dit: ’n wit duif wat asof van nêrens verskyn het en op Jesus se skouer kom sit. Weer rammel dit, maar Johannes hoor in die gerammel ’n stem wat uit die hemel praat: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom is Ek baie bly.”

En nou is dit Jesus wat Johannes aan die skouer vat en saggies druk. Maar sy aanraking is soos ’n stroom krag wat deur hom vloei. “Dankie vir wat jy doen,” sê Jesus, en glimlag weer.

Toe vlieg die duif op van Jesus se skouer en hang ’n entjie bokant Hom voordat dit wegvlieg, in die rigting van die woestyn. “Ek moet nou gaan,” sê Hy, skielik haastig. Hy draai om en loop uit die water uit na die woestyn toe, in die rigting waarin die duif so pas gevlieg het.

Johannes kyk Hom lank agterna, en toe tref dit hom. Dit was nie ’n gewone duif nie, dit was die Heilige Gees wat op Jesus gekom het. “My Here en my God!” prewel hy.

 

VIR NADENKE

∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?

∙ Hoekom, dink jy, moes Jesus gedoop word, al was Hy sonder sonde?

∙ Is daar sonde in jou lewe wat weggewas moet word? Het jy dit al vir God gesê?

∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?

image_pdfimage_print

Views: 4

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.