Die versoeking in die woestyn
Lees Matteus 4:1-11
Toe Jesus uit die Jordaan uitkom, is Hy reguit na die woestyn toe, waar Hy veertig dae lank in volkome afsondering met sy Vader besig bly, besig om Hom voor te berei vir die groot taak wat op Hom wag. Veertig dae lank eet Hy niks, vas Hy en bid Hy.
Jesus is alleen in die woestyn, behalwe dat die duiwel ook daar is. Veertig dae lank treiter hy Hom, versoek Hom, pla Hom in sy toewyding aan God.
Na veertig dae sonder kos is Jesus honger. Die son brand ongenadiglik op Hom neer. Dis stil in die woestyn; daarom het Jesus hierheen gekom: om die stilte op te soek. Maar dan word Hy bewus daarvan dat Hy nie alleen is nie.
“Dagsê, my liewe vriend,” groet die duiwel Hom met ’n stroperige stem. Hy kyk om hom en sê dan: “Aardetjie, maar dis darem warm en droog hier rond! En nie ’n eetdingetjie in sig nie. Is Jy nie honger nie?”
Jesus antwoord hom nie, maar sluk onwillekeurig by die gedagte aan iets te ete.
Die duiwel sê: “As Jy die Seun van God is, kan Jy mos sommer hierdie klippe in brood verander! Dan sal Jy oorgenoeg hê om te eet.” Hy glimlag spottend. “Dis natuurlik te sê ás Jy die Seun van God is. Toe, probeer dit, dan kan Jy sommer self ook sien of Jy die Seun is.” Hy haal sy skouers op. “Vir mý lyk Jy maar alte veel na ’n doodgewone, sterflike mens. Die Seun van God hoort op ’n troon, nie hier in die woestyn tussen niks en nêrens nie!”
Bedaard kyk Jesus die duiwel aan, en antwoord dan: “Daar staan geskryf: ‘’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.’”
“Ja, kruip maar agter die Skrifte weg,” sê die duiwel vies. Dan kry hy ’n nuwe glinstering in sy oë. “Maar ek ken ook die Skrifte, en ek is nog nie klaar met Jou nie. Kom ’n bietjie saam,” sê hy. “Ek wil Jou iets gaan wys.”
Sonder om op ’n antwoord te wag, gryp die duiwel Jesus en sleep Hom saam Jerusalem toe. Daar laat hy Hom op die hoogste punt van die tempel staan. “As Jy die Seun van God is, kan Jy mos maklik hier afspring sonder om iets oor te kom. Toe, bewys dit aan Jouself. Spring hier af! Daar staan mos geskryf: ‘Hy sal sy engele oor jou opdrag gee’ en: ‘Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie.’” Die duiwel kyk vermakerig om hom rond. “Die Seun van God het darem seker ’n klomp engele wat Hom dag en nag bedien en beskerm, sou ek reken, of hoe? Sien Jy miskien enige engele? Ek sien nie die kamtige klomp engele wat Jou moet beskerm nie! Laat dit Jóú nie ook wonder nie? Want ek moet sê, dit laat mý nogal ernstig wonder of Jy regtig die sogenaamde Seun van God is.”
Jesus antwoord hom nie.
“Toe, spring! Daar staan mos geskryf dat die engele Jou sal kom red, Seun van God!” koggel die duiwel weer.
’n Spiertjie pluk in Jesus se wang, maar andersins lyk Hy kalm toe Hy antwoord: “Daar staan ook geskryf: ‘Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.’”
Toe vat die duiwel Hom na ’n baie hoë berg toe. Van die bergspits kan ’n mens na alle kante toe ver sien. “Jy is mos die koning van die Jode, hoor ek. ’n Onbeduidende ou klompie dwarstrekkerige mensies wat in elk geval nie in Jou glo nie.” Die duiwel glimlag sarkasties en beduie dan na die uitgestrekte wêreld om hulle. “Kyk om Jou heen – al die koninkryke van die wêreld met hulle prag en rykdom en hulle miljoene der miljoene mense. Dit alles is myne. As ek my vingers klap, dan spring hulle. Maar ek sal ’n ooreenkoms met Jou aangaan. Ek kan Jou koning van die wêreld maak, nie net koning van die Jode nie! Ek sal dit alles vir Jou gee as Jy neerval en my aanbid.”
Jesus kyk na die wêreld. Ver anderkant die see is die kuslyn van die Afrika-kontinent, en na regs lê Griekeland en Rome, en anderkant dié lande die woeste, ongetemde Europese stamme. Agter hulle strek die oneindige ruimtes van Asië. Vlak voor hulle lê Judea, ’n klein ou provinsietjie op die wêreldkaart. Hoeveel van hulle glo werklik in God se beloftes? Vir hoeveel van hulle het Hy gekom? Hy skud sy kop. Hy het nie illusies daaroor nie. Dit sal net ’n handjie vol Jode wees wat Hom uiteindelik as Messias aanvaar. Teenoor die miljoene wat die duiwel Hom aanbied, lyk dit maar pateties. Maar dit is hoe God werk. Het Hy dan nie kans gesien om destyds met ’n enkele bejaarde, kinderlose egpaar ’n nuwe volk te begin nie?
Jesus kyk weer om Hom. En Hy sien die ganse wêreld wat die duiwel so pas vir Hom op ’n skinkbord aangebied het. Hy sien egter nie die weelde en praal van die wêreld nie, maar mense, vasgevang in die bose greep van die groot verleier; mense vir wie Hy gekom het om hulle te verlos.
“Toe, wat sê Jy?” por die duiwel Hom aan en vryf sy hande gretig saam. Dan strek hy homself in afwagting op die aanbidding wat hy weet Jesus aan hom sal gee.
Jesus kyk na hom en sy oë blits. “Gaan weg, Satan, want daar staan geskryf: ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.’”
Die duiwel krimp ineen soos ’n windsak wat afblaas as dit stukkend gesteek word. Sonder ’n verdere woord verdwyn hy, sodat Jesus alleen op die top van die berg bly staan.
Die volgende oomblik is die berg toegepak van ’n engeleskaar wat Hom versorg en aanbid en prys:
Ons loof U, Jesus, Seun van Dawid!
U het gekom om die mensdom te bevry,
uit die mag van Satan kom U hulle red.Ons loof U, Jesus, Gesalfde van God!
U is gebore uit ’n brose vrou,
maar U is die Leeu uit die stam van Juda.
Ons loof U, Jesus, Spruit van Isai!
Wonderbare Raadsman, Sterke God,
Ewige Vader, Vors van Vrede!Ons loof U, Jesus, Seun van die Vader!
God uit God, Lig uit Lig,
Hoop van die wêreld!
VIR NADENKE
∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?
∙ Jesus het anders na die wêreld gekyk as Satan, en dit het Hom gehelp om Satan se aanslag af te weer. Wat sien jý as jy na die wêreld kyk?
∙ Dink na oor die versoekings waarmee jy persoonlik worstel. Kan jy uit Jesus se hantering van sy versoekings ’n plan van aksie opstel oor hoe jy in die toekoms versoekings wat oor jou pad kom, gaan hanteer?
∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?
Views: 3