Die getuienis van Johannes die Doper
Lees Johannes 1:19-40
Johannes die Doper se optrede maak soveel opslae dat die Joodse Raad hom nie langer kan ignoreer nie. Al meer mense kyk na hierdie hoogste godsdienstige gesag in Jerusalem om hulle leiding te gee oor hierdie man, want hy ontlok gemengde gevoelens by die mense. Party glo dat God besig is om deur hom in te gryp en iets nuuts te doen. Dis hulle wat saam met Habakuk bid:
Here, ek het gehoor wat van U vertel is
en ek is vervul met ontsag vir wat U gedoen het.
Doen dit tog ook in ons tyd,
laat u dade ook in ons tyd ervaar word.
Maar daar is baie ander wat die bestaande situasie voordelig vind. Die Joodse Raad het immers baie mag, en Pontius Pilatus raadpleeg hulle oor baie sake. Pilatus is ’n harde man, maar dinge kon baie erger gewees het. Hierdie nuwe prediker kan maklik die brose balans in die gemeenskap versteur, veral omdat hy uit die priestergeslag kom. Dit kan gebeur dat die volk daarop aandring dat hy as nuwe hoëpriester gesalf moet word, en dit kan ’n verkeerde ding wees.
Daarom stuur die Joodse Raad ’n afvaardiging na Johannes die Doper. Hulle kry hom by Bet-Abara oorkant die Jordaan, waar hy besig is om te doop. Hulle kom op die warmste tyd van die dag daar aan, as die mense die koelte van die bome opsoek om te eet. Johannes en sy dissipels het hulle uit die skare teruggetrek. Hulle eet roosterkoek wat een van die dissipels, Andreas seun van Johannes, vir hulle gebak het, en drink net water daarmee saam.
Toe die manne na hulle toe aangestap kom, ken Johannes hulle dadelik tussen die ander mense uit: manne met ’n doelgerigte stap, nie soekend soos die ander nie, nie in ootmoed oor hulle sondige lewe nie, nie smagtend na die koms van die koninkryk van God nie, maar skepties; manne wat heeltemal ongeroer deur sy woorde daar staan, manne op ’n sending.
“Wie is jy?” vra die segsman uit die hoogte. Hulle stel hulleself nie bekend nie; hulle groet ook nie. Wat hulle betref, is dit nie nodig nie. Hulle kom immers op die hoogste gesag met hom praat, en hy is net ’n woesteling, ’n indringer wat die delikate balans tussen die godsdienstige groepe kom versteur.
Johannes ignoreer hulle ongemanierdheid. “Vrede vir julle ook, broers,” groet hy, maar staan nie op nie. Hy trek sy wenkbrou half geamuseerd op. “Julle wil weet wie ek is? Maar julle weet mos: ek is Johannes seun van Sagaria.”
Die segsman vou sy arms voor sy bors. “Dít weet ons almal, ja. Maar ons wil weet wat jy hier doen. Ons wil weet wie jou die reg gee om die hele volk in beroering te bring. Wat is jou plan?”
Johannes sit die roosterkoek wat hy aan die eet is, neer. “Julle wil weet of ek die Gesalfde is, die Messias.”
Die manne trap ongemaklik rond. Al die mense kyk na hulle, en hulle is duidelik antagonisties. Die segsman knik. “Ja. Dis wat ons kom uitvind het.”
“Nou maar dan kan ek julle gerusstel, Menere: ek is nie die Messias nie.”
“Maar wie is jy dan? Is jy Elia?”
Johannes skud sy kop. “Nee, ek is nie.”
“Is jy dan die Profeet?”
“Die Een wat die Here beloof het soos Moses sal wees? Die Een in wie se mond God sy woorde sal lê?”
“Ja, Hy. Is jy die Profeet?”
“Nee.”
“Nou maar wie is jy dan? Jy is nie die Messias nie, jy is nie Elia nie, jy is nie die Profeet nie. Ons kan tog nie dít aan die Joodse Raad gaan rapporteer nie! Ons moet tog meer kan sê as dit wat jy nié is nie. Wat het jy oor jouself te sê?”
“Ek is ’n stem. Sê dit vir julle base. Ek is net ’n stem.”
“’n Stem? Wat vir ’n antwoord is dit?”
“Gaan sê vir julle meesters daar in Jerusalem: ek is die een van wie die profeet Jesaja gepraat het; die een wat in die woestyn roep: Maak die pad vir die Here reguit.”
Een van die afgevaardigdes, kennelik ’n Fariseër, wys beskuldigend na Johannes. “Waarom doop jy dan as jy net ’n stem is en niks meer nie?”
Johannes skud sy kop en staan op. Sy groot gestalte troon bo die Fariseër uit, sodat hy na Johannes moet opkyk. “Soos ek gesê het: ek is net die een wat die pad voorberei. Ek doop maar net met water, maar ná my kom daar Een wat my meerdere is. Hy is soveel groter as ek dat ek nie eens werd is om sy skoene uit te trek nie. Hý sal met die Heilige Gees en met vuur doop.”
“So, die Messias kom nog?” dring die afvaardiging aan.
Johannes kyk by hulle verby, na die mense wat oral in groepies om hulle sit en eet, en dan gaan sy oë verder, na die heuwels op die horison in die suide. “Hy is naby,” sê hy sag. “Hy is hier. Hy kan nou enige dag kom.” Dan kyk hy die afvaardiging aan en sy oë blits. Hy lig sy hand omhoog en sê: “Hy het sy gaffel in sy hand en Hy sal sy dorsvloer van hoek tot kant skoonmaak. Die koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met ’n onblusbare vuur verbrand.”
Vroeg die volgende oggend, terwyl hulle nog besig is om te eet, kom ’n Man oor die bult na hulle toe aangestap. Toe Johannes Hom sien, stoot hy die bak met die vis eenkant toe en staan op. “Dáár is Hy,” fluister hy met ontsag in sy stem, en dan, harder, jubelend: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Dit is Hy!”
“Rabbi?” vra Andreas verbaas. “Van wie praat u nou?”
“Dís die Een van wie ek gepraat het toe ek gesê het: ‘Ná my kom daar ’n Man wat my vóór is, want Hy was voor my reeds daar.’ Die Een wat my meerdere is, wie se skoene ek nie eens werd is om uit te trek nie.”
“Maar hoe weet u dit?”
“Ek het dit ook eers nie geweet nie,” sê Johannes, “maar dis vir Hóm dat ek die pad gereed moes maak. En toe, ses weke gelede, het Hy na my toe gekom. Ek het Hom gedoop, en toe het ek duidelik gesien hoe die Heilige Gees soos ’n duif uit die hemel op Hom afkom. Tóé het ek geweet dis Hy.” Die laaste woorde fluister hy amper, soveel ontsag is in sy stem: “Hy is die Seun van God.”
“Rabbi?” vra Andreas weer, maar toe is daar nie meer tyd vir uitvra nie, want Jesus is by hulle.
“Vrede vir julle,” groet Hy met ’n breë glimlag. “Het julle vir My ook iets te ete? Ek is dood van die honger.”
Andreas kan sy oë nie van Jesus afhou nie. Die hele tyd terwyl hulle eet, hou hy Hom onderlangs dop: hoe Hy praat, hoe Hy beduie, hoe Hy glimlag. Dis sy oë, dink hy. Dis sy oë wat ’n mens vasgryp. En Johannes se woorde bly in sy kop draai. Wat beteken dit dat Hy die Lam van God is wat die sonde van die wêreld wegneem? Hoekom noem Johannes Hom die Seun van God?
Te gou het hulle klaar geëet. Jesus staan op. “Ek moet gaan. Baie dankie vir die heerlike ete.”
Toe is Hy weg. Hy loop met lang, gemaklike treë in die rigting van Jerigo. Andreas wil agter Hom aanhardloop, maar sy bene is lam.
Johannes vat hom aan die skouer. “Toemaar,” sê hy. “Hy sal weer hierlangs kom, en dan kan jy met Hom saamgaan as jy wil.”
En sowaar, die volgende oggend kom Jesus weer daar verby. Maar hierdie keer stop Hy nie om te kuier nie. Hy wuif net en stap aan.
“Daar is Hy, Andreas,” sê Johannes opgewonde en wys na Jesus. “Daar is die Lam van God!”
Toe hy sien Andreas huiwer, sê hy: “Toe, gaan nou. Jy hoort by Hom.”
“Maar wat van u?”
“Ek het van die begin af gesê ek is net die stem van een wat roep. Ek het net die weg voorberei sodat mense by die Messias kan uitkom. Ek het jou by Hom uitgebring, het ek nie?” Johannes glimlag en omhels sy eertydse dissipel. “Gaan, volg Hom. Hy moet meer word en ek minder.”
VIR NADENKE
∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?
∙ Die afvaardiging wat Johannes kom ondervra het, het met ’n agenda gekom, nie om Johannes se prediking te hoor nie. Wat is jou verwagting as jy kerk toe gaan? Of Bybel lees?
∙ Johannes was ’n nederige mens, wat niks anders wou doen nie as om Jesus te eer. In die proses was hy tevrede om terug te staan. Watter rol speel Jesus in jóú lewe?
∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?
Views: 13






