Lees Johannes 3:1-21
Die paasfees was naby, en Jesus en Andreas gaan saam soontoe. Kort nadat hulle in Jerusalem aangekom het, gaan hulle tempel toe om God te aanbid. Soos die keer toe Jesus maar twaalf jaar oud was, loop hulle deur die stad met sy malende menigte van regoor die wêreld: party van so ver as Egipte en Etiopië en Babel. Almal het Jerusalem toe gekom vir die groot fees.
By die tempelplein gaan Jesus botstil staan. Die koop en verkoop van offerdiere en die gekibbel van die geldwisselaars waaroor Josef destyds ook gekla het, tref Hom soos ’n skoot koue water. “Hoe moet die mense hier aanbid terwyl daar so ’n gedruis is, Andreas?”
“Die mense moet tog iewers offerdiere kan koop, Rabbi,” sê Andreas. “As hulle dit nie hier kan koop nie, wat gaan hulle doen?”
“Maar binne die tempel, Andreas? En weet jy hoeveel wins maak daardie verkopers? Dis ’n hele gekonkel, en die priesters maak goed geld. In plaas daarvan dat hulle die mense help om by God uit te kom, help hulle die mense uit hulle swaarverdiende geldjies.” Hy draai net daar om. “Kom ons loop. Ons kan môre weer kom. Van die ander kant af, dat ons nie dié basaar hoef te aanskou nie.”
Die volgende paar dae gaan hulle elke dag tempel toe, maar van die ander kant af, sodat hulle nie by die kraampies verby hoef te loop nie. Daar redeneer Jesus met die skrifgeleerdes en Fariseërs. Hy maak ook siekes gesond, en baie mense begin in Hom glo.
Teen die einde van die weeklange fees kom daar ’n man by Jesus aan. Dis reeds donker toe hy aan die deur van hulle kamer klop. Toe Andreas die deur oopmaak, glip hy dadelik in en maak self die deur agter hom toe. Hy gooi die mantelkap wat hy oor sy kop gehad het, terug, en Andreas sien dat hy ’n Fariseër is. Hy is nie meer jonk nie; die paar haartjies op sy kop is wit. Maar hy het ’n sterk gesig, en kom duidelik uit ’n bevoorregte stand.
“Is jou meester hier?” vra hy sag.
Andreas buig formeel. “My Meester is nie juis gek oor Fariseërs nie,” sê hy onvriendelik. Hulle was die hele dag besig en hy is moeg. Dan vra hy tog: “Wie sal ek sê wil Hom sien?”
Die man lyk senuweeagtig en kyk rond of daar ander is wat hom kan hoor. “Nikodemus,” antwoord hy, nog altyd so sag dat Andreas sy ore moet spits om te hoor.
Andreas stap voor hom die kronkelende trappies uit tot by die bokamer wat hulle vir die duur van die fees gehuur het. “Rabbi, hier is ’n Fariseër om U te sien. Sy naam is Nikodemus.”
Jesus staan op en buig. “Vrede vir jou,” groet Hy.
Nikodemus buig diep. “En vir u, rabbi Jesus.”
Toe hulle sit, sê Nikodemus: “Rabbi, ons weet dat u ’n leermeester is wat van God af gekom het, want geen mens kan hierdie wonderwerke doen wat u doen, as God nie by hom is nie.”
Jesus trek sy wenkbroue op. “Ons?” vra Hy.
“Ek en my kollegas van die Joodse Raad. Ons het van u kennis geneem. Dis dié dat ek gekom het om met u te kom gesels.”
“Dié tyd van die nag?”
Nikodemus word rooi in die gesig. “Umm, eintlik het ek u in my privaat hoedanigheid kom spreek, Rabbi. Ek stem nie saam met alles wat my kollegas sê en dink nie. Ek wil self ’n mening vorm. Daarom het ek gekom.” Hy kyk Jesus in die oë en sê: “Ek wil meer by u weet van die koninkryk van God waaroor u so baie daar in die pilaargange van die tempel praat.”
“Wat wil jy daaroor weet?”
“Hoe ’n mens deel daarvan kan wees.”
“Maar julle Fariseërs weet mos presies hoe dit werk, nie waar nie? Julle vertel dan vir al die mense wat hulle mag en nie mag doen nie, en al die wette wat hulle moet onderhou.”
Nikodemus kyk af. “Maar ek weet ook dat dit alleen my nie in die koninkryk sal bring nie.”
“En daar is jy heeltemal reg,” sê Jesus. “Dit moet jy weet: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”
Nikodemus kyk verbaas op. “Weer gebore? Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy ma se skoot kom en gebore word nie?”
Jesus skud sy kop. “Nee, Ek praat van geboorte uit water en Gees. Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees.”
“Bedoel u ’n geestelike nuutwording?”
Jesus knik, maar voor Hy kan antwoord, vra Nikodemus: “Hoe kan dit gebeur? Hoe werk dit?”
“Kan jy vir My verduidelik hoe die wind waai?”
“Nee, Rabbi. Ek weet maar net hy waai as ek die koelte teen my vel voel of die blare in die bome sien roer. Maar ek weet nie hoekom die wind party dae hard waai en ander dae sag, en party dae glad nie. Of hoekom die wind soms wes en dan weer oos waai nie. Dit verstaan ek nie. Dis ook nie asof ’n mens die wind kan sien nie.”
“Jy is reg. Dit is hoe dit ook gaan met elkeen wat uit die Gees gebore is.”
“Maar …” Nikodemus skud sy kop moedeloos. “Ek moet erken dat dit vir my steeds ’n raaisel is.”
“Dis God se werk, dís hoe dit werk. God moet jou nuut maak, Nikodemus, Hy moet jou nuut maak deur sy Gees wat in jou werk. Jy kan dit nie met jou verstand vasgryp nie. Jy moet God net toelaat om dit in jou te doen.” Hy kyk die Fariseër in die oë. “Dit vra geloof.”
Toe Nikodemus se gesig steeds ’n groot vraagteken bly, staan Jesus op en kyk by die venstertjie uit na die liggies van die stad om Hom. “Kan jy onthou wat Moses gedoen het toe die klomp giftige slange in die kamp ingekom het en die mense begin pik het?”
“Natuurlik! Hy het ’n slang uit koper gemaak en dit op ’n paal gesit. Die mense wat daarna gekyk het, het nie doodgegaan van die slangbyte nie.”
“Verstaan jy dit, Nikodemus? Dat ’n slang op ’n paal mense uit die dood kon red?”
“Maar dit was tog nie die slang nie, Rabbi. Dit was God wat die dood gekeer het.”
“A! En God gaan dit weer doen. Hy gaan die Seun van die mens ook verhoog, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.”
“U bedoel nou, dat hulle deel kan wees van die koninkryk van God?”
“Ja. God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”
“Ek het altyd gedink as God na die wêreld kom, sal dit wees om die goddelose te kom verdelg,” sê-vra Nikodemus, ’n groot frons op sy voorkop.
Jesus skud sy kop. “God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar om hulle te kom red. Die mense wat in Hom glo, word nie veroordeel nie. Aan die ander kant – hulle wat nie glo nie, is klaar veroordeel omdat hulle nie in die enigste Seun van God glo nie.”
Nikodemus hou sy hand op. “Wag nou, Rabbi. U gaan ’n bietjie te vinnig vir my. Die Seun van die mens: dis nou die Een van wie Daniël gepraat het, die Een wat hy voorspel het gaan kom om die koninkryk van God op te rig, die koninkryk wat nie vernietig kan word nie.”
“Dis reg.”
“En die Seun van God? Is dit dieselfde Persoon?”
“Ja.”
“Praat u van die Messias?”
Toe Jesus knik, sê hy: “U praat asof hierdie dinge reeds aan die gebeur is; asof die Messias reeds hier is!”
“Maar Hy ís, Nikodemus.”
“Maar Hy is nog nie verhoog nie.”
“Nee.”
Uiteindelik glimlag Nikodemus. Dis asof daar ’n lig in sy oë aangesteek is. Dan skud hy sy kop stadig, en sê verwonderd: “Wie sou kon dink dat die Gees van God nou deur ’n ou Fariseër soos ek se hart ook kan waai!” Dan staan hy stadig op, loop tot voor Jesus en kniel voor Hom met sy kop op die vloer. “Dit is U. Ú is die Messias, die Seun van God!” prewel hy.
VIR NADENKE
∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?
∙ Dink oor jou eie lewe, en hoe die Gees van God deur jou lewe waai. Waar sien jy tekens van sy uitwerking in jou?
∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?
Views: 18






