Simon hoor van Jesus
Lees Markus 1:19-28 en Johannes 1:40-42
Andreas volg Jesus soos ’n skaduwee. Hy is sy eerste dissipel. Op ’n dag kan hy dit egter nie meer vir homself hou nie, en hy glip weg see toe, waar hy weet hy sy broer Simon sal kry.
“Simon, kom!” roep hy toe hy by die strand kom. Hy beduie wild met sy arms. Simon se skuit lê ’n entjie van die strand af. Hy is besig om die nette op te trek.
Toe Simon naby die strand kom, hardloop Andreas in die branders in om die skuit op die strand uit te trek. Die visse lê blink in die skuit, maar Andreas sien dit skaars raak. “Ek het die Messias gekry!” sê hy opgewonde en trek sy broer aan die arm agter hom aan.
Simon laat hom nie sommer sleep nie. Hy rem terug en begin die visse in die skuit sorteer. “Wie?”
“Rabbi Jesus van Nasaret. Die Messias. Kom nou, ek wil hê jy moet Hom ook ontmoet. Hy is fantasties.”
“Jy sê hy is die Messias? Hier, in Kapernaum?”
“As jy gereeld in die sinagoge gekom het, sou jy nie só gepraat het nie.”
“Hoekom? Wil jy vir my sê ek is ’n heiden?” vra Simon verontwaardig. “Jy weet goed wat ek dink van rabbi Mahat en die dinge wat hy aanvang. Ek voel nie tuis daar nie, dís hoekom ek nie gaan nie.”
“Ek weet, maar ek praat nie dáárvan nie. Ek praat van rabbi Jesus se optrede in die sinagoge. Al vir die afgelope weke.”
“En wat laat jou dink hy is die Messias?” vra Simon effens geamuseerd. Andreas kan hom tog so maklik deur mense laat meevoer. Kyk net hoe het hy agter Johannes die Doper aangeloop. Noudat dié in die tronk gegooi is, het Andreas weer ’n nuwe held.
“As jy Hom ontmoet het, sal jy nie meer spot nie, Simon. Daar is baie ander wat ook glo Hy is die Messias, tot ’n lid van die Joodse Raad ook: Nikodemus. En hy is nogal ’n Fariseër.”
Simon spoeg op die sand. “Ek laat my nie deur ’n skynheilige Fariseër voorsê nie!”
“Maar dan moet jy Hom self ontmoet, Simon. Ek sê jou, jy sal dan ’n ander storie praat. Jy moet hoor hoe Hy met die mense praat, en die wonders wat Hy doen, self beleef. Net gister nog het Hy ’n man wat van die duiwel besete was, daar in die sinagoge genees.”
Uiteindelik het Andreas Simon se aandag. “Ou Malkija?”
“Einste.”
“Wat het gebeur?”
“Rabbi Jesus het weer gepreek. Jy moet Hom hoor, Simon! Sy woorde is soos manna vir ’n honger siel. Ek sê jou, die mense hang behoorlik aan sy lippe. Hy praat met gesag, en nie net dieselfde ou stories wat rabbi Mahat tot vervelens toe verkondig nie. Nee, Hy praat soos Een wat wéét.”
“Goed, goed, hy preek wonderlik,” sê Simon ongeduldig. “Maar vertel nou van Malkija.”
“Ek kom daarby. Rabbi Jesus was nog besig om te preek, toe storm Malkija daar in. Jy weet mos hoe lyk hy. Sy oë staan so wild in sy kop. Hy hol toe in die paadjie af en skree: ‘Ha! Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet wie U is: U is die Heilige van God!’”
“Maar hoor vir ou Malkija! Dit klink dan vir my hy het reggekom. Dit klink nie vir my na ’n man wat mal is nie, Andreas. Hy sê dan dieselfde dinge as wat jy van dié rabbi sê.”
“Hy is nie mal nie, Simon. Hy was van die duiwel besete. En jy moes hoor hoe hy met rabbi Jesus gepraat het! So … bang, maar ook vol veragting. En met so ’n snaakse diep stem. Grillerig.” Andreas ril by die blote gedagte aan die versteurde man.
“En wat doen jou rabbi toe?”
“Hy was wonderlik, Simon! Hy het Malkija kalm aangekyk, vol medelye en deernis.”
Simon gooi die visse een vir een in ’n groot sak, en kyk dan onseker op. “Deernis vir daardie duiwelbesetene? Ek glo dit nie!”
“Ek kon dit ook nie glo nie. Maar toe Hy praat, was sy stem skerp en gebiedend. Hy het nie met die stomme man gepraat nie, maar met die duiwel wat in die man was. Hy het net gesê: ‘Bly stil en gaan uit hom uit!’”
“En toe?”
“Toe laat die duiwel die arme man net daar op die grond neerslaan. Hy het sulke rukkings gekry, en toe gaan die duiwel uit hom uit.”
Simon fluit. “Sommer net so?”
“Sommer net so. Ek sê jou, Hy is die Messias. Wie anders het die mag om die bose geeste ’n opdrag te gee, en dan gaan hulle uit?”
“Ek dag die Messias kom om ons te bevry van die vervloekte Romeine en Herodes met sy goddelose vrou. Ek het nooit gedink Hy sal die duiwel se gal so lekker werk nie,” lag Simon. Hy gooi die sak met vis oor sy skouer en begin aanstap mark toe.
“Asseblief, Simon, ek smeek jou: kom saam met my. Jy sal nie spyt wees nie, ek verseker jou.”
“Jy het my saamgesleep na Johannes die Doper toe ook. En nou sit hy in die tronk.”
“Ja, maar hierdie Man is anders. Hy is die Messias. Toe, kom nou!”
“Miskien anderdag, Andreas. Ek moet nou eers hierdie vis gaan verkoop, anders is daar nie kos op die tafel nie. Ek is nie ongetroud soos jy nie, ou broer. Ek het ’n verantwoordelikheid teenoor my vrou en my skoonma.”
VIR NADENKE
∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?
∙ Dink na oor die rol wat Andreas gespeel het in sy broer Simon se bekering. Hoe help jý die mense na aan jou om by Jesus uit te kom?
∙ Waar het jy die eerste keer van Jesus gehoor? Hoe het jy toe gereageer?
∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?
Views: 12






