Jesus genees ‘n sieke by Betesda
Lees Johannes 5
Die paasfees het weer aangebreek, en Jesus en sy dissipels gaan weer Jerusalem toe. Hierdie keer trek Hy heelwat meer aandag as by die vorige fees, en ondervind ook heelwat meer teenkanting van die godsdienstige leiers. Hulle volg Hom oral waar Hy gaan en hou elke beweginkie met valkoë dop; hulle luister na elke woord wat Hy sê in ’n poging om Hom vas te trek.
Op die sabbat in die week van die fees gaan Jesus tempel toe om te aanbid. Net noord van die tempel is die Skaappoort, en ’n openbare bad met die naam Betesda is daar by ’n bron gebou. Rondom die bad is daar vyf pilaargange, waar gestremdes lê en wag op die oomblik dat die bron in die bad opborrel, want, so glo hulle, die een wat eerste in die water kom as dit opborrel, sal gesond word: blindes, kreupeles en lammes.
Gadalja lê al baie jare en wag dat dit met hom moet gebeur. Aan die begin het hy gedurig die water dopgehou op ’n teken dat daar ’n roering kom en dan so vinnig as wat hy kon, na die water aangesukkel. Maar hy was nooit vinnig genoeg nie. Ander het hom telkens voorgespring. Later het hy nie eers meer probeer nie. Hy kan nie self gou genoeg by die water kom nie oor sy verlamming, en hy het ook niemand wat hom vinnig die water in kan help nie. Hy is al agt en dertig jaar lank siek en vir die grootste deel daarvan het hy die gestremdes by die bad gesien kom en gaan; hy lê al langer as almal daar, nie meer in die hoop om gesond te word nie, maar omdat hy daar darem iets te ete kry by die mense wat die tempel besoek. Die winters is die ergste, want dan is dit nat en koud en word hy nooit behoorlik warm nie. Gelukkig is dit nou lente, en begin die dae warmer word.
Toe kom daar ’n man aan. Dis ’n sabbatdag, weet hy, want op die sabbat is daar altyd baie meer mense by die tempel. Gadalja sien Hom dadelik toe Hy en sy vriende by die bad inkom. Hy meen dit moet ’n rabbi en sy volgelinge wees. Dit lyk na ’n vriendelike man, want Hy loop nie soos die ander mense vinnig verby nie; Hy het soveel deernis in sy oë. Toe val die man se oog op hom waar hy daar lê. Hy stap by al die ander kreupeles en lammes verby en kom sowaar voor hom staan!
“Wil jy gesond word?” vra die man.
Gadalja glimlag wrang. Watter soort vraag is dit? Hy skud sy kop en antwoord: “Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit as die water in beweging kom nie; en terwyl ek aansukkel, gaan iemand anders voor my in.” Hy trek sy skouers op. “Nou lê ek maar hier.”
Toe sê die man ’n uiters vreemde ding: “Staan op, tel jou goed op en loop.” Net so sê die man vir hom. Hy kan sy ore nie glo nie!
Maar hy voel ’n tinteling in sy bene, en hy dink: ek kan dit net sowel probeer, ek kan tog niks verloor nie. En sowaar! Hy is gesond. Toe raap hy sy goed op en loop by die bad uit. Hy is so verskriklik bly dat hy dadelik daar weg is, sonder om eers die ander siekes te groet en sonder om vir die man dankie te sê. Want toe hy weer sien, is die man weg.
Toe hy by die badplek uitstap, keer ’n paar Fariseërs hom voor. “En waar dink jy miskien gaan jy met daardie goed?”
Gadalja is verbyster oor hulle vraag. “Ek gaan huis toe, Menere! Ek lê al agt en dertig jaar hier, en nou is ek gesond, en ek gaan huis toe.”
“Maar dit is ’n sabbatdag; jy mag nie jou goed vandag dra nie.”
Gadalja se mond hang oop. Al waaraan hy kan dink om te sê, is dat die man dit tog vir hom gesê het, en hy sê dit ook: “Maar die man wat my gesond gemaak het, het vir my gesê ek moet my goed optel en loop.”
“Wie is die man wat dit vir jou gesê het?”
“Ek weet nie,” antwoord Gadalja. “Toe ek vir hom wou dankie sê, was hy al klaar weg.”
Later kry Gadalja Hom in die tempel en storm op Hom af. “Baie dankie, Meneer! U is netnou so vinnig daar weg, ek kon nie eers dankie sê nie.”
Jesus sê vir hom: “Kyk, jy is nou gesond. Moet nou nie meer sonde doen nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.”
Nie lank daarna nie keer die Fariseërs vir Jesus en sy dissipels in een van die pilaargange van die tempel voor. “Wie gee jou die reg om ’n man op die heilige sabbat te genees, en hom dan boonop te beveel om sy goed te dra?”
Jesus kyk lank na hulle, sodat hulle later ongemaklik raak voor sy blik. Dan sê Hy: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.”
Dit lyk vir ’n oomblik of die Fariseërs gaan ontplof. Hulle is so ontsteld dat hulle nie ’n woord uitkry nie. Die man het nie net die sabbat ontheilig nie; hy het God sy eie Vader genoem en hom so met God gelyk gestel!
Dan praat Jesus verder: “Ek is nie gesteld op die eer wat mense bewys nie, maar Ek ken julle en Ek weet dat julle nie liefde vir God in julle het nie.”
Nou is hulle éérs verontwaardig. “Waar kom jy daaraan? Natuurlik het ons liefde vir God!”
Jesus skud sy kop. “Dan sou julle My aanvaar het, want Ek het in die Naam van my Vader gekom. As iemand anders in sy eie naam kom, sal julle hom aanvaar. Maar laat Ek julle vertel wat is julle probleem: Julle is te gesteld op julle eie eer en aansien. Dis hoekom julle nie in My kan glo nie, want julle dink net aan julleself.” Hy hou sy hand op toe hulle iets wil sê. “Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal aankla nie; dit is Moses, op wie julle julle hoop gevestig het, wat vir julle aankla.”
Toe kan hulle nie langer stilbly nie. “Moet jy liewer nie van Moses praat nie! Ons ken die wette van Moses op die punte van ons vingers, man!”
“Dis waar, maar die moeilikheid is dat julle niks daarvan verstaan of dit glo nie. As julle Moses geglo het, sou julle in My geglo het, want hy het van My geskrywe. Maar as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?”
Die Fariseërs het nie ’n antwoord nie, maar daar is haat in hulle oë toe hulle omdraai en stywerug wegstap. Hierdie Jesus moet dood, want hy doen en verkondig lynreg die teenoorgestelde van wat hulle glo.
VIR NADENKE
∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?
∙ Die probleem met die godsdiensleiers van Jesus se tyd is dat hulle nie buite die boksie kon dink nie. Vir hulle was húlle verstaan van die Bybel en God se wil reg, en klaar. Reg is reg en verkeerd is verkeerd. Jy dra nie jou bed op die sabbat nie, punt. So ’n houding laat nie ruimte vir deernis en omgee nie. Jesus het nie in hulle boksie ingepas nie, en dit kon hulle nie vat nie. Die vraag is: hoe dink jý oor godsdiens, oor reg en verkeerd, oor die Bybelse riglyne en ander mense? Is daar ruimte in jou gemoed dat God die boksie van jou geloofsverstaan kan oopbreek?
∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?
Views: 13





