Nog genesings
Lees Matteus 8:1-17
Aan die voet van die berg, voordat hulle die dorp ingaan, kom ’n man hulle tegemoet. Sy vel is skubberig wit, en hy skree: “Melaats! Melaats!”
Die skare mense deins verskrik terug. Melaatsheid is nie net ’n ongeneeslike siekte nie; dis ’n oordeel. As jy melaats is, mag jy nooit weer in die samelewing kom nie, want jy kan dalk iemand anders aansteek. Jy is afgesny van jou dierbares, afgesny van die sinagoge en die tempel. Oral waar jy gaan, moet jy dit waarsku dat jy melaats is, en as die mense vir jou kos gee, los hulle dit op ’n klip en gee dan pad so vinnig as wat hulle kan, voordat jy dit gaan haal.
Maar Jesus deins nie terug nie. Hy stap nader, en die man kom kniel voor Hom en sê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.”
En toe doen Jesus die ondenkbare. Hy steek sy hand uit en vryf oor die melaatse se kop!
Dis soos ’n vuur wat deur die man brand. Hy kyk na Jesus en sien die ontferming in sy oë.
“Ek wil. Word gesond!” sê Jesus.
Onmiddellik is die man se melaatsheid weg. Hy lig sy hande, nog enkele oomblikke tevore oortrek met wit skubbe, en nou is hulle sag en glad. Hy kyk verstom na sy bene, en vryf oor sy gesig, al hoe lank skurf en teer. Die letsels is weg. Hy is gesond! “Meester!” is al wat hy uitkry, sy oë blink van die trane. Hy gryp Jesus se voete vas en soen dit. “Ek kan weer huis toe gaan! Ek kan weer my vrou en my kinders sien. Prys die Here!”
Jesus trek die man op. “Jy moet dit vir niemand vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring die offer wat Moses voorgeskryf het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.”
Toe hulle die buitewyke van Kapernaum nader, kom ’n Romeinse offisier na hulle toe aangestap. Die mense kyk die man ontevrede aan, want hy verteenwoordig alles wat verkeerd is in die land. Die mense stap kop in die lug by hom verby en maak asof hy nie daar is nie. Hy het niks by hulle verloor nie.
Maar Jesus sien ook die offisier en stap na hom toe. Die man buig diep voor hom en sê: “Meneer, my slaaf lê by my huis verlam en verduur baie pyn.”
“Neem My na hom toe. Ek sal hom kom gesond maak.”
Die offisier buig weer en sê: “Meneer, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Sê maar net ’n woord, en my slaaf sal gesond word. Ek is ook ’n mens wat onder gesag staan en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir ’n ander: ‘Kom!’ en hy kom; en vir my slaaf: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.”
Jesus draai na sy dissipels toe en sê: “Het julle gehoor wat dié man sê? Dit verseker Ek julle: Ek het nog by niemand in Israel so ’n groot geloof teëgekom nie. Ek sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel. Maar mense vir wie die koninkryk bedoel is, sal in die diepste duisternis daarbuite gegooi word, waar hulle huil en op hulle tande sal kners.”
Toe draai Hy na die offisier en sê: “Gaan terug, en wat jy geglo het, sal gebeur.”
’n Glimlag sprei oor die man se gesig. “Dankie, Here!” sê hy en loop vinnig terug na sy huis.
“Nou kan ons uiteindelik gaan eet,” sê Jesus vir Simon, en hulle loop na sy huis. “Wat sal daar vir ons wees?”
“Vis natuurlik, Rabbi,” sê Simon skaam. “Dis maar al wat ek het: vis.”
“En dis ook genoeg,” sê Jesus.
Maar toe hulle die huis instap, weet hulle sommer daar is fout. Die siek reuk van koors hang in die lug. Simon se vrou kom vinnig by ’n binnevertrek uit. “Ma is verskriklik koorsig,” sê sy vir hom. “Ek weet nie meer wat om te doen nie. Ek het haar al probeer afspons, maar niks help nie. Sy gloei eintlik, so siek is sy.”
“Vat My na haar toe,” sê Jesus kalm.
Toe Hy by haar kom, vat Hy haar warm hand in Syne en trek haar regop. Sy glimlag vir Hom en staan op. “Julle is net betyds vir ete,” sê sy en gaan na die eetvertrek om die tafel reg te kry.
VIR NADENKE
∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?
∙ As Jesus se pad met mense kruis, gebeur daar iets. Niemand kan neutraal staan of ongeroer bly nie, so lyk dit. Mense kom tot geloof, word genees, of word verhard in hulle weiering om Jesus te erken. Wat gebeur met jou? Wanneer laas het Jesus jou pad gekruis? Of het jy Hom gaan opsoek?
∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?
Views: 18






