Die dogtertjie van Jaïrus

Lees Lukas 8:40-56

Toe hulle terugkom aan die ander kant van die see, wag ’n groot skare hulle in om Jesus te sien en te hoor. Heel voor staan Jaïrus, een van die raadslede van die sinagoge. Toe die skuite die strand nader, loop hy die branders in en help om die skuit waarin Jesus is, op die strand uit te trek. Toe val hy voor Jesus op sy knieë. “My dogtertjie lê op sterwe. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy gesond kan word,” soebat hy.

“Kom ons gaan dadelik,” sê Jesus.

Die mense maak plek dat hulle kan deurkom. Party hardloop vooruit na Jaïrus se huis toe, sodat Jesus van alle kante deur die mense omring is.

Miriam bevind haar onder die mense wat kort agter Jesus aan loop. Die afgelope twaalf jaar al sukkel sy met ’n intieme gesondheidsprobleem. Sy het al alles probeer, selfs die strafste kure wat die dokters voorgeskryf het. Van die een dokter na die ander het sy gegaan en alles wat sy gehad het, op hulle rate bestee, maar sy het geen genesing gevind nie. Inteendeel, haar toestand het vererger. Die pyne in haar lyf is byna ondraaglik en die aanhoudende bloeding tap haar kragte. Hierdie Rabbi is vandag haar laaste uitweg.

Sy druk tussen die mense deur om nader aan Jesus te kom. Sy wil nie die aandag op haarself vestig nie. Sy is tog net ’n armsalige, sieklike vrou, en Jesus is buitendien haastig. Daar lê ’n dogtertjie op sterwe, en as sy Hom nou ophou, kan dit dalk die kind se dood beteken. Sy sal net stilletjies aan sy klere raak; dit sal genoeg wees.

Uiteindelik is sy naby genoeg. Sy steek haar hand uit en raak aan die agterkant van Jesus se kleed. En – dit gebeur! Die vretende pyn in haar lyf is weg! Sy is gesond! Vir die eerste keer in twaalf jaar is sy weer rein! Sy sal weer ’n offer kan bring, met God kan praat, en haar man sal nie meer vir haar bang wees nie. “Dankie, Here,” prewel sy en probeer om weg te kom.

Maar toe gebeur daar ’n verskriklike ding. Rabbi Jesus gaan staan en draai om! “Wie het aan my klere geraak?” vra Hy, en kyk die mense agter Hom een vir een aan. Die mense om Hom kom ook tot stilstand en druk vir Miriam tussen hulle vas.

Sy krimp ineen. Daar is nie nou meer ’n kans om ongesiens weg te kom nie. Gelukkig kom Jesus se dissipels tot haar redding. “Maar, Rabbi,” sê hulle, “die mense druk die hele tyd van alle kante af teen U. Hoe kan U dan nou wil weet wie het aan U geraak?”

“Ek het gevoel daar gaan krag van My uit. Ek weet iemand wat siek was, het aan My geraak,” hou Jesus vol.

Miriam bewe nou so dat sy kwalik regop kan bly staan. Hoe langer sy wegkruip, hoe langer gaan sy die mense ophou, en hoe kwater gaan hulle vir haar wees. Sy tree vorentoe. “Dit was ek, Rabbi,” sê sy saggies en val op haar knieë voor Hom. Laat sy woede nou maar oor haar gaan. “Ek wou U nie pla nie, maar ek was twaalf jaar lank baie siek. Ek het aan bloedvloeiing gely; toe het ek stilletjies aan u klere geraak, en nou is ek gesond. Maak maar met my wat U wil.” Die woorde tuimel oor haar lippe, en sy wag gelate vir die woede wat sy weet gaan kom. Sy het haar aan hierdie belangrike Man opgedring en Hom daardeur ook onrein gemaak. Sy verdien niks anders as sy heilige toorn nie.

Dan voel sy ’n hand op haar skouer, en toe sy haar kop oplig, sit Jesus op sy hurke voor haar! En sy oë! Sy oë is vriendelik en warm. Hulle kyk in haar siel in en vat al die pyn en swaarkry weg, sodat sy lig en bly word.

“Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan gerus, jy is nou vir goed gesond,” sê Hy sag. Toe Hy met haar glimlag, is dit soos die son wat deur die wolke breek.

Terwyl Jesus nog met Miriam praat, kom daar mense van Jaïrus se huis af. Hulle bring slegte nuus: “U dogtertjie is klaar dood. U hoef nie meer die Rabbi saam te bring nie.”

Jaïrus word bleek. Dis alles verby. Verslae gaan sit hy in die straat en skeur sy klere. Toe voel hy Jesus se hand om sy pols sluit. “Moenie jou ontstel en jou klere skeur nie. Bly maar net glo!”

Jaïrus staan moeisaam op. Wat help dit om te glo as jou kind dood is? Sy kan tog nie weer begin asemhaal nie; almal weet dit. Dood is dood.

Toe hulle by sy huis kom, is die roubeklaers reeds daar. Hulle kerm en huil en skree in die lug op. Jesus laat sy dissipels buite by die ander mense wag; net Simon, Jakobus en Johannes gaan saam met Hom en Jaïrus by die huis in.

“Wat raas en huil julle so? Die kindjie is nie dood nie, sy slaap net,” sê Jesus vir die roubeklaers.

“Ja, en jy gaan haar natuurlik nou wakker maak!” spot hulle en lag Hom uit.

“Uit! Uit die huis, onmiddellik!” beveel Jesus hulle.

Net Jaïrus en sy vrou en die drie dissipels is by toe Jesus in die kamer kom waar die dogtertjie lê. Jesus vat haar hand en sê sag: “Dogtertjie, staan op!”

Jaïrus hou sy asem op. Die volgende oomblik maak sy kind haar oë oop! Die eerste wat sy sien, is Jesus se vriendelike gesig, en sy glimlag met Hom. Huiwerig swaai sy haar voete van die bed af en staan op. Toe hardloop sy na haar verstomde ma en gryp haar om die lyf. Jaïrus omhels haar en draai al in die rondte met haar in sy arms. “Pappa se meisiekind,” sê hy oor en oor en hy lag en huil gelyk.

Jesus glimlag. “Ek dink julle meisiekind is honger,” sê Hy. “Gee vir haar iets om te eet.”

VIR NADENKE

∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?

∙ Wat is die prentjie van Jesus wat jy in jou hart met jou saamdra? Want vandag se gedeelte laat mens nogal dink! ’n Siek, moedelose vrou; ’n sterwende dogtertjie – dís Jesus se agenda vir die dag. Dan het Hy mos tyd vir jou nood ook?

∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?

image_pdfimage_print

Views: 6

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.