Jesus en Johannes die Doper se vraag
Lees Matteus 11:2-19
Een oggend vroeg wag ’n groepie Jesus in. “Ons meester, Johannes die Doper, het ons na U toe gestuur.”
Jesus is dadelik stil. “En hoe gaan dit met my neef?”
“Hy is eensaam in Magaerus, Rabbi,” antwoord hulle. “Hy kry soms kans om met Herodes te praat, want die koning laat hom partykeer roep. Maar hy verlang na die wye ooptes, die woestyn en die rivier. Hy wil graag preek en die mense tot bekering roep.”
“Ja, ons pad loop soms anders as wat ons beplan het.”
“Ons meester kry swaar, Rabbi. Hy het gesê ons moet na U toe kom. Ons moet by U kom hoor: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?”
Jesus antwoord nie dadelik nie. “Bly vandag by My,” sê Hy, “en as julle môre teruggaan, sal julle julle antwoord hê.”
Daardie dag verloop soos al die vorige dae. Kort voor lank is daar ’n hele klomp mense saam met hulle op die pad, kinders ook. Van die kleiner kinders hardloop na Jesus, raak aan Hom en skarrel dan weer terug na hulle maats, gloeiend van opgewondenheid. Die meeste van die tyd laat Hy hulle begaan, maar af en toe reageer Hy. Hy gryp een van seuntjies en hou hom voor Hom in die lug, en later tel Hy weer ’n dogtertjie wat Hy gevang het, op en kielie haar in die nek met sy baard, sodat sy gil van plesier. Dan dreun Jesus se lag oor die skare, en die kinders se ouers straal van trots.
Hulle was nog nie lank op pad nie, of twee blindes begin agter hulle aan skreeu: “Help ons asseblief, Seun van Dawid!”
Toe Jesus omdraai, kom hulle na Hom toe, en Hy vra: “Glo julle dat Ek dit kan doen?”
“Ja, Here,” antwoord hulle Hom.
Toe raak Hy aan hulle oë en sê: “Wat julle glo, sal gebeur.”
Dadelik kan die twee sien en hardloop en spring vol vreugde daar weg.
’n Rukkie later bring die mense ’n man na Hom toe wat stom is omdat Hy in die mag van ’n duiwel is. Toe Jesus die duiwel uitgedryf het, begin die stom man praat. Die mense is verwonderd en begin om God te loof, maar die Fariseërs en skrifgeleerdes verklaar luidkeels: “Hy is van Beëlsebul besete! Dit is met die hulp van die aanvoerder van die duiwels dat hy die duiwels uitdryf.”
Jesus roep hulle nader. Sy oë blits gevaarlik toe Hy vra: “Hoe kan die Satan die Satan uitdryf? As ’n koninkryk in homself verdeeld is, kan dit mos nie bly staan nie; en as ’n huisgesin onderling verdeeld is, sal daardie huisgesin uitmekaar spat. As die Satan teen homself in opstand kom en verdeeld is, kan hy nie bly staan nie, maar is dit sy einde.
“Wie nie aan my kant is nie, is teen My; en wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.
“Luister nou mooi wat Ek vir julle sê: Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige lastertaal wat hulle praat. Maar die een wat teen die Heilige Gees laster, sal tot in ewigheid nie vergewe word nie. Hy bly ewig skuldig aan die sonde.”
Die volgende oggend roep Jesus Johannes se volgelinge nader en vra: “Wat het julle alles gister gesien en beleef?”
“Ons het gesien dat alles wat oor U vertel word, waar is, Rabbi. U doen wonderwerke, en U praat die woorde van God self.”
Jesus knik. “Gaan vertel vir my neef, julle leermeester, wat julle gehoor en gesien het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig.”
Net toe hulle wil loop, voeg Hy by, en die kommer is duidelik in sy stem: “Sê tog ook vir my neef: gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.”
“Wil jy nou glo, nè,” sê een van Fariseërs vermakerig toe die manne weg is. “Dat ou Johannes nou daar in die tronk aan die twyfel kon raak. En hy was dan altyd so seker van sy saak!”
Jesus draai na die mense toe. “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na ’n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word?”
“Nee, Rabbi,” antwoord een, “Johannes was ’n stoere man, onwrikbaar en beginselvas. Niks het hóm rondgewaai nie!”
“Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien?” dring Jesus aan. “’n Man met deftige klere aan?” Hy skud sy kop. “Nee, kyk, dié wat deftig aantrek, kry ’n mens in koninklike paleise. Johannes was maar net in ’n kameelhaarkleed geklee. Wat het julle dan uitgegaan om te sien? ’n Profeet? Ja, dit is hy, en nog meer as ’n profeet ook. Dit is van hom wat daar geskrywe staan:
Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit;
hy sal die pad vir jou regmaak.
“Dit kan julle maar weet: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat belangriker is as Johannes die Doper nie, en tog is die onbelangrikste persoon in die koninkryk van die hemel groter as hy. Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die koninkryk van die hemel vir homself ’n pad oop, en mense wat baie hard werk, kry dit in besit. Al die profete en die wet, en Johannes ook, het geprofeteer oor wat nou aan die gebeur is, en kom Ek sê dit sommer reguit: Johannes is die Elia wat sou kom. Wie ore het, moet luister.”
Jesus skud sy kop toe Hy sê: “Julle weet ook nie wat julle wil hê nie. Julle is soos kinders wat op die markpleine vir mekaar sit en roep:
Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie!
Ons het ’n treurlied gesing, en julle het nie gehuil nie!
“Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en julle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’ Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en julle sê: ‘Kyk daar, hy is ’n vraat en ’n dronklap, ’n vriend van tollenaars en sondaars.’
“Maar dit moet julle weet,” voeg Hy by en lig sy vinger waarskuwend op, “God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”
Toe draai Hy om en loop weg, ontsteld oor sy neef, en oor die mense.
VIR NADENKE
∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?
∙ Geloofsreuse kan ook twyfel. Dis wat met Johannes die Doper gebeur het. Hy was so seker van sy saak, maar dinge werk anders uit as wat hy gedink het, en nou wonder hy of hy dalk verkeerd was. Jesus was ’n baie anderster soort Messias as wat hy verwag het, en dit vreet aan hom. En jy? Hoe sterk staan jý in jou geloof? Veral in die tye dat dinge nié uitwerk soos jy gemeen het dit moet nie? Is Jesus dan nog genoeg?
∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?
Views: 12