Jesus by Simon die Fariseër
Lees Lukas 7:11-17, 36-50
Kort daarna vertrek Jesus en sy dissipels na die dorp Nain. Soos gewoonlik is daar weer ’n hele klomp mense wat saam met Hom gaan. Net toe hulle by die dorp aankom, kom daar ’n groot groep mense – feitlik al die inwoners van die dorp – in ’n stoet uit die dorp gestap. Van ver af kan hulle al die gehuil en gekerm van die roubeklaers hoor: dis ’n begrafnis.
Voor stap die vier draers met die baar, en net agter hulle ’n vrou met haar hand voor die mond. Sy kyk nie links of regs nie; haar oë is vasgenael op die lewelose figuur op die baar. Haar skouers ruk soos sy geluidloos huil.
Toe die groep by hulle verby is, vra Jesus vir een van die mense wat agter in die stoet loop: “Wie is dood?”
Die vrou se oë is dik gehuil. Sy antwoord Hom: “Dis Abija, Meneer. Hy is vanoggend skielik dood. Hy was besig om sy huis se dak reg te maak, toe sy voet gly. Hy het op sy kop geval.”
“Is dit sy ma daardie?” vra Jesus en beduie na die vrou wat net agter die baar loop.
“Ja, Meneer. Sy is ’n weduwee en Abija was haar enigste seun. Hy was baie goed vir haar,” antwoord die vrou en begin weer huil.
Jesus stap na die vrou toe en sit sy arm om haar skouers. “Moenie huil nie, Mevrou.”
Vir die eerste keer kyk die vrou op van die lewelose liggaam van haar seun. Haar oë is dood. “Sou jy nie ook gehuil het as dit jou enigste kind was nie?”
Toe stap Jesus na die baar en hou dit vas. Die draers gaan staan, maar vra nie waarom Jesus hulle stop nie. Die gesag in sy houding is vir hulle genoeg.
“Jongman, Ek sê vir jou, staan op!” sê Jesus toe.
Die man op die baar se oë gaan oop, en hy kyk verbaas na die klomp mense om hom. Dan swaai hy sy voete van die baar af en vra: “Wat maak al die mense hier om ons? En hoekom is almal se oë so dik gehuil? Is hier ’n begrafnis?”
“Abija!” gil sy ma en storm op hom af. “Jy lewe! Prys die Here, jy lewe weer!” En sy huil en lag deurmekaar.
***
Daardie dag bly hulle in Nain oor. Simon, ’n welgestelde Fariseër wat ook op die dorp woon, nooi hulle om by hom te kom eet.
Simon het ’n groot huis met ’n groot onthaalvertrek waar hulle almal vir die ete saam is. Kos en wyn is daar genoeg en dit is ’n aangename afwisseling vir die dissipels, wat gewoond is aan weinig meer as garsbrood en vis.
Weg van die tafel, al om die muur, is daar nog ’n ry sitplekke, en daar sit baie mense wat nie na die ete genooi is nie; gewone mense wat gekom het om na die gesprekke van die geëerde gaste te luister. Simon gee gereeld onthale, en ’n mens kan maar luister na die dinge wat hy en sy gaste te sê het. Hulle is mense wat in hoë kringe beweeg, en insig het in die Skrifte en die politiek.
Terwyl hulle eet, kom daar ’n vrou by die vertrek in. Simon kyk gesteurd op. Dis die prostituut wat laer af in die dorp haar sake doen. Hy het haar nog nooit by een van sy etes opgemerk nie. Dis nie die soort plek waar sy kom nie. Nie in sý huis nie!
Maar voor hy ’n opmerking oor haar kan maak, loop sy na Jesus toe. Sy kniel by sy voete waar Hy langs Simon aan tafel aanlê, en toe begin sy hartstogtelik te huil, totdat Jesus se voete later sopnat is van haar trane. Uiteindelik ruk sy haar reg, en sy droog Jesus se voete met haar hare af, en soen hulle.
Dit is nou tjoepstil in die huis. Almal hou die vrou dop. Sy haal ’n albaste flessie met reukolie uit en salf Jesus se voete.
Simon is hoogs ontsteld hieroor en brom in sy baard: “As hy ’n profeet was soos almal sê, sou hy tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ’n sondares is.”
Jesus het nog nie ’n woord oor die hele aangeleentheid gesê nie, maar nou draai Hy na Simon en sê bedaard: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.”
“Maar alte seker, Meneer,” nooi Simon Hom. “Dis tog hoekom U hier is, sodat ons kan gesels.”
“Twee mense was in die skuld by ’n geldskieter. Die een het vyf honderd silwermunte geskuld en die ander een vyftig. Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskeld. Wie van hulle sal die dankbaarste teenoor hom wees?”
Simon frons. Hy wil nie ’n gek van homself voor al die mense maak nie, maar hy kan ook nie juis ’n vangplek in die vraag sien nie. “Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskeld het,” antwoord hy dan versigtig.
“Jy is heeltemal reg,” sê Jesus tot Simon se groot verligting, maar dan draai Hy na die vrou toe en gaan voort: “Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom – en jy, wat het jy gedoen? Jy het nie eens die ordentlikheid gehad om water vir my te gee dat Ek my stowwerige voete voor die ete kan was nie. Maar hierdie vrou het my voete vir my gewas met haar eie trane en hulle met haar hare afgedroog. Jy het my nie met ’n soen ontvang soos wat ’n gasheer met sy gaste maak nie, maar sy het vandat sy hier ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. Jy het nie my kop met olie gesalf nie, maar sy het my voete met reukolie gesalf.”
Jesus kyk na Simon en sê: “Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.”
Toe draai Jesus weer na die vrou. Hy glimlag met haar en sê: “Jou sondes is vergewe.”
Simon se gesig het rooi geword terwyl Jesus hom oor die vingers getik het, en hy sê nie ’n woord nie. Maar van sy vriende wat saam met hulle aan tafel is, is ontsteld. “Wie is hierdie man dat hy hom die reg aanmatig om selfs sondes te vergewe?”
Jesus steur Hom nie daaraan nie, en sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”
VIR NADENKE
∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?
∙ Twee van die drie mense wat in vandag se gedeelte Jesus se pad kruis, is oorstelp en diep geraak. Die ander een meen hy het die reg om Jesus te kritiseer. Dit gebeur al meer vandag dat mense ongeraak Jesus se verhaal aanhoor en dan met hulle lewe voortgaan. Hoe reageer jy?
∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?
Views: 7