Die eerste vermeerdering van die brood; Jesus loop op die see
Lees Johannes 6:1-21
Toe Johannes se dissipels in rouklere na Jesus toe aankom, weet Hy sommer sy neef is dood. Die nuus tref Hom hard. “Ag, my neef, hoe wens Ek dit kon anders wees!” sê Hy en draai weg van die mense voor Hom. Maar agter Hom is daar net so baie. Oral is daar mense wat op sy tyd en aandag aanspraak maak. Daar is nêrens ’n plekkie om stil te wees en te treur nie.
Jesus sê toe vir sy dissipels: “Kom julle alleen saam met My na ’n stil plek toe, sodat ons ’n bietjie kan rus. Ek wil graag alleen wees.”
Hulle gaan toe met Simon se skuit na ’n stil plek, maar die mense het hulle sien vertrek, en te voet om die see geloop. Toe Jesus en sy dissipels aan die ander kant van die see kom, wag die mense hulle daar in.
Jesus kry die mense innig jammer. Hulle is verlore en weerloos, soekend. En daar is so baie siekes wat op genesing hoop. Tot laat die middag bly Hy besig om die siekes onder hulle gesond te maak.
Toe dit aand begin word, sê sy dissipels vir Hom: “Rabbi, dit is ’n afgeleë plek en dit is al laat. Stuur die mense terug dat hulle vir hulle in die dorpe kan gaan kos koop.”
“Ons kan hulle darem nie honger wegstuur nie,” antwoord Jesus. “Gee julle vir hulle kos.”
Filippus kyk na al die mense om hulle en skud sy kop. “Nee, Rabbi, dis onmoontlik. Hier is maklik vyf duisend mans, en dan praat ek nie eens van die vrouens en kinders nie. Twee honderd mense se dagloon is nie genoeg om elkeen van hulle ’n stukkie brood te laat kry nie.”
’n Seun van so tien jaar oud staan naby hulle en hoor wat Jesus vra. Hy kom skamerig nader en druk die kospakkie wat sy ma vir hom ingepak het in Andreas se hande. “Julle kan my kos kry as julle wil,” sê hy.
Andreas stap met die seun aan die hand na Jesus toe. “Hierdie seuntjie het vir ons vyf garsbrode en twee vissies,” sê hy. “Maar dis nie eens genoeg vir ons paar dissipels nie.”
Jesus buk af. “A! Iemand met ’n praktiese geloof. Wat is jou naam?”
Die seun se ore word rooi. Die groot Leermeester praat met hom! “A … Aäron, Rabbi,” stotter hy oorstelp.
“Baie dankie, Aäron,” sê Jesus en vryf die seun se hare deurmekaar. “Jy help My baie. Jou brood en vis is net wat Ek nodig het.”
Toe Aäron omdraai om weer by sy maats te gaan aansluit, keer Jesus hom. “Ek wil hê jy moet vandag saam met My eet. Sal jy?”
Aäron kry nie ’n woord uit nie, maar hy glimlag van oor tot oor en knik.
“Laat die mense op die gras gaan sit,” sê Jesus vir sy dissipels.
Toe almal sit, neem Hy die brood en vissies in sy hande, lig dit op na die hemel en bid: “Ons Vader, ons dank U vir die gawe van brood en vis waarmee U ons voed. Ons prys U daarvoor!”
Toe begin Hy om die brood te breek en dit vir sy dissipels te gee om uit te deel, en daarna die vis. Hy breek en deel uit, breek en deel uit, en die brood en vis in sy hande word nie minder nie! Elkeen op die berg kry soveel om te eet as wat hulle wil hê, en meer.
“Dis lekker brood hierdie, Aäron,” sê Jesus terwyl hulle eet. “Sê vir jou ma sy is ’n bobaas bakster.”
“Ek het haar gehelp om die deeg te knie,” sê hy trots.
Toe almal klaar geëet het, sê Jesus: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.”
Hulle maak dit toe bymekaar: twaalf mandjies vol.
’n Ruising trek deur die skare mense. “Hy is die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom,” sê hulle vir mekaar.
“Hy is ons Koning! Hy is ons Koning!” begin die skare dreunsing en kom nader om Jesus koning te maak.
“Gaan met die skuit oorkant toe, na Betsaida toe. Ek sal later by julle aansluit,” sê Jesus vir sy dissipels. Toe stap Hy die berg op om te gaan bid.
Dit word later donker, en Jesus is steeds nie terug nie. Die dissipels sukkel om die boot op koers te hou. Die wind waai reg van voor en die golwe teister hulle; dit rys groot en onheilspellend op die swart water. Eers met dagbreek die volgende oggend kom Jesus op die see na hulle toe aangeloop.
Natanael is die eerste wat iets gewaar. “Kyk daar!” skreeu hy en beduie wild. “Dis ’n spook!”
Toe sien almal dit, en hulle hou vreesbevange aan mekaar vas.
Maar Jesus roep oor die water: “Moenie bang wees nie, dit is Ek.”
Simon staan op. Hy het van die begin af gesê hy sal Jesus volg waar Hy ook al gaan, en vandag is die dag dat hy dit letterlik gaan doen. “Here,” roep hy, “as dit regtig U is, gee my dan die mag om op die water na U toe te kom.”
“Kom!”
Toe klim Simon uit die skuit en begin op die water loop. Die wind loei om hom, maar hy het net oë vir sy Meester voor hom op die water. Toe hy egter naby Jesus is, raak hy weer bewus van die sterk wind en die woeste golwe om hulle. Hy begin sink en roep benoud: “Here, red my!”
Jesus gee ’n tree vorentoe, gryp hom vas en sê: “Kleingelowige, hoekom het jy begin twyfel?”
Toe hulle in die skuit klim, gaan die wind lê. Een vir een kom kniel die manne in die skuit voor Jesus en bely: “U is waarlik die Seun van God.”
Hulle is nog ’n entjie van die land af, toe begin Jesus glimlag. Sy glimlag word al breër en breër. Toe begin Hy proes, en uiteindelik bars Hy uit van die lag. Hy lag só dat Hy later van die bankie afval. Elke keer as Hy net wil bedaar, kyk Hy na Simon se kant toe, en dan begin Hy weer van voor af lag, dat die trane later oor sy wange loop.
Simon is nou al erg ongemaklik, en die ander se glimlagte laat hom nie beter voel nie. Uiteindelik skraap hy die moed bymekaar en vra: “Hoekom lag U vir my?”
Jesus vee die trane uit sy oë. “Ek lag nie vir jou nie. Dit is skielik net baie snaaks vir My. Ek het gesê jou naam moet Petrus wees, maar Ek het darem nie gedink dis omdat jy soos ’n groot rots kan sink nie!” Toe bars Hy weer uit van die lag, en hierdie keer lag Petrus saam.
VIR NADENKE
∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?
∙ Jesus gee om vir mense; selfs die feit dat hulle sonder kos op ’n afgeleë plek is, ontgaan Hom nie. Hy het deernis met ander. Volg jy Hom hierin? En hoe lyk jou deernis prakties?
∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?
Views: 15