Die belydenis van Petrus en hoe Jesus gevolg moet word
Lees Matteus 16:13-28
Toe hulle aan die oorkant kom, is hulle die eerste keer in weke nie deur ’n horde mense omring nie. Jesus gebruik die tyd om dieper met sy dissipels oor sy taak op aarde te praat. Hulle trek al verder noord, tot in die gebied van Sesarea-Filippi.
Hoe verder hulle gaan, hoe stiller word Jesus. Vir lang tye verdwyn Hy net, en as die dissipels Hom soek, kry hulle Hom waar Hy iewers besig is om te bid. Dis duidelik dat Hy aan die worstel is oor ’n saak.
Hy lei hulle na die rotsagtige Hermonberg digby die stad Panias. Diep skeure sny die berg in stukke op. In een van dié diep klowe is ’n grot wat aan die bosgod Pan gewy is. In die steil rotshange by die grot is talle nisse uitgekap, en hierin is gewyde beeldjies van pragtige nimfgodinne. Hulle stap in stilte deur die grot, voor die Panbeeld verby, en weer uit.
Later kan Johannes dit nie meer hou nie en vra: “Rabbi, hoekom het U ons hierheen gebring?”
“Ek het gehoor dis baie indrukwekkend, toe wou Ek kom kyk hoe dit lyk. En Ek het gedink julle sal dit ook wil sien. Wat dink julle daarvan?”
Simon, altyd gou om te praat, sê: “Dis nogal mooi, die berge met die diep klowe, en die grot met al die verskillende kleure stalagmiete en stalaktiete. Dis jammer die Grieke het die plek so opgemors met al hulle beelde.”
“Dit moes baie tyd en geld gekos het,” voeg Andreas by, “en dit vir sinnelose afgode.”
Jesus gaan sit op ’n klip in die kloof. “Mense is bereid om baie op te offer vir dit waarin hulle glo.”
“Maar van die begin af het mense hulle tyd en moeite en toewyding in die verkeerde rigting gestuur, agter nuttelose afgode aan,” sê Johannes treurig. “Ek kan nie verstaan hoekom mense nie op die regte pad kan bly nie. Hoekom maak hulle vir hulle afgode terwyl die lewende God daar is om elke dag vir ons te sorg?”
Almal se oë is op Jesus, want dis ’n vraag waaroor hulle ook wonder. “Dít is die vraag van die lewe, Johannes. Hoekom draai mense die rug vir God?”
“Dis alles Eva se skuld!” sê Simon met oortuiging. “Sy het alles in die paradys bederf. Nou sit ons met die probleme.”
“Maar ná Eva doen die mense dit nog steeds, Simon. Die vraag is: hoekom?”
“Is dit nie omdat hulle hulle eie ding wil doen nie, Rabbi? Omdat hulle in beheer wil wees van hulle eie lewe nie?” vra Jakobus.
Jesus glimlag. “Dit lyk My julle het tog iets geleer in ons tydjie saam. Dis presies die probleem. Mense wil self hulle lewe én die wêreld beheer. Daarom maak hulle afgode en aanbid nie die lewende God nie, want hulle kan God nie sien nie, maar afgode kan hulle sien, hulle kan hulle ronddra, hulle kan hulle manipuleer. Hulle kan self besluit hoe die gode moet wees en wat hulle moet dink en doen.”
“So, eintlik is die afgode maar net ’n manier om self god te wees in jou lewe?” sê-vra Andreas.
Jesus knik en beduie met sy arm na die kloof om hulle. “Hierdie kloof is vir my sprekend van alles wat verkeerd geloop het met die mense. God het alles in die wêreld mooi gemaak. Dan kom die mense en besmet dit met hulle walglikhede. In plaas daarvan dat die skoonheid van hierdie klowe en die grot hulle tot aanbidding voor God bring, skend hulle dit met hulle eie afskuwelikhede.”
“Ek dink die duiwel kry baie lekker as hy in hierdie kloof opstap,” sê Judas.
Jesus knik. “Jy is reg, Judas. Die duiwel is nog ’n faktor waaroor ons nie eens gepraat het nie. Hy sit ook nie stil nie; hy is gedurig besig om mense aan te hits om teen God in opstand te kom.” Jesus beduie na die nimfe in die rotswande. “Agter al dié beelde staan hy en grynslag, want uiteindelik dien die mens vir hóm as hulle voor die beelde buig.”
Ná ’n ruk sê Jesus: “Dis natuurlik nie net die mense wat voor afgode buig wat op die verkeerde pad is nie. Daar is mense wat glo dat hulle God dien, maar hulle het die godsdiens so gaan verdraai dat hulle ’n eie godsdiens ontwerp het.”
“Praat U nou van die Fariseërs?”
“Ja. Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs. Met hulle klomp wette en danige vroomheid is hulle op hulle eie manier besig om ongemerk beheer oor te neem oor wie en hoe God moet wees en moet optree. Hulle het nie meer ruimte in hulle godsdiens vir God self nie. Daarom het hulle ook nie vir My plek nie.”
Dit is lank stil onder die dissipels. Toe kyk Jesus op en vra: “Wie, sê die mense, is Ek?”
“Party sê Johannes die Doper, party sê Elia, party Jeremia of een van die profete,” antwoord hulle.
Jesus kyk hulle met sy helder oë aan; oë wat nou onseker lyk, soekend. “En julle? Wat dink julle? Wie, sê julle, is Ek?”
Simon staan op en kom voor Jesus staan. “U is die Messias, die Seun van die lewende God.”
’n Glimlag sprei oor Jesus se gesig. “Gelukkig is jy, Simon Barjona, want dit is nie ’n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.” Jesus bekyk hom op en af en knik. “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”
Die dissipels is doodstil. Hulle besef almal dat Jesus se vraag ’n soort toets was en dat hulle met Simon Petrus se antwoord die toets geslaag het.
“Julle moet vir niemand vertel wie Ek is nie,” sê Jesus.
“Maar hoekom nie, Rabbi?” Judas bal sy vuis. “Die mense smag dan so daarna dat die Messias moet kom om ons te verlos!”
“Die tyd is nog nie reg nie, Judas. Die mense is nog nie gereed om te verstaan wat Ek kom doen het nie.”
“Wat hét U dan kom doen?” vra Judas.
Jesus kyk lank na hom, sy gesig stil. “Ek het kom sterf.”
Die dissipels trek hulle asem geskok in, maar Jesus knik net en sê: “Julle het reg gehoor. Ek moet Jerusalem toe gaan. Daar sal Ek baie ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes. Ek het mos al vir julle gesê hulle het nie vir My plek in hulle geloofslewe nie. Hulle sal My doodmaak, maar Ek sal op die derde dag opgewek word.”
Toe hulle uit die kloof terugstap, loop Petrus doelbewus stadiger sodat hy en Jesus alleen kan wees. Toe die ander om ’n draai in die kloof verdwyn, gaan hy staan en vat Jesus aan die arm. “Ek hou niks van die praatjies oor doodgaan nie, Rabbi. Ek weet dis wat die mense in Jerusalem wil hê, maar U mag nie in hulle hand speel nie. Mag God dit verhoed! Dit sal beslis nie met U gebeur nie; nie as ék dit kan verhelp nie.”
Jesus ruk Hom los uit Petrus se greep en sê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”
Petrus gee nie so maklik bes nie. “Maar wat wil Ú hê?”
“Ek het nie gekom om mý wil te doen nie, maar my Vader s’n. Wat Hy wil, is my wil ook.”
“Selfs al kos dit U u lewe?”
Jesus glimlag treurig en skud sy kop. “Jy sal dit nie nou al verstaan nie, Petrus. Maar as hierdie dinge gebeur, sal jy verstaan.”
Hulle begin weer aanstap en kry die ander net om die draai, waar hulle gaan staan en wag het. Toe sê Jesus: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy beheer van sy eie lewe afgee, sy kruis dra en My volg, want wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. Wat help dit ’n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? Wat sal ’n mens kan gee in ruil vir sy lewe? Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam die heilige engele, en geklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.”
VIR NADENKE
∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?
∙ Ware vreugde, sê Jesus, lê nie daarin dat jy die wêreld moet verower en sukses en prestasies in ritse agter jou naam kan skryf nie. Dit lê in die verloor van jouself in Jesus, dat Hý jou lewenskoers bepaal, net soos Hy Homself in die Vader se plan verloor het en daarom gekom het om te kom sterf. Wat doen jy om jou lewe in Jesus te verloor?
∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?
Views: 26