Jesus leer die mense by die huttefees

Lees Johannes 7:10-44

Dit het herfs geword, en die Loofhuttefees was op hande. Jesus en sy dissipels gaan weer Jerusalem toe vir die geleentheid. Vir die duur van die fees gaan hulle in Betanië tuis, ’n gehuggie digby Jerusalem, by ou vriende van Jesus: twee susters, Marta en Maria, en hulle broer Lasarus.

Jesus het geweet dat die teenkanting teen Hom in Jerusalem aan die oplaai was daarom het Hy Hom aan die begin van die fees skaars gehou. Baie mense het Hom daar gesoek. Eers in die middel van die week lange fees gaan Jesus na die tempel toe. Hy gaan sit kruisbeen in een van die pilaargange rondom die tempelplein en begin die omstanders daar leer. Die mense hang aan sy lippe.

“Waar kom hy aan dié geleerdheid?” vra hulle vir mekaar. “Hy het dan g’n opleiding gehad nie!”

Toe sê Jesus vir hulle: “Wat Ek die mense leer, kom nie uit boeke nie, en Ek het dit ook nie uit my duim gesuig of by ander leermeesters gehoor nie. Dit kom van Hom wat My gestuur het. Ek baseer my leringe nie op dit wat ander rabbi’s leer nie. As iemand God se wil wil doen, sal hy weet of my leer van God is en of ek op my eie gesag praat. Hy wat uit sy eie praat, soek sy eie eer, maar Hy wat die eer soek van die Een wat Hom gestuur het, praat die waarheid en is geloofwaardig, en daar is niks oneerliks in Hom nie.”

“Ons kan goed sien jou kennis kom nie uit boeke nie,” sê een van die Fariseërs. “Jy daag die gesag van ons oorgelewerde leringe uit. Jy steur jou nie aan die wet van Moses nie, anders sou jy nooit ’n man op die sabbat gesond gemaak het nie. Moses verbied ons tog om op die sabbat te werk.”

“Julle hou self nie die wet van Moses nie. Hoekom wil julle My dan daaroor doodmaak?”

Teen dié tyd het ’n hele skare om Jesus en die Fariseër saamgedrom en hulle skree: “Jy is van die duiwel besete! Wie wil jou doodmaak?”

Maar Jesus bly kalm en sê: “Julle is almal ontsteld oor een ding wat Ek gedoen het. Omdat Moses die besnydenis vir julle gegee het – terloops, die besnydenis is baie ouer as Moses, dit begin al by Abraham – daarom besny julle julle seuns wetsgehoorsaam op die agste dag, al val dit ook op die sabbat. As iemand op ’n sabbatdag die besnydenis mag ontvang om nie die wet van Moses te verbreek nie, waarom is julle dan vir My kwaad omdat Ek op ’n sabbatdag iemand se hele liggaam gesond gemaak het?” Jesus skud sy kop, en wys met die vinger na die Fariseër. “Moenie op die oog af oordeel nie, ou broer. Oordeel regverdig.”

Intussen het die mense onder mekaar begin fluister: “Is dit nie die man wat hulle wil doodmaak nie? En hier praat hy nou in die openbaar, en hulle sê niks teen hom nie? Het die lede van die Joodse Raad miskien werklik tot die oortuiging gekom dat hy die Messias is?”

Ander het gesê: “Hy kan nie die Messias wees nie. Ons weet tog waar hierdie man vandaan kom; maar wanneer die Messias kom, sal niemand weet waar Hý vandaan kom nie.”

En nog ander het gesê: “Wanneer die Messias kom, sal Hy tog seker nie méér wondertekens doen as wat hierdie man gedoen het nie?”

Die hele Jerusalem was in rep en roep oor Jesus; elkeen het sy eie mening oor Hom gehad. Daarom wou die Fariseërs en die priesterhoofde Hom gevange neem. Hulle het net ’n geskikte geleentheid gesoek. Maar Jesus is weg na die Olyfberg toe, waar Hy gaan bid het.

Met dagbreek die volgende oggend is Jesus en sy dissipels weer by die tempel. ’n Groot groep priesters en Leviete staan by die oostelike tempelpoort, almal kaalvoet en met ’n wit linnekleed aan. Toe die eerste strale van die son verskyn, draai hulle die rug vir die son en kyk wes, en begin sing:

Ons voorvaders het hulle gesigte na die ooste gedraai;
hulle het die son aanbid en oos gekyk.
Maar ons, ons oë kyk na die weste, na die Here ons God.

Daarna loop hulle al singend in ’n statige prosessie uit die tempelgebied, af na die Gihonfontein aan die bokant van die Kedronvallei oos van die stad. In hulle hande hou hulle die tekens van die nuwe oes: mirte- en wilgertakke in die regterhand, en lemoene in die linkerhand.

Ek loof U, Here! God is my redder;
Ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie.
Die Here my God is my krag en my beskerming;
Hy is my redder.
Met blydskap sal julle water skep
uit die fonteine van redding.
Loof die Here, roep sy Naam aan,
maak sy dade onder die volke bekend
en verkondig dat sy Naam groot is.
Sing tot die eer van die Here, want Hy het groot dinge gedoen,
maak dit aan die hele wêreld bekend.
Jubel en juig, inwoners van Sion,
want groot is die Heilige van Israel
en Hy is by julle!

By die Gihonfontein vul die priester wie se diensbeurt dit is, ’n goue horing met water, en dan keer die hele prosessie weer terug na die tempel toe deur die Waterpoort. Hulle stap om die groot klipaltaar terwyl hulle die takke swaai en sing:

Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!
Red ons, o God, ons Verlosser,
maak ons bymekaar, red ons van die nasies,
dat ons u heilige Naam kan loof
en ons in u lof kan verheug.
Aan die Here die God van Israel kom die lof toe
van ewigheid tot ewigheid!

Terwyl hulle sing, klim die priester met die goue horing vol water die trappe van die altaar op en giet die water oor die altaarvuur uit.

Toe die daaglikse feesritueel verby is, gaan Jesus en sy dissipels weer na die tempelplein toe. Toe Jesus gaan sit, kom die hele volk na Hom toe sodat Hy hulle kan leer.

***

Uiteindelik breek die laaste dag, die groot dag van die fees aan. Die spanning in die stad is by breekpunt. Die Fariseërs is steeds op die uitkyk vir ’n geleentheid om Jesus te vang.

Jesus woon steeds al die verrigtinge van die fees by. Hy staan en kyk hoe die prosessie van die Gihonfontein af deur die Waterpoort inkom. Op hierdie laaste dag stap hulle nie net een keer om die altaar nie, maar sewe keer. Toe breek die hoogtepunt aan. Die priester klim met die trappe van die altaar op. Alle oë is op hom gerig, en stadig gooi hy die water uit die goue horing in die vuur. Die water sis, en ’n wolk stoom trek uit die altaar op.

Net toe staan Jesus vorentoe en roep hard uit: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.”

Al die aandag is nou op Hom. ’n Ruising trek deur die skare: “Hy is werklik die Profeet!” En ook: “Hy is die Messias.”

Maar party skud die kop en sê: “Die Messias kom tog nie uit Galilea nie? Die Skrif sê mos die Messias kom uit die nageslag van Dawid en uit Betlehem, die dorp waar Dawid gebore is.”

Eenkant, in die poort wat na die binnehof van die tempel lei, staan Kajafas, die hoëpriester, en sy skoonpa Annas, die voormalige hoëpriester, met ’n paar ander priesters en Fariseërs na die seremonie en kyk. Annas draai na sy skoonseun en sê: “Ek hou niks van hierdie Messias-beheptheid van die mense nie. Daardie Galileër maak sentimente onder die mense wakker wat ’n opstand kan ontketen, en dan het ons die Romeine op ons. Ons sal hom moet stilmaak voordat daar probleme kom.”

“Ek stem saam,” sê Kajafas en draai na die hoof van die tempelwag, wat ook daar staan. “Neem daardie nar in hegtenis en bring hom vir ons. Ons sal hom gou-gou regsien!”

Toe draai hy en sy skoonpa om en stap weg.

VIR NADENKE

∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?

∙ Dink vandag na oor die betekenis van Jesus se belofte dat strome lewende water uit jou binneste vloei as jy in Hom glo. Is hierdie lewende water genoeg om jou dors te les? En laat jy dit na ander ook vloei?

∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?

image_pdfimage_print

Views: 12

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.