Die goeie herder
Lees Johannes 10
Die volgende dag gaan Jesus weer tempel toe.
“As jy sien iemand gaan nie deur die hek in die skaapkraal in nie, maar klim van ’n ander kant af in, weet jy dis ’n dief en ’n skurk,” vertel Jesus vir die mense wat om Hom sit. “Die skape se herder sal dit nie doen nie. Hy gaan deur die hek in, en die hekwagter maak vir hom oop. Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit. Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape loop agter hom aan, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal nooit agter ’n vreemdeling aanloop nie, maar van hom af weghardloop, omdat hulle nie die stem van vreemdes ken nie.”
“Wat probeer U eintlik vir ons sê?” vra een van die omstanders. “Waarvan praat U?”
“Ek praat van die kudde van die Here God. Ek praat van julle.” Jesus kyk hulle in die oë en sê dan: “Ek is die ingang vir die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers, maar die skape het nie na hulle geluister nie. Ek is die ingang, en as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in- en uitgaan en weiding kry. ’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”
Die mense knik aandagtig; hulle begin die beeld begryp.
“Ek is die goeie herder,” vertel Jesus verder. “Die goeie herder gee sy lewe vir die skape. ’n Huurling sal dit nie doen nie, want hy is nie ’n ware herder nie, en dit is nie sy eie skape nie. As hy ’n wolf sien kom, los hy die skape net so en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar. Hy is ’n huurling en bekommer hom nie oor die skape nie.”
“Praat U nou van die Fariseërs en skrifgeleerdes?” vra iemand.
Jesus antwoord hom nie; Hy hou net sy vinger voor sy mond en knipoog vir die man. Dan praat Hy verder: “Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek gee my lewe vir die skape.”
“Gaan U dan sterf?” vra iemand ontsteld. “Gaan hulle U doodmaak?”
Jesus kyk lank na die man sonder om te antwoord. Daar is ’n hartseer uitdrukking in sy oë. Dan gaan Hy voort: “Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.”
Toe kom daar ’n beroering onder die mense. Party staan verontwaardig op en sê: “Dié man is van die duiwel besete, hy is mal! Hoe kan julle nog na sy stories luister?”
Maar ander sê: “Dit is nie die woorde van ’n besetene nie. ’n Duiwel kan tog nie blindes se oë genees nie?”
Die Fariseërs hou nie van die implikasies van Jesus se vertelling nie, maar kon nog nie konkrete getuienis vind om Hom vas te trek nie. Hulle drom toe om Hom saam en sê vir Hom: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Messias is, sê dit reguit vir ons.”
Jesus vou sy arms en sê: “Ek het dit al vir julle gesê, maar julle glo My nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, bewys wie Ek is. Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie. My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.”
Toe word hulle woedend en tel klippe op om Hom te stenig. “Nou het jy te ver gegaan!” skreeu hulle.
Jesus vra toe: “Op gesag van die Vader het Ek julle talle goeie dade laat sien. Oor watter een daarvan wil julle My stenig?”
“Dis nie oor ’n goeie daad dat ons jou wil stenig nie,” skreeu hulle, “maar oor godslastering, omdat jy, wat ’n gewone mens is, jou as God voordoen.”
Jesus staan op en sê: “Wel, as wat Ek doen die Vader ongelukkig maak, en Ek nie is wat Hy graag wil hê Ek moet wees nie, kan julle dit sê. Maar julle weet dit is nie so nie. As julle dink Ek praat onsin, kyk dan na wat Ek doen. Julle sal agterkom dat Ek presies doen wat die Vader in so ’n situasie sou doen.”
Toe loop Hy tussen hulle deur, by die tempelwagte verby en by die tempel uit, sonder dat hulle Hom gevange kan neem.
VIR NADENKE
∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?
∙ Jesus sê Hy het gekom dat ons die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Wat sien jy in jou gedagtes as jy hierdie woorde lees? Hoe lyk ’n lewe van oorvloed? Anders gestel: Hoe sal jou lewe lyk as jy deur God geseën word?
∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?
Views: 7