Die dood van Lasarus
Lees Johannes 11:1-44
Daardie jaar is die winter straf. Dit reën dae aaneen, en die koue kruip tot binne-in ’n mens se gebeente. Toe kom die sneeu en bedek Jerusalem met ’n wit kombers.
Dit sneeu nie by Bet-Abara nie, maar hulle kan die sneeubedekte pieke sien. En as die wind waai, sny hy dwarsdeur ’n mens. Die besoekers droog op, sodat Jesus meer tyd het om met sy dissipels te praat en hulle te leer.
Maar daar kom tog iemand by hulle aan. Toe hy by die vertrek inkom, herken Jesus hom dadelik as een van Maria en Marta se slawe. Hy bibber van die koue toe hy voor Jesus kom buig.
“Gee vir die man ’n bekertjie sop,” vra Jesus.
Eers toe die man klaar sy sop geëet en ’n bietjie ontdooi het, vra Jesus: “Bring jy nuus uit Betanië?”
Die slaaf knik. “Die Juffrouens het my gestuur, Meneer. Hulle sê ek moet vir u sê: ‘Here, hy vir wie U lief is, is siek.’ Dit is die boodskap wat ek moes bring.”
“Meneer Lasarus?”
Toe die slaaf knik, vra Jesus: “Wat makeer hom?”
“Dis die koue wat hom gevang het, Meneer. Hy het ’n slegte hoes gehad, maar hy wou nie inbly nie. Meneer weet hoe hy homself kan dryf. Toe reën hy nat, en hy kry koors. Die Juffrouens het al alles probeer, maar hulle kry nie die koors gebreek nie.” Die slaaf skud sy kop. “Ek weet nie, Meneer, maar dit lyk my nie meneer Lasarus gaan weer uit daardie bed opstaan nie. Hy lyk vir my baie sleg.”
“Sê vir die Juffrouens Ek kom sodra die tyd geleë is.”
Maar Jesus gaan nie dadelik nie. Hy wag nog twee dae. Eers op die derde dag sê Hy vir sy dissipels: “Kom ons gaan terug na Judea toe.”
“Maar Rabbi, toe ons laas daar was, wou hulle U stenig!” roep Natanael ontsteld uit. “U kan nie nou weer soontoe gaan nie.”
“Julle het self ook gehoor van ons vriend Lasarus se siekte. Ek kan nie die boodskap van sy susters ignoreer nie. Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.”
“Maar as hy slaap, is dit goed vir hom. Dan sal hy gesond word,” sê Petrus.
Jesus skud sy kop. “Nee, Petrus, dis nie wat Ek bedoel nie. Hy is klaar dood, en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.”
Tomas sug diep. “Nou ja, dan is dit seker sulke tyd,” sê hy vir die ander. “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterf.”
***
“As rabbi Jesus net hier was, het Lasarus nou nog geleef,” snik Maria die soveelste keer sedert Lasarus dood is. Sy en Marta en ’n hele paar vriende is in hulle huis. Baie mense het al gekom om hulle te troos.
“Ja, as Hy dadelik gekom het toe ons Hom laat roep het, kon dit nog betyds gewees het.” Marta knie die deeg vir die brood asof sy haar woede daarop wil uithaal.
“Dit sou in elk geval nie gehelp het nie, Marta. Lasarus was seker al klaar dood toe ou Nabas by Jesus uitgekom het. Dit was te laat. Ons het te lank gewag voor ons Hom laat weet het.”
Marta kyk op, haar oë blits vuur. “Moenie jy nou vir Hom kom verskoning maak nie! As Hy dadelik gekom het, was Lasarus nog net ’n dag of so dood. Dan kon rabbi Jesus hom nog opgewek het. Jy weet tog van die dogtertjie van daardie raadslid van die sinagoge – wat was sy naam nou weer?”
“Jaïrus,” sug Maria.
“Dis reg, Jaïrus. Jy weet tog van Jaïrus se dogtertjie. Sy was al dood toe Hy by haar gekom het, en dit het nie saak gemaak nie. Hy het haar nogtans opgewek. En die vrou van Nain se seun ook. Maar hulle was albei nog nie eens ’n dag dood nie. Dan is hulle gees nog by hulle. Maar Lasarus … dis nou al vier dae,” sê sy onnodig. Sy begin weer huil.
“Ja, ek wonder darem hoekom rabbi Jesus nie gekom het nie. Al was dit net om by ons te wees en ons by te staan by die begrafnis.”
“Hy het ons in die steek gelaat, dis wat!”
“Moenie so sê nie, Marta! Ons weet mos nie wat sy omstandighede is nie.”
“Daar maak jy al weer vir Hom verskoning! Ou Nabas het gesê hulle was by die huis toe hy daar aankom. Wat het Hom gekeer om saam met Nabas terug te kom?”
“Ek het gehoor die Fariseërs wou Hom laaskeer stenig toe Hy by die tempel was.”
“Ek het ook nie gesê Hy moet tempel toe gaan nie. Maar wat, ek sal nie verder daaroor praat nie, want jy bly net verskonings vir Hom uitdink. Maar die kern van die saak is: Hy was nie hier toe ons Hom nodig gehad het nie.”
Net toe kom ’n opgeskote seun by die deur ingebars. “Tannie Marta! Tannie Maria! Ek het rabbi Jesus gesien.”
“Waar?” vra Marta.
“Hier buitekant die dorp, by oom Lameg se dorsvloer. Hy is op pad hiernatoe.”
“Kom jy?” vra Marta vir haar suster, maar Maria bly net so sit. Sy sien nie kans om nou vir Jesus in die oë te kyk nie. Sy het Hom teenoor haar suster verdedig, maar diep binne-in is sy net so kwaad. Sy kan dit net nie oor haar hart kry om dit te sê nie.
Marta loop so vinnig as wat haar groot liggaam haar toelaat, maar haar voete voel soos lood. Sy kry hulle buitekant die dorp, net duskant die dorsvloer. Toe sy by Jesus kom, val sy Hom om die nek en begin huil.
Jesus hou haar lank vas en troos haar.
Uiteindelik kan Marta praat. “Rabbi,” sê sy, “as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie.” Sy bars weer in trane uit, en sê dan: “Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.”
Jesus tik haar op die rug. “Jou broer sal uit die dood opstaan.”
Marta se kop hang. Sy kyk nie na Jesus nie. “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan,” sê sy sag.
Toe vat Jesus haar aan die skouers en draai haar sodat sy na Hom móét kyk, in sy helder oë. “Ek is die opstanding en die lewe, Marta. Wie in My glo, sal lewe, al gaan hy dood; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit doodgaan nie. Glo jy dit?”
Dis of die lig uiteindelik in Marta se donker gemoed deurbreek. “Ja, Here, ek glo!” prewel sy. “U is die Messias, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”
Jesus vee haar trane met sy duime af en sê: “Gaan roep vir Maria.”
Marta stap met dieselfde pad terug waarlangs sy ’n paar minute gelede gekom het, maar hierdie keer is haar voete nie meer so swaar nie. Jesus het haar klaar getroos.
By die huis loop sy reguit na waar Maria koponderstebo sit. Sy kniel by haar en sê saggies: “Ons Leermeester is hier, en Hy
roep jou.”
Maria staan dadelik op, maar sy loop nie vinnig nie. Haar hart is te swaar en te seer. Sy wil nie nou vir Jesus sien nie, maar sy
kan tog nie die ontmoeting uitstel nie.
Sy kry Hom net daar waar Marta Hom gelos het, buite die dorp by die dorsvloer. Sy hardloop Hom nie tegemoet nie. Sy val nie
in sy arms nie. Sy gaan voor Hom staan, sy wil op Hom skree, haar woede oor haar broer uitgil, maar sy kan nie. Sy staan net
daar, en sak op haar knieë neer, skielik te swak om regop te bly. Sy groet Hom nie. “U was nie hier toe ons U nodig gehad het
nie.” Maar dit breek in haar en sy skreeu, terwyl sy haar hande saamwring: “Here, as U hier was, sou my broer nie dood gewees het nie!” Toe kom die trane. Dit ruk deur haar, diep smartkrete oor haar broer wat dood is, en haar Here wat haar in die steek gelaat het.
Jesus gaan langs haar op die grond sit en neem haar hande in syne. Dan vryf Hy oor haar hare en haar rug. Haar smart tref Hom diep in die hart sodat Hy ook bewoë word.
Om hulle staan Maria se vriende en huil. Jesus kyk na hulle en vra: “Waar het julle hom begrawe?”
“Kom saam, Rabbi,” antwoord hulle. “Ons sal vir U gaan wys.”
Toe hulle by die graf kom, is Maria éérs stukkend. “Nee! Dit kan nie waar wees nie,” huil sy weer en gryp vir Jesus vas.
“Dit is hier,” sê een van die vriende onnodig en beduie na die groot klip.
Jesus vat aan die klip waaragter sy vriend begrawe lê. Sy uitgestrekte vingers bewe, en toe raak Hy weer bewoë, sodat Hy vinnig wegdraai en vir Maria omhels.
Toe Hy bedaar het, sê Hy: “Rol die klip weg.”
“Nee, Rabbi,” sê Marta en gaan staan tussen Hom en die graf. “U kan hom nie nou sien nie. Dit is al die vierde dag. Dit sal vreeslik ruik.”
Jesus sit sy hand op haar skouer. “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die wonderlike almag van God sien nie?”
Toe druk Hy haar saggies opsy en sê weer: “Maak asseblief die graf oop.”
Toe die klip weggerol word, staan die mense instinktief terug. Maar Jesus kyk op hemel toe en bid: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.”
Nadat Hy gebid het, gee Jesus ’n tree vorentoe en roep hard in die graf in: “Lasarus, kom uit!”
’n Geskokte stilte hang oor die mense. Toe hoor hulle dit, ’n beweging in die graf! ’n Paar van hulle retireer nog ’n entjie.
En toe kom die oorledene uit, met die grafdoeke nog so om sy lyf, en sy kop met ’n kopdoek toegedraai.
Die mense is te verbyster om iets te doen, totdat Jesus met ’n vonkel in die oog vir Maria sê: “Help jou broer om uit dié klomp doeke te kom. Hy kan nie só huis toe gaan nie.”
VIR NADENKE
∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?
∙ Dink na oor die deernisvolle manier waarop Jesus met Marta en Maria werk. Is dit hoe jy Hom in jou eie lewe ervaar? In watter opsig was jy al teleurgesteld oor die manier waarop God op jou gebede gereageer het?
∙ Was daar al tye waarin God op ’n manier jou gebede beantwoord het wat jou geheel en al verstom het?
∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?
Views: 11