Jesus kondig die derde keer sy dood aan
Lees Lukas 18:31-34
Die winter het uiteindelik voor die naderende somer begin wyk. Die vyebome bot al, hulle blare soos groen babahandjies wat stadig oopvou. Dit is lente, die reën hou op en oral is daar tekens van nuwe lewe. Een van die dae is die gars ryp en die koring stoel ook al mooi. Die paasfees lê om die draai.
Reg oor die land maak pelgrims gereed vir die reis na Jerusalem. In Galilea maak Jesus se ma Maria ook klaar vir die fees, saam met haar seuns en skoonseuns en hulle gesinne. En anderkant die Jordaan, in Perea, maak Jesus Hom ook gereed vir die paasfees: sy laaste paasfees. Dis tyd.
Dis stil toe Jesus een aand aankondig dat hulle vir die paasfees Jerusalem toe gaan. Petrus byt op sy tande, maar sê niks. Netnou sê rabbi Jesus weer hy is Satan. Sy ore word weer warm by die herinnering aan daardie dag in die Hermonberg. Uiteindelik is dit Andreas wat verwoord hoe hulle almal voel toe hy vra: “Dink U dit is verstandig om nou Jerusalem toe te gaan? Ek is nie ’n profeet nie, maar dis ook nie nodig nie. Ek weet die Joodse Raad soek u bloed. Ek dink ons moet liewer hier bly, of teruggaan Galilea toe. Dis immers veiliger daar.”
“Ek stem saam met Andreas, Rabbi,” sê Filippus. Al die ander knik om te kenne te gee dat dit ook hulle mening is.
Jesus hou sy hande op. “Julle is reg. Die Joodse Raad ís op my spoor, maar dit is presies wat die profete lank terug al oor die Seun van die mens geskryf het. Dit gaan nou alles in vervulling. Hulle het tog gesê die Seun van die mens sal uitgelewer word aan die heidene; Hy sal bespot en beledig word; hulle sal op Hom spoeg, Hom gesel en Hom daarna doodmaak.”
“Maar hoekom gaan U dan as U weet waarop dit gaan uitloop?” vra Petrus moedeloos.
“Omdat dit God se plan is. Die Seun van die mens moet sterf aan die hand van die owerhede. En op die derde dag sal Hy uit die dood opstaan.”
Jesus sien die dissipels se verslae uitdrukking en sê: “Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie. Ek sal vir julle sê vir wie julle bang moet wees: vir Hom wat mag het om, ná die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hóm moet julle vrees.
“Hoeveel is ’n mossie werd? Vyf mossies kos twee sent, nie waar nie? Dis mos feitlik niks. En tog word nie een van hulle deur God vergeet nie. Julle is meer werd as baie mossies. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Daarom hoef julle nie bang te wees nie.”
Die dissipels verstaan niks hiervan nie, en dis met swaar harte dat hulle die pad na die fees aanpak. Hulle kan nie begryp hoekom hulle rabbi die laaste tyd so baie van die dood praat nie. En Hy is so gelate daaroor, asof Hy klaar aanvaar het dat Hy moet sterf.
Langs die pad is daar baie tyd vir praat, en hulle gesels baie onder mekaar oor die komende fees en Jesus se woorde. Dit hoef mos nie te wees soos Hy sê nie. Hy sê dis alles wat die profete gesê het, maar die profete het baie dinge gesê.
Uiteindelik is dit Judas Iskariot wat hulle oortuig dat Jesus nie die geheelbeeld sien nie. “Praat die profete dan nie van die Messias wat sal oorwin nie?” vra hy met vuur in sy stem. “Praat hulle nie van die Gesalfde wat op die troon van Dawid sal sit tot in ewigheid nie? Praat hulle nie van vreugde omdat die volk wat in die donker wandel, ’n lig gesien het nie? Het Jesus dan nie self gesê Hý is die lig vir die wêreld nie?” Judas raak hoe langer hoe meer opgewonde en oortuigend. “Hoe noem die profeet Jesaja Hom?” vra hy. “Ek sal julle sê hoe hy Hom noem: Wonderbare Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors! Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer!” Hy kyk triomfantlik na die ander. “Klink dit vir julle soos doodgaan? Is ek reg of nie?”
Die dissipels stem saam. Miskien is dit nie so erg soos Jesus sê nie. Die mense is tog gaande oor Hom. As hulle net die mense kan oortuig om Hom as die Messias te aanvaar, sal die Joodse Raad maar net genoeë daarmee móét neem, en dan is die saak gewonne. Dan sal rabbi Jesus uiteindelik die erkenning kry wat Hom toekom: Messias Jesus, gesalfde Koning van Israel!
By die groot drif deur die Jordaan sluit baie ander pelgrims by hulle aan, ook Jesus se ma Maria en haar suster en swaer Salome en Sebedeus. Toe hulle die pad na Jerigo vat, kom Salome en Jakobus en Johannes na Jesus en sê: “Rabbi, ons wil graag hê U moet vir ons doen wat ons U gaan vra.”
Jesus trek een wenkbrou op. “En wat is dit nogal?”
“Wanneer U as koning heers, laat ons dan langs U sit, die een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”
“Julle weet nie wat julle vra nie,” sê Jesus. “Kan julle die lyding verduur wat Ek moet verduur, of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word?”
Jesus skud sy kop. “Die lydensbeker wat Ek drink, sal julle drink, ja, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word. Maar om aan my regter- of my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie God dit gereed gemaak het.”
“Het julle gehoor wat die twee donderkoppe nou weer aangevang het?” vra Judas smalend. “Hulle wil aan rabbi Jesus se regter- en linkerhand sit as Hy eers koning is!”
“Ga! Hulle sal hulle wat verbeel. Wat van ons ander?” mor die ander dissipels verontwaardig.
Jesus gaan staan langs die pad en roep die twaalf nader. “Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring belangrik wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”
“Nie as ék dit kan help nie,” brom Judas sag.
VIR NADENKE
∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?
∙ Een van die groot redes hoekom mense sukkel om Jesus te aanvaar, is omdat Hy nie inpas in hulle verwagting van wat Hy moet doen nie. Daarom het Judas hom vir Jesus geërg, want Jesus se pad was nie een van glorie nie, maar van nederigheid. Hoe wil jý hê moet Jesus in jou lewe regeer?
∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?
Views: 8






