Die intog in Jerusalem

Lees Lukas 19:28-48

Hoe nader hulle aan die stad kom, hoe groter groei die opgewondenheid onder die dissipels. Die einde van hulle reis is in sig, maar ook die begin van ’n opwindende tyd. Jesus van Nasaret, die Messias, is by hulle.

Net buite Betfage op die Olyfberg gaan Jesus staan. Die stad lê gebaai in die lenteson voor hulle, manjifiek met die indrukwekkende tempel van Herodes wat bo alles uittroon.

En daar, met die stad voor Hom, die stad waarheen Hy vir die laaste keer kom, raak Jesus heeltemal bewoë, en Hy roep uit: “Jerusalem, as jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor. Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie.”

Toe stuur Hy vir Filippus en Natanael vooruit om in Betfage ’n jong donkie te gaan leen sodat Hy daarop by die stad kan inry. Die dissipels kyk vir mekaar. Dis die kans waarop hulle gehoop het. Nou kan hulle vir almal wys wie die Messias is, die ware Koning van Israel. Het die profeet Sagaria dan nie presies dít voorspel nie?

Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe;
Hy is nederig en Hy ry op ’n donkie, op die vul van ’n pakdier.

Toe Filippus en Natanael met die donkie terugkom, trek Judas sy mantel uit en gooi dit oor die donkie vir ’n saal. Jakobus en Johannes help Jesus op die dier, en die ander dissipels volg Judas se voorbeeld. Hulle gooi hulle klere voor die donkie in die pad. Gou is die ander pelgrims by. Hulle pluk takkies van die bome af en strooi dit op die pad, en gooi ook hulle klere voor Jesus oop. Ander wuif met palmtakke voor Jesus uit.

Judas glimlag. Hy knipoog vir Petrus en roep uit volle bors: “Prys die Seun van Dawid!”

Sy woorde word gou die dreunsang van die hele groep pelgrims:

Prys die Seun van Dawid!
Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!
Prys Hom in die hoogste hemel!

So is hulle jubelend by die Olyfberg af en by die Oospoort in na Jerusalem. So ver Hy ry, jubel die pelgrims, sodat die hele stad later in beroering is.

Dié wat nie weet nie, vra en vind gou uit wie die opskudding veroorsaak: dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea! Die Messias is uiteindelik tuis.

Jesus ry net tot by die tempelpoort en gly dan van die donkie se rug af. Daar staan Hy lank en kyk na die miernes van bedrywighede wat op die tempelplein aan die gang is, maar Hy gaan nie in nie. Die gebulk van beeste en die geblêr van die kleinvee wat binne verkoop word, is dofweg bo die rumoer van die stad hoorbaar. Sy hande bewe liggies, maar Hy sê niks toe Hy omdraai nie.

Die stad bars uit sy nate. Bykans ’n honderd duisend pelgrims het reeds opgedaag, en in die volgende paar dae sal daar nóg dertig duisend aankom vir die grootste fees op die Joodse kalender: die Pasga, wat God se bevryding uit Egipte herdenk; die paasfees wat die begin van die volk Israel vier. Daar is pelgrims van oor die lengte en breedte van die land, en selfs van verafgeleë Joodse nedersettings soos Etiopië en Babel.

Dis al laatmiddag toe Jesus en sy dissipels uit die stad gaan. Hulle volg die pad oor die Olyfberg; dieselfde pad wat koning Dawid ’n duisend jaar vroeër ook huil-huil uitgeloop het toe hy uit die stad moes vlug vir sy seun Absalom. Net oor die kruin, aan die oostelike hang van die Olyfberg, lê Betanië, tuiste van Lasarus en sy susters Marta en Maria, waar Jesus-hulle tuisgaan.

Dié aand is Jesus stil. Na ete verskoon Hy Homself. Johannes gaan Hom later soek, en kry Hom waar Hy in die tuin agter die huis besig is om te bid.

Vroeg die volgende oggend val hulle weer in die pad stad toe. Die lentelug is koel en vars toe hulle oor die kruin van die Olyfberg na die stad afsak.

Geluide tipies van ’n basaar weerklink oor die tempelplein. Hier kibbel twee oor die prys van ’n bees, en ’n entjie verder skel ’n pelgrim luidrugtig omdat die priester wat sy Romeinse geld in tempelmunte moet omskakel, hom na sy mening ingeloop het. Dit lag en gesels, en die mense wat die kraampies beman, roep oor die plein na mekaar en vertel van hulle ondervindings die vorige aand. Tussendeur bulk die beeste en blêr die kleinvee.

Toe Petrus na Jesus kyk, skrik hy. Sy gesig is spierwit, sy oë op twee splete getrek, sy lippe ’n dun lyn soos Hy dit opmekaar pers. Hy loop na die naaste kraampie – dié van die duiweverkopers – en stamp die verkopers van hulle stoele af. “Uit! Uit die tempel!” skreeu Hy. Hy storm op die volgende stalletjie af, waar beeste verkoop word. Die beeste is met rieme aan ’n dik paal vasgemaak. Hy haal die rieme van die naaste twee bulle se nek af en maak dit los. Toe knoop Hy die rieme aanmekaar om ’n sweep te vorm, en daarmee dryf Hy die beeste oor die plein aan en by die Mooipoort uit.

Nog is Hy nie klaar nie. Hy ruk die hek van die skaap- en bokkrale oop en jaag dié diere ook uit. Verbaasde en woedende verkopers probeer Hom keer, maar een kyk na sy blitsende oë laat hulle gou retireer. Toe kom die geldwisselaars aan die beurt. Hy gryp hulle tafels en smyt dit om dat die geld die hele plein vol rol. Die wisselaars kruip op die grond rond om die geld bymekaar te maak en skel luidkeels. Die een wat dit waag om Hom teen te gaan, word ferm eenkant toe gedruk met die bevel: “Uit!”

Toe gaan staan Jesus in die middel van die tempelplein. Dit het doodstil geword. Die diere is weg, en die mense kyk Hom geskok aan. Jesus se bors dein op en af, en van die inspanning tap die sweet van sy voorkop af. Met die sweep omhoog sê Hy: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal ’n huis van gebed wees vir al die nasies.’ Maar julle maak dit ’n rowersnes.”

Sy woorde swiep soos die klap van ’n sweep oor die tempelplein. Niemand waag dit om te roer of ’n geluid te maak nie. Eers toe Hy na sy geliefkoosde plek in die pilaargang van Salomo stap, kom die mense in beweging. Maar niemand waag dit naby Hom nie; net die dissipels, en, na ’n ruk, ’n paar kreupeles en blindes wat daar gewag het op die groot Wonderwerker se verskyning.

’n Klompie kinders kom ook nader en kom by Hom sit, party selfs op sy skoot, om te sien hoe Hy die mense gesond maak. En elke keer as nog een genees word, roep hulle in ’n koor: “Prys die Seun van Dawid!”

Later kan die priesterhoofde en skrifgeleerdes dit nie meer uitstaan nie. Hulle stap verontwaardig nader. “Is dit nie genoeg dat jy die hele tempelplein omgekeer het nie? Nou moedig jy nog die kinders aan om aanmatigende dinge te skree. Hoor jy nie wat sê die kinders nie? Dis verregaande!”

Maar Jesus is nie in ’n bui om met hulle te redeneer nie. Hy staan op en sê: “Het julle nooit gelees dat daar geskryf staan nie: U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing?”

Oral op die tempelplein staan die skrifgeleerdes, priesterhoofde en Fariseërs in groepies en gesels, en hulle kyk kort-kort met haat in hulle oë na Hom. Maar Jesus steur Hom nie aan hulle nie. Hy loop by die Mooipoort uit, terug Betanië toe. Sy werk vir die dag is klaar.

 

VIR NADENKE

∙ Wat het jou getref by die lees van die gedeelte? Wat bly jou by?

∙ ’n Mens sien in hierdie gedeelte twee kante van Jesus: die een waar Hy op ’n donkie die stad inry en die mense se lof Hom laat welgeval; die ander een waar Hy met ’n sweep die tempel skoonmaak, bewend van woede. Met watter kant van Jesus identifiseer jy die meeste? Hoekom, dink jy, is dit so?

∙ Wat wil jy vir God sê na aanleiding van vandag se gedeelte?

image_pdfimage_print

Views: 11

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.